TV Plus (Afrikaans)

Nog lank nie koud

Die reisgogga het Mrs J. gebyt, tot Bridgette se ergernis.

-

Een ding wat Mrs J. (Theresa Sedras) verpes, is wanneer haar dogters ’n groot gedoente maak van iets wat eintlik niks met hulle te doen het nie en haar – Mrs J. – se eie besluit is. En dis presies wat gebeur wanneer haar oudste, Bridgette (Denise Newman), ’n bohaai opskop toe sy uitvind iemand het by Mrs J. se huis ingebreek. “Siya (Gantane Kush) het toevallig gesien daar is ’n inbraak terwyl hy sy rondes vir die buurtwag gedoen het,” vertel Theresa. “Mrs J. se agterdeur het wawyd oopgestaan, maar die huisligte was af. Siya het ingegaan en Mrs J. geroep wat uit haar slaapkamer gekom het. Mrs J. het vergeet om die deur te sluit en iemand het ingekom en nou sit sy sonder haar TV.”

Mrs J. is nie te omgekrap nie, maar Bridgette is hewig ontsteld en wil sommer hê Siya moet Mrs J. se lyfwag wees, maar Mrs J. wil niks daarvan weet nie. En as Bridgette gedink het haar ma is nou hardkoppig, wag tot die reisgogga Mrs. J. byt en sy ’n oorsese vakansie saam met ’n vriendin beplan.

ONKANT GEVANG

Lee-Ann (Portia Joel), Mrs J. se jongste dogter, vra haar ma of sy sal saamgaan as toesighoue­r wanneer haar stiefseun, Carlo (Jadon Booysen), op ’n koortoer na Hermanus gaan. Mrs J. is aanvanklik huiwerig, maar dis juis hierdie uitstappie wat iets in haar wakker maak.

“Sy het dit vreeslik geniet,” sê Theresa, en nou wil Mrs J. sommer ’n oorsese reis na Oostenryk saam met haar vriendin Duifie (nie op die skerm nie) aanpak. Bridgette is uit die veld geslaan wanneer sy van haar ma se planne hoor en wil dit dadelik in die kiem smoor. Maar Mrs J. laat haar nie voorskryf nie.

Bridgette bekla haar lot by haar vriend en werknemer Chris (Marcel van Heerden). “Bridgette dink haar ma dink nie logies oor wat ’n oorsese vakansie alles behels nie,” sê Denise. Chris dink egter Bridgette gee haar ma nie genoeg krediet gee nie. Sy is dalk al ’n ouer dame, maar sy is nog lank nie koud nie,” sê Denise. En dan kry Bridgette ’n blink plan: ’n gesinsvaka­nsie in Oostenryk.

’N FAMILIEVAK­ANSIE?

Intussen neem Mrs J. se opgewonden­heid oor haar en Duifie se reis net al hoe meer toe, maar haar moed sak wanneer Bridgette haar vertel al die Jacobse gaan sommer saam.

“Mrs J. voel Bridgette wil net saamgaan om ’n ogie oor haar te hou, en dit gaan haar net uitstres,” sê Theresa. Mrs J. verander vinnig haar planne en vertrek voor Bridgette nog “Wene” (Oostenryk se hoofstad) kan sê. Dit gaan Bridgette beslis nie gelate aanvaar nie!

VERLEDE KEER

Kaashifa is met borskanker gediagnose­er en het dit vir Rhafiek en die Samsodiens weggesteek, Elana en Ryno het koppe gestamp oor wat die beste is vir Maggie en haar toekoms, en Siya het Elana oor haar inmengery gekonfront­eer.

IN DIÉ UITGAWE

Die Du Plooy-huis sukkel om iemand se geheim te bewaar, Elana kry ’n onverwagte besoeker, en Wade en Angie vat kanse. Bridgette wil Siya opkommande­er, Justin en Wade probeer vrede maak, en die Samsodiens maak reg om Kaashifa tegemoet te kom. Wade en Justin het ’n hewige uitval oor hul maatskappy en veral oor Angie, Kaashifa probeer Rhafiek op ’n afstand hou, en Elana sukkel om aan te pas ná sy Maggie-hulle groet. Mrs J. gaan saam met die skoolkoor na Hermanus, Kaashifa is bang vir die uitdagings van die toekoms, en Carlo het ’n geheim.

Kaashifa maak reg vir ’n belangrike dag, Angie se optrede laat ’n wrang smaak in Wade se mond, en Kaashifa is gespanne oor wat voorlê. Angie por Wade aan om nie moed op te gee nie, Chris het ’n voorstel wat Bridgette se geesdrif prikkel, en Mrs J. is opgewonde oor haar oorsese vakansie. Wade se finansiële situasie raak ál meer desperaat en dit lei tot ’n lelike uitval tussen hom en Ty, die druk op Angie en Wade raak ondraaglik, en Kaashifa sien iets wat haar diep ontstel. Tim besluit oor sy toekoms, Bridgette sit haar voet dwars met haar ma, en Wade vind uit Ty wou dinge met hom kom regmaak. Kaashifa staan voor ’n paar uitdagings,

Mrs J. vind ’n derde opsie vir haar oorsese toer, en Wade is vasberade om sy verhouding met Angie te verbreek. Tim plaas druk op Bridgette vir ’n antwoord, maar sy sit hom op sy plek.

 ?? ?? Mrs J. (hooffoto links) laat Bridgette (inlas) mooi verstaan sy sal haar lewe lei soos sy goed dink.
Mrs J. (hooffoto links) laat Bridgette (inlas) mooi verstaan sy sal haar lewe lei soos sy goed dink.
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa