United States Of Al
Seisoen 2 M-Net (*101) 19:00 Komedie
Post-traumatiese stresversteuring (PTSV) is ’n baie werklike toestand waarmee soldate wêreldwyd worstel te wyte aan die afskuwelikhede van oorlog wat op hulle afgedwing word. En dis ook ’n tema in die komediereeks United States Of Al, met Parker Young (Miles in die dramareeks A Million Little Things) as Riley, ’n mariniersveteraan van die VSA, en die Suid-Afrikaans gebore Adhir Kalyan (Timmy in die komediereeks Rules Of Engagement) as sy tolk Al. “Ons was versigtig om PTSV te behandel met die nodige respek wat dit verdien, want soldate gaan nie oorlog toe omdat hul lus het nie – dis hul plig,” sê Parker.
Die reeks se skeppers het die VSA se verenigings vir oorlogsveterane gekontak en gesels met ware mariniers wat aan PTSV ly – en dit was vir Parker ’n openbaring. “Wanneer jy aan PTSV dink, sien jy in jou gedagtes iemand wat skrik vir enige harde knal en dink hy’s terug in die oorlog. Maar dis meer gekompliseerd – en die toestand kry op soveel verskillende maniere gestalte.” Adhir voeg by: “Ons het goeie insig gekry van ware PTSV-oorlewendes wat jare ná hul tuiskoms steeds probleme het. Hulle sukkel om by die burgerlike lewe in te skakel weens hul PTSV wat meesal geïgnoreer word.”
Die karakters Riley en Al in die reeks ly albei aan die stresversteuring en kom in die volgende twee weke tot ’n belangrike besef: “Jy moet aanvaar jy is nie wel nie en het hulp nodig,” sê Adhir. “Dit is die eerste tree tot herstel en behandeling – jy moet jou eie situasie aanvaar indien jy met jou demone wil afreken. Jy kan nie rondsit en met jou duime speel en hoop dit gaan toweragtig verdwyn nie . . . want dis nie hoe dit werk nie. Jy moet hulp kry indien jy wil herstel en dis nie maklik om dit te aanvaar nie.”