’n Groot avontuur
Aggie neem ’n yslike sprong in entrepreneurskap.
Nadat sy vir langer as ’n dekade by die geleentheidskoördineringsmaatskappy Bruynwaves gewerk het, sê Aggie (Nobuhle Mahlasela) totsiens en neem ’n groot sprong in entrepreneurskap. Sy het tee gemaak by die koerant The Hillside Times en het daarna as ’n senior joernalis gewerk, toe gaan sy na Bruynwaves as ’n kreatiewe direkteur. “Maar dis nou haar tyd vir die kalklig,” sê Nobuhle. “Aggie is reeds jare lank in die geleentheidsbedryf. Nou beplan sy om haar eie geleentheidskoördineringsmaatskappy te stig, want sy ken die bedryf en is gemaklik daarmee. Dit was nog altyd haar geheime droom. Sy is geïnspireerd en gemotiveerd om daardie droom te volg,” sê Nobuhle. Maar dit gaan ten koste van iets gebeur . . .
TOTSIENS, BRUYNWAVES
Aggie het bande gevorm en het nie net belê in die groei van die maatskappy nie, maar ook in die lewe van die mense saam met wie sy by Bruynwaves gewerk het. “Dis nie maklik om weg te gaan nie. Maar sy sien uit daarna om haar eie besigheid te begin, ’n naam vir haarself te maak en ’n nalatenskap te skep waarop sy trots sal wees,” sê Nobuhle.
“Aggie voel terselfdertyd bly en hartseer. Dis soos om een van haar beste dele agter te laat, ’n plek wat haar afgerig het om die vrou vol vertroue te wees wat sy nou is. Maar nou is dit tyd om aan te beweeg,” beklemtoon Nobuhle.
VERRAAD EN KONFLIK
Dis veral moeilik vir Aggie, want sy laat haar mentor en bestie, Vanessa (Ingrid Paulus Vraagom), agter. “Aggie se bedanking veroorsaak ’n kraak in hul verhouding. Hulle voel lojaal teenoor mekaar, maar nou kom dit tot ’n einde. En omdat Aggie se nuwe maatskappy regstreekse mededinging vir Bruynwaves gaan wees, is dit nie maklik om aan te beweeg nie,” verduidelik Nobuhle.
Om sake te vererger, is Aggie nie die een wat Vanessa vertel sy gaan weg nie. “Vanessa het ’n riemtelegram gehoor en sy voel nie lekker omdat Aggie haar nie eerste in haar vertroue geneem het nie,” sê Nobuhle.
Tjattas (Rickus Strauss) het aan Vanessa genoem Aggie beplan ’n feesgeleentheid,” sê Ingrid. Vanessa, wat niks van ’n feesviering op die Bruynwaves-kalendar weet nie, het haar kollega gekonfronteer en toe word dit duidelik. “Op dié punt voel Vanessa beslis verraai,” sê Ingrid.
OORGEHAAL VIR NUWE DINGE
Ondanks die konflik gaan Aggie niks en niemand toelaat om in die pad van haar drome te staan nie. Sy is oorgehaal om in haarself te delf en haar volle potensiaal te bereik,” sê Nobuhle. “Vriendskappe in Hillside het al erger uitdagings oorkom, dis dus ’n klein struikelblok dié, hoop ek,” voeg die aktrise by.