FBI: International
Season 1 M-Net (*101) 20:30 Drama
Die VSA kry dreigemente uit al die uithoeke van die wêreld, dit maak dus sin dat hulle ’n soort gesags- en regsmag die wêreld oor het. Dis die FBI Fly Team in die splinterreeks van die dramareeks FBI: International, en dit was ’n leerkurwe, sê die hoofspeelster Heida Reed
– sy speel spesiale agent Jamie Kellett. “Ek het nie geweet die FBI het kantore in so baie lande nie. Ek het gedink om internasionale aanvalle teen ons land te keer was die werk van die CIA. Maar ons het soveel meer van die FBI geleer.”
Die reeks is ’n splinterreeks van die supervervaardiger Dick Wolf se oorspronklike reeks FBI (op M-Net om 19:30) en daar is kruisepisodes met hul ander program FBI: Most Wanted (op M-Net om 21:30), en dit maak dit pret vir die akteurs. “Dis wonderlik dat ons karakters hul eie storielyne het en dan span die magte saam,” sê Heida. “Ons (FBI: International) speel grotendeels af in Europa – ons hoofkantoor is in Boedapest. Maar het jy geweet die regte FBI het 63 attaché-kantore reg oor die wêreld?” Die werklike FBI-agente kan nie, soos in die reeks, mense in vreemde lande arresteer nie. “Hulle het een van twee goed nodig,” verduidelik Heida, en onthul: “Die agente het óf toestemming nodig van die land waar hulle is, óf daar moet spesiale goedkeuring wees van die kongres in die VSA, wat dan deur die regering om die FBI se ontwil gehanteer word.”
Dís feitlik ál verskil tussen die program en die regte wêreld, maar Heida erken om van die FBI-agente te leer, asook met hul handboek opgelei te word, was intimiderend. “Omdat dit internasionaal is, met baie reëls en wette wat gevolg word, is dit verstaanbaar.
Ons konsultante doen lukrake toetse. Hulle is FBI-agente en verwag ons moet al die wette ken,” vertel die aktrise.