Die enigste uitweg
Simon sterf, Danni is gebroke en Siya kyk weer diep in die bottel . . .
“Só ’n versoek sal vir geen mens maklik wees nie, en jy vra eintlik vir iemand die onmoontlike,” sê die aktrise Vashti Prins oor haar kassie-pa, Simon (Elton Landrew), wat onlangs haar karakter Danni om genadedood gevra het. Simon ly aan motorneuronsiekte en sy liggaam is besig om vinnig agteruit te gaan. “Dit is vir Danni bitter moeilik om aan haar pa se versoek te voldoen, maar sy besef dit is regtig wat hy wil hê, want hy sou nie van haar verwag het om hom te help om sy lewe te beëindig as hy ’n ander keuse gehad het nie.” Maar net wanneer Danni die dodelike dosis vir Simon wil inspuit, keer iemand haar – en dit lei tot ’n reeks ander gevolge.
HOU MY NAAM HIERUIT
Danni gaan klop aan die sluwe Nazeem (Irvine van der Merwe) se deur op soek na medisyne wat haar pa sal help met sy genadedood-versoek. “As daar een mens in Ruiterbosch is wat Danni kan help om die dodelike medisyne in die hande te kry, is dit Nazeem. Sy smeek hom om hulp, maar Nazeem is versigtig om weer by ’n onderduimse transaksie betrokke te raak en sê vir Danni, omdat hy haar jammer kry, hy sal haar help met ’n kontakpersoon se inligting solank sy naam uit die hele gedoente bly,” verduidelik Vashti.
Met die bestelling geplaas, vat Danni Simon om vir ’n laaste keer vir Nannies (nie op die skerm nie), sy gestremde seun, te gaan kuier. “Die finaliteit van Simon se laaste tydjie hang swaar in die lug. Hulle het egter ’n wonderlike laaste dag saam en dit is vir Simon ongelooflik spesiaal,” sê Vashti.
KAN JY SAAMLEEF MET JOU DADE?
Die dag breek aan waarop Danni Simon wil help sterf, en met trane in haar oë tel Danni die spuitnaald op om Simon met die doodsmedisyne in te spuit. Maar dan bars haar verloofde Siya (Gantane Kusch) en vriend Wade (Dean John Smith) by die kamer in en keer haar voor sy daarmee kan voortgaan.
Die volgende dag probeer Siya aan Danni verduidelik waarom hy haar gekeer het. “Hy sê vir Danni indien sy dit sou deurvoer, sou sy nooit, ooit vergeet sy het haar pa gehelp om sy eie lewe te neem nie,” sê Gantane. “Daar gaan skuldgevoelens wees waarmee sy sal moet saamleef.”
Later daardie aand besoek Siya Simon by Mrs J. (Theresa Sedras) se huis waar hy woon, en Siya betrap Simon wat selfdood met die dosis medisyne probeer pleeg. “Siya se hart breek vir Simon,” sê Gantane. “As Siya hom nie help nie, gaan Danni dalk haar besluit verander en haar pa help. Simon is vasberade om ’n einde aan sy se lyding te maak, en Siya besef die skrif is aan die muur. Dit is beter as hy wat Siya is, hom help, want Simon gaan andersins net ’n ander plan probeer maak.”
SUS JOU GEWETE
Danni is verpletter wanneer sy die volgende dag hoor haar pa is dood. “Sy is hoogs ontsteld en probeer verstaan hoe dit moontlik is dat haar pa oornag gesterf het,” sê Vashti oor die vrae in Danni se kop.
Siya aan die ander kant sit met die Bybel oop voor hom en smeek die liewe Vader om vergifnis . . . Sy gewete knaag aan hom en dinge raak so erg dat hy weer na die bottel gryp soos in 2021 toe hy sy verkragter Denver (Marlon Swarts) doodgemaak het.
Siya bid om hulp en onttrek tot aan die verpligtinge by die kerk. “Siya se gewete pla hom te veel en niks kan hom in hierdie stadium beter laat voel nie,” sê Gantane. Uiteindelik sit Wade twee en twee bymekaar wanneer hy hoor Siya het die aand van Simon se dood vir hom gaan kuier, en hy konfronteer Siya daaroor – en half verlig dat iemand nou die waarheid weet, erken Siya sy aandeel in Simon se dood.
Wade stem in om stil te bly daaroor, maar nie lank daarna nie vertel Siya Danni tog die waarheid. “Sy is stomgeslaan,” sê Vashti. “Hoe kon Siya dit doen nadat hy haar die leviete voorgelees het?”
Danni kan nie sin daarvan maak nie, en soos die tyd aanstap begin sy wonder of sy nog vir Siya in haar lewe wil hê. Hy het haar probeer help, maar dis nou twee moorde op sy kerfstok . . . • Lees meer op bl. 43.