Is dit ’n spook?
Beatrice val flou wanneer “David” by haar kantoor instap . . .
Die hoof van die Hoërskool Arendsvlei, Beatrice Cupido (Jolene Martin), dra nog die letsels van die diep waters waardeur sy al in haar lewe is – en nie alle trauma genees ooit volkome nie. Soos die dood van haar man, David (Oscar Petersen) in 2019. Tog was sy dood in ’n mate ’n verligting omdat hy haar emosioneel en fisiek mishandel het.
Beatrice het gedink sy het die afgelope paar jaar die gebeure verwerk en aanbeweeg, maar wanneer ’n man wat op ’n druppel net soos David lyk by haar opdaag, omvou ’n donkerte haar.
DIS GEKOMPLISEERD
Die storielyn begin wanneer die Hoërskool Arendsvlei se faktotum, Hein (Merlin Balie), Beatrice vra om ’n nutsman aan te stel omdat Hein nie by alles uitkom nie. Jeffrey (ook vertolk deur Oscar Petersen), ’n man met ’n gekompliseerde agtergrond, hoor daarvan en klop aan Beatrice se kantoordeur vir ’n onderhoud.
“Beatrice kan haar oë nie glo wanneer Hein Jeffrey aan haar wil voorstel nie, en voor sy nog haar hand kan uitsteek en groet, val sy flou,” sê Beatrice. “Jeffrey lyk soos David al is daar geen verbintenis tussen hulle nie – hul persoonlikhede verskil ook soos dag en nag. Dit freak almal uit, maar Beatrice dink die Here het hom op haar pad gestuur om vrede te maak met haar verlede.”
HIER KOM MOEILIKHEID
Intussen raak Aunty Gertie (Celeste Matthews), Beatrice se ma, bekommerd oor Jeffrey se skielike verskyning. “Sy kan nie die fisieke ooreenkomste tussen David en Jeffrey ontken nie,” sê Celeste. “So ook nie die indruk wat Jeffrey op Beatrice maak nie, en daarom dink sy dis glad nie ’n goeie idee om Jeffrey as nutsman aan te stel nie. Sy dink dit gaan net moeilikheid vir Beatrice veroorsaak.”
Aunty Gertie maak haar ongelukkigheid oor Jeffrey duidelik aan Beatrice, maar Beatrice wil niks hoor nie. “Beatrice dink Jeffrey is daar om haar vrae te beantwoord,” sê Jolene. “Beatrice mag dalk aanbeweeg het van David in die sin dat sy ander verhoudings kan aanknoop, maar sy besef nou met Jeffrey se verskyning sy dra nog ’n wrok in haar rond omdat David nooit jammer gesê het oor hoe hy haar behandel het nie. En sy glo sy gaan deur Jeffrey
closure kry.”
’N REISIGER
Beatrice begin al hoe meer tyd saam met Jeffrey deurbring en kry ’n blik op sy verlede. “Jeffrey het so ’n paar jaar terug uit ’n jarelange koma ontwaak. Die hospitaal het orals foto’s van hom geplaas met die hoop ’n familielid sal hom herken en kom claim, maar niemand het gekom nie,” sê Jolene. Jeffrey kan ook niks van sy familie onthou nie, dus reis hy nou rond en doen odd jobs waar hy kan om ’n inkomste te kry.”
GERTIE SÊ NEE
Wanneer Aunty Gertie besef hoeveel tyd Beatrice en Jeffery in mekaar se geselskap deurbring – teen haar uitdruklike wense – besluit sy om hulp in te roep.
“Sy reik uit na Clint (Clayton Evertson), ’n polisiespeurder en Beatrice se aan- en-af-kêrel, om Jeffrey te ondersoek,” sê Celeste.
Ons wonder wat Clint alles gaan uitsnuffel. Is Jeffery en David dalk tog familie, of is die ooreenkoms werklik net toevallig?