TV Plus (Afrikaans)

Geen kommunikas­ie

Tracy en Conrad leef by mekaar verby en sy raak keelvol.

-

Die Binneland-kliniek en sy personeel is die afgelope ruk deur hel met die Super ERprojek wat op die lange baan geskuif is, en die magtige At Koster (Hans Strydom), die voormalige hoof van die hospitaal, wat met sy magspeletj­ies begin het. Die huidige HUB van die hospitaal, dr. Annelize (Cindy Swanepoel) en dr. Conrad (Hykie Berg), ’n raadslid van die hospitaal, probeer alles in hul vermoë om Binneland in bedryf te hou ondanks die bedreiging wat At en Binneland se grootste mededinger, die Chiron-hospitaal, inhou. ’n Kontrak met ’n groot mynmaatska­ppy kan die antwoord op hul probleme wees, maar Annelize en Conrad moet die kontrak nog beklink, wat beteken hulle bring al hoe meer tyd saam deur, en gevolglik skeep Conrad sy meisie, Tracy (Melinda Viljoen), af en geleidelik leef hulle ál meer by mekaar verby.

TRACY SE AAND BEDERF

“Tracy en Conrad se verhouding is alles behalwe maanskyn en rose,” sê Melinda. “Maar daar is geen twyfel dat Tracy Conrad baie lief het nie, en een van haar grootste begeertes is om ten volle deel te wees van sy lewe en hom op alle vlakke te ondersteun.”

Daarom nooi sy die mynmagnaat se vrou Sharon Bas

son (Marissa Claasen), wat die skakelpers­oon is in die kontrak-onderhande­ling met Binneland, na die Koster-huis vir ’n deftige ete. “Tracy hoop sy sal Sharon beïndruk en so vir Conrad help om die kontrak te beklink,” voeg Melinda by.

Conrad is dankbaar vir Tracy wat die ete reël, maar Tracy is glad nie in haar noppies wanneer Annelize ook by die ete opdaag nie. “Tracy was onder die indruk dit gaan net sy en Conrad wees wat saam met Sharon kuier en die kontrak verder bespreek, nie Annelize ook nie,” sê Melinda. En so word Tracy die res van die aand geïgnoreer terwyl Sharon, Conrad en Annelize besigheid praat – al lei dit tog tot die onderteken­ing van die kontrak.

GEMENE KOMMENTAAR

Die volgende dag besoek Sharon Conrad en Annelize by die hospitaal. “Sy bedank ook vir Tracy in die verbygaan vir die ete die vorige aand en lewer terselfder­tyd kommentaar dat sy onder die indruk was Annelize en Conrad is ’n paartjie, nie Tracy en Conrad nie. En dit gee arme Tracy se selfvertou­e en onsekerhed­e ’n vuishou,” bieg Melinda.

Tracy probeer sterk staan ná Sharon se uitlating en laat nie blyk hoe dit haar ontstel nie. “Conrad is klaar onder soveel druk, sy wil nie dinge vir hom moeiliker maak nie,” sê Melinda. Maar omdat sy nie praat nie, raak die afstand tussen haar en Conrad al hoe groter. Tracy begin ook ál meer wonder wat presies in Conrad se lewe aangaan, en maak die verkeerde afleidings. “Soos hy verkies om meer tyd saam met Annelize deur te bring – nie net vanweë die kontrak nie, maar omdat Annelize nes hy ’n dokter is en hulle soveel meer gemeen het,” vertel Melinda van Tracy se vrese.

’N KONFRONTAS­IE

Dis nie lank voor die opgekropte emosies tussen die paartjie in ’n hewige argument ontaard nie. “Tracy kan nie meer haar gevoelens wegsteek nie, en Tracy maak dit duidelik aan Conrad sy weet nie wat sy nog moet doen om sy vertroue te wen nie. Hy is ook nooit meer by die huis nie, werk die hele tyd, en as hy nie werk nie, is hy by Annelize,” sê Melinda.

Boonop vertel Tracy ook vir Conrad van Sharon se aanname dat Conrad en Annelize saam is. Tracy sê dan sommer ook binnekort gaan sy wat Tracy is nie meer hard hoef te werk om Sharon of enigiemand te beïndruk nie, want dis seker nie meer lank voor Conrad Tracy gaan los vir iemand soos Annelize nie . . .

Conrad is geskok deur Tracy se uitlatings, maar besef later hy hét Tracy afgeskeep. Maar Conrad gaan sukkel om dinge weer beter te maak, want ná hul argument gryp Tracy haar handsak en maak spore. “Tracy kan ook net soveel vat,” is al wat Melinda verklap.

 ?? ?? Dinge is krapperig tussen Tracy (links) en Conrad (regs).
Dinge is krapperig tussen Tracy (links) en Conrad (regs).
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa