Sis en seil GESSSELS OOR SSSLANGE
Snakes In The City seisoen 8: Mbali Mtshali se wilde reis van slanghater tot slangredder.
Mbali Mtshali van die realiteitsprogram Snakes In The City, Woensdae op National Geographic (*182) om 18:00, het vir die eerste keer ’n slang gesien toe sy sowat ses jaar oud was. En haar ouma het haar gewaarsku: As jy in ’n slang se oë kyk, gaan jy sterf. “Ek dink ek was omtrent ses en het by my ouma gewoon. Dit was groot, groen, dun en langwerpig. Dit was dalk ’n groen waterslang,” sê Mbali. Maar dit maak nie saak of die slang giftig of ’n vriendelike goggavreter was nie. “My ouma was toe my beste vriend, en sy het my vertel slange is boos. Indien jy dink jy sien een, moenie oogkontak behou nie, want wanneer jy in die slang se oë kyk, gaan jy sterf. Hulle is ’n teken van toorkuns.” En ouma het “’n bron” gehad. “Dis selfs in die Bybel, want my ouma was my Sondagskool-onderwyseres. Alles wat sy my geleer het, moes ek in my kop bêre en elke keer aanteken,” onthou Mbali.
Nou is Mbali op ’n sending as ’n leerling in die span van die reeks Snakes In The City saam met die ander lede Simon Keys en Siouxsie Gillett, om ouma se onderrig ongedaan te maak en om nie net die slange reguit in die oë te kyk nie, maar op te tel en te red.
Wat onthou jy van die eerste keer toe jy ’n
slang gehanteer het? Ek het 20 geword, dit was 2012, en dit was by ’n diererehabilitasiesentrum waar ek vir die eerste keer vrywillig gewerk het. Ek onthou nie eintlik my eerste keer nie . . . ek moes dit twee keer doen! Die eerste keer was te kort. Ek was so bang ek het oormekaar gekyk. Ek het ’n tweede keer probeer, en dís toe dat ek besef het hulle is sag en glad. Om vir die eerste keer aan ’n slang te raak, het alles wat ek voorheen geleer is, weerspreek, want ek is aangesê om nie eens daaraan te raak nie, want hulle is koud, slymerig en grillerig.
Jy’t sedertdien baie ervaring met slange gehad, is jy al gebyt?
Baie keer. Ek is versigtig en ek besluit of ek bereid is om selfs ’n niegiftige slang te hanteer. As dit byvoorbeeld ’n luislang is, is daar dalk meer as een prik aan my vel. Hulle het korter tande, jy gaan dit nie so erg voel nie. Die laaste keer toe ek gebyt is, was verlede jaar. Vanjaar het ek reeds vier slange uit my bure se huise verwyder en ek is glad nie gebyt nie.
Hoe het jy by Snakes In The City betrokke geraak?
Ek het die geleentheid gekry om Snakes In The City aan te bied danksy
’n vriend wat ’n herpetoloog, ’n kenner van reptiele en amfibieë, is. Hy was die eerste mens wat sommige van my slanghanteringstoerusting gemaak het, en hy het my alles geleer wat ek oor slange weet. Sy naam is is Carl Schloms, die senior herpetoloog by die Suid-Afrikaanse Vereniging Vir Mariene Biologiese Navorsing (SAAMBR).
Wat was een van die belangrikste besprekings wat jy met die produksiespan van Snakes In The City gehad het?
Dis iets wat elke dag opduik: “Wees net jouself. Jy het ons ondersteuning, ons wil hê
mense moet lief wees vir jou vir wat ons in jou gesien het.” Selfs op my opdragdokumente staan ek moet my eie persoonlikheid laat deurskemer, ek moet dus nie skaam wees nie. Ek het omtrent nooit huis toe verlang nie. Hulle was soos my tweede familie.
Een ding waaraan ek dikwels herinner word, en wat ek waardeer, is:
“Mbali, moenie onder druk voel nie. Wanneer ons uitgeroep word en bevestig het watter soort slang dit is, moenie jou vingers indruk waar ky nie kan sien nie. En groot asseblief, maak seker jy kry eers toestemming voor jy aan ’n slang vat, want wanneer jy gebyt word, is dit die einde van verfilming vir daardie dag.” Jy moenie laat jou ego jou aandryf nie, byvoorbeeld: “Jislaaik, ek’s op TV. Ek moet wys ek kan dit doen!” Ek moes Siouxie en Simon vertrou dat hulle my toelaat om hulle dop te hou.
Wat was een van die fisiek uitdagendste posisies waarin jy was om slange in dié seisoen te hanteer?
Ek kan nie aan een dink nie, want ek is ’n fisieke persoon. Hurksit is my spel, dooiegewigoptel is my ding. Draai, spring . . . dis soos ’n onbeplande oefesessie. Ek kan nie eens een onthou wat moeilik was nie, maar Simon het die gewoonte om ons te laat hardloop. Ek wou nie daaraan dink om deur ’n swartmamba gebyt te word nie, maar daardie gedagte wou my nie verlaat wanneer Simon ons laat hardloop het nie!
Wat is jou gunsteling-brokkie kennis wat jy graag wil oordra?
Ek moes dit jare lank in my kop indril slange is banger vir ons as wat ons ooit vir hulle kan wees. Deur eenvoudig in hul ruimte te wees, voor jy kan opmerk daar is ’n slang iewers in die hoek of op die dak, is hulle reeds bang omdat jy in hul ruimte is. Jou werk is om hulle te beskerm, nie mishandel nie. En wanneer ek townships besoek, was dit gerusstellend om daardie een of twee feite oor te dra, en te sien mense verstaan daar is niks spesiaals aan jou wat gaan veroorsaak dat die slang nie gaan byt nie; hulle byt net wanneer hulle hulself moet verdedig, en wanneer hulle in ’n hoek vasgekeer voel.
Wanneer jy sê ’n slang is bang, hoe sien jy dit in die manier waarop dit beweeg?
Eerstens kyk dit rond: “Waarheen kan ek ontsnap?” Hulle sis of blaas byna
nooit nie wanneer jy nie te na aan hulle gekom het nie. In die meeste gevalle kan jy agterkom hulle het skrikkerig geword. Hulle wikkel hul koppe, want hulle kyk waar kan hulle ontsnap.
Sodra hulle hul tong beweeg, links en regs, stel hulle vas watter soort skepsel omsingel hulle, of is dit slegs een. En dis nóg ’n feit wat ek graag deel: Omdat hulle ’n gevurkte tong het, kan hulle hulle in vier verskillende rigtings ruik, die boonste deel, die onderste deel en die kante, dis wonderlik!
Herken hulle mense spesifiek of sien hulle ons as slegs ’n groot dier?
Ek wil al jare lank ’n slang as troeteldier aanhou, maar my ma wou dit nie toelaat nie, selfs nou! En ek is geleer selfs as jy een as ’n troeteldier aanhou, kan hulle jou nie identifiseer as Mbali, my oppasster of wat ookal nie. Maar hulle is bewus daarvan jy is ’n mens, vanweë jou reuk, en hulle maak soort van seker jy is nie verwant aan enige van hul prooi nie (kinders, moet dus nie jul troetelslang met die hand voer nie).