People Magazine Investigates
Seisoen 6 ID (*171) 21:00 Realiteit
Die tydskrif People skryf nie net oor beroemdes se doen en late nie – dit bevat ook verhale van popkultuur en werklike tragedies. En die realiteitreeks People Magazine Investigates gaan ’n bietjie verder deur ondersoeke te heropen en misdade wat die hoofopskrifte in die VSA gehaal het, weer te ondersoek. “Ons wys nie vingers of gee voor om speurders te wees nie,” sê die vervaardiger en joernalis Jess Cagle. “Ons kyk na stories wat die land aan die gons gehad het, en vind meer daaroor uit. Die wie, wat, waar, waarom en hoe.”
Die produksiespan maak seker hulle is altyd bewus van die onderwerp en wat in die misdaad gebeur het om ’n gebalanseerde en billike verslag te gee. “Dis moeilik om met ’n gesin te praat oor wat en wie hulle verloor het. Soos die ma en dogter in episode 2 in hierdie seisoen. Een van hulle het ’n man doodgeskiet en beweer hy wou hulle aanval. Die vraag is wie het die wapen afgevuur en was daar ’n bymotief? Dis wat ons uitvind,” vertel Jess.
Die span gebruik privaat speurders wat aan sake gewerk het om die binnenuus te kry. “Ons stuur nie paparazzi uit om foto’s van moordslagoffers en misdaadtonele vir sensasie te kry nie. Ons volg die reëls en maak seker ons tree eties korrek op,” sê die vervaardiger. “Ons wil nie meer verdriet vir die betrokke families veroorsaak nie. Ons wil hul stories vertel, ’n stem gee aan die slagoffers wat hul lewe verloor het.”
Dit beteken nie alles verloop altyd volgens plan om ’n episode saam te stel nie. “Daar was gevalle waar weerhoudingsbevele vir seisoen 6 uitgereik is. Die gesinne het oorreageer, maar ons het besef die storie gaan nie gebeur nie,” sê Jess.