Ten Minute Kitchen
Seisoen 1 The Home Channel (*176) 18:00 Leefstyl
Indien jy soek na wenke vir die maak van smaaklike en voedsame maaltye met die minste moeite en bestanddele, moet die Australiese leefstylreeks Ten Minute Kitchen op jou kykspyskaart wees. In elke episode gee die vier aanbieders kookwenke wat maaltye binne 10 minute na die volgende vlak neem.
“Die resepte is eenvoudig met basiese bestanddele wat in die meeste spense te kry is,” sê die restaurateur en medeaanbieder Scott Pickett. Hy word bygestaan deur die bekende sjefs Mike Reid,
Kelvin Cheung en Diana Chan, wat seisoen 9 van die realiteitreeks MasterChef Australia in 2017 gewen het. Omdat die reeks tydens die Covid-19-inperking geskiet is, kook die sjefs in hul restaurant of huis. “Daar’s iets vir almal. Ons dek hoofmaaltye, snoephappies, slaaie, nageregte en drankies,” verduidelik Diana, en voeg by: “Die resepte is maklik en gesinsvriendelik – selfs die kleintjies met hul fiemies sal dit geniet.”
Die sjefs bied ’n verskeidenheid geregte aan wat geïnspireer is deur hul kulinêre agtergrond en opvoeding. Diana se geregte het byvoorbeeld ooreenkomste met haar tuisland, Maleisië, en ander Asiese lande wat sy oor die jare heen besoek het. Sy sê: “My ma hou van my Thai-hoenderkluitjies, dus weet ek hulle is goed.” Die klassiek opgeleide Mike van Engeland gee baie aandag aan die opdien van sy geregte – soos sy garnaalpasta wat hy met ’n mengeldrankie van komkommer, heuning en kruisement voorsit. “Van die geregte is ideaal wanneer vriende of familie onverwags opdaag of jy min tyd het om te kook, en dit smaak heerlik,” voeg Diana by.