Tuis by die boere
Pietman Geldenhuys skuur skouers met die boere in die nuwe seisoen van Landbouweekliks.
Landbouweekliks
Seisoen 17 Dinsdae VIA (*147) 17:30
“Ek kon nie glo so iets het oor my pad gekom nie,” sê die TVpersoonlikheid, storieverteller en sanger Pietman Geldenhuys oor die dag toe sy agent hom bel om te sê hy is een van die drie nuwe aanbieders van Landbouweekliks (die akteurs Theodore Jantjies en Vicky Davis is die ander twee). “Ek het nog altyd in die landbou belanggestel en het self klasgedraf by ’n landbouskool in die
Boland,” sê Pietman. En nou kry hy die geleentheid om kennis te maak met ware boere en meer te leer oor die belangrikheid van die landbou vir die ekonomie.
’N SUKSESVOLLE PROGRAM
Om die mede-aanbieder te wees van ’n program wat reeds met 17 seisoene spog, is nie sommer niks nie. “Ek is dalk ’n groentjie wanneer dit by aanbieding kom, maar ek dink die reeks se sukses het grootliks te doen met hoe hard die produksiespan werk,” sê Pietman. “Hul waagmoed, passie en deursettingsvermoë is besonders en hulle laat dinge werk, kom wat wil.”
Pietman het al twee episodes verfilm: Een op ’n mangoplaas, Cape Mango by Clanwilliam (episode 4, 3 Mei uitgesaai), en een op ’n gemengde boerdery in Standerton (episode 8, 31 Mei). “Ek was verstom deur wat boer Bernie van den Heever verrig op die Cape Mango-plaas. Mango’s is my gunsteling-vrug en ek het so opgewonde geraak daaroor dat ek sommer my eie plaas wou begin, maar my vrou het die idee vinnig hokgeslaan,” skerts Pietman.
Die plaas by Standerton was vir hom ’n blits-leerskool oor boerdery. “Daar word met alles geboer, van sojabone en mielies tot beeste. Dis werklik fassinerend en my oë het weer oopgegaan vir die harde werk en toewyding wat elke boer in sy besigheid sit en die groot verskil wat boere aan die omgewing en ekonomie maak. Persoonlik voel dit vir my asof ek op ’n Disneyland-avontuur is elke keer wanneer ek op ’n ander plaas aankom om ’n episode te verfilm.”
STORIEMAN
Behalwe vir sy boerdery-avonture, is Pietman se ander groot passie om stories te vertel, soos hy doen in kykNET se reeks Oppiestoep, waar hy en sy medeaanbieder Lyntjie Jaars saam met bekende gaste kuier en grappige staaltjies vertel. “Die reeks lê my baie na aan die hart en ek kan bevestig ons werk reeds aan die sesde seisoen wat einde Mei verfilm word,” sê Pietman. ’n Bekende wat al op Oppiestoep gekuier het, is die ikoniese TV-aanbieder
Johan Stemmet van die musiekspeletjieprogram Noot Vir Noot. Maar wie is Pietman se gunsteling? “Dis moeilik om iemand uit te wys, maar ek het ’n sagte plekkie vir Andries
Vermeulen (wat seisoen 1-3 van Oppiestoep saam met Pietman aangebied het).” Andries werk tans in Pretoria as pastoor en was een van die spesiale gaste in seisoen 5 (tans op Showmax beskikbaar).
LIEDJIEMAN
Pietman is ’n sout-van- die-aarde-mens met ’n groot liefde vir die Karoo. “Ek en my gesin het vir ons ’n stukkie grond in die Karoo gekoop waar ons ’n vakansiehuis gebou het, en daar is niks lekkerder vir my as om in die Karoo te gaan stap saam met my vrou en honde nie. Die omgewing praat met my siel,” sê Pietman wie se nuutste enkelsnit, Mesmeraai, oor die Karoo gaan. “Spesifiek die Tankwa-karoo,” brei Pietman uit. “Dit behoort einde Junie op al die platforms vrygestel te word saam met vyf ander liedere ook oor die Karoo.”
‘Die Karoo praat met my siel’