Living By Design
Seisoen 1 The Home Channel (*176) 18:30 Leefstyl
Reekse oor huisopknapping is baie gewild en kanale soos The Home Channel (*176) is toegewyd om die beste leefstyl- en opknappingsreekse uit te saai. Elke reeks het sy eie unieke idee hoe om ’n huis te herskep, en in die splinternuwe leefstylreeks Living By Design span die twee sibbe Jazz en Jake Smollett saam om leef-, werk- en speelruimtes vir millenniërs te herskep.
“Dis nie jou gewone opknappingsprogram nie,” sê Jake. “Ons kliënte is uniek omdat hulle kunstenaars, skrywers en musikante is, en die ruimtes wat hulle beset, is dus kleiner as gewoonlik. Hulle werk ook van die huis af, en dan kom ons en herskep hul leef- en werkruimte sodat hulle deur ontwerp kan leef.”
Jazz beaam wat Jake sê en voeg by: “Ons betree hul ruimte en vind uit wie hulle is, waarvoor hulle lief is – jy weet, daardie dinge wat hulle uniek maak – en ons deel hul ruimte en herontwerp dit.” Ná die opknapping, bederf Jazz en Jake hul kliënte met ’n onthullingspartytjie, want soos Jazz sê: “Wanneer jy jou plek oordoen, wil almal skielik kom kuier en deel van die kliek wees. Die partytjie skep die geleentheid vir almal om te kom kyk en hulle nie later te pla nie.”
In die eerste seisoen help Jazz en Jake ’n kliënt (episode 1) wat pas na Los Angeles getrek het om ’n nuwe loopbaan te volg. Die ontwerpspan neem ’n ateljeewoonstel in Koreatown oor, met Jazz wat die ruimte herontwerp, en Jake wat ’n bedkopstuk bou wat die vaal kamer wonderlik opkikker.
En in episode 2 help hulle ’n enkelma om haar woonstel op te kikker sodat sy kan fokus op haar kind se aspirerende toneelspelloopbaan en repetisieruimte te skep.