PRYSVERHOGING
Graag sal ek jul motivering vir jul hoë prys van boek wil hoor. Die boek is die prys nie werd nie. Myns insiens is die boek net om lesers omtrent programme in te lig. Met die wegdoen van e.tv is programme vir DStv-kykers nóg minder. Glo nie dit is veel werk en navorsing om boek saam te stel nie, kanale voer jul seker gretig daarmee. Die blokraaie en ander artikels net om boek darem lyf te gee. Maak jul klaar vir ’n groot daling in verkope teen daardie belaglike hoë prys. – CHRIS, PER SMS
Beste Chris. Ek het jou direk geantwoord, maar ek weet baie lesers wonder hieroor, dus ’n amptelike verduideliking oor die prysverhoging. Dit breek my hart elke keer wanneer ons ’n prysverhoging het. Ek besef die tydskrif is duur en glo my, ek wens dit was goedkoper. Met alles wat styg, moes ons die prys ook aanpas. Dink net aan die petrol wat dit nou kos om die tydskrifte op die rak te kry. Ek dink wel dis ’n wanindruk dat tvplus ’n maklike tydskrif is om saam te stel. Ek het in my loopbaan al by verskeie titels gewerk, en tvplus is een van die moeilikstes. Ons is ’n klein span wat ons storie ordentlik moet ken. Daar gaan ure se beplanning in elke storie. Ons doen navorsing oor akteurs voor onderhoude sodat ons goeie vrae kan vra. Boonop moet ons na die programme kyk om seker te maak ons vrae is reg. Soms vat dit my meer as ’n dag om net
voor te berei vir ’n onderhoud. En dan moet dit nog gedoen en geskryf word! Elke klein brokkie met kitsfeite oor ’n akteur is ure se navorsing. Daar is nie ’n kitsoplossing of kortpaaie nie. En ons moet werk met die inhoud wat beskikbaar is en die kanale wat die meeste van ons kykers het. Dis hoekom ons nie meer ruimte aan stroomdienste afstaan nie, want al is daar derduisende mense wat dit kyk, is dit nie ons hoofteikenmark nie. Dis ook nie waar dat kanale ons gretig met inligting voer nie. Ons moet ons eie huiswerk doen vir programme wat begin. Die meeste van die tyd is ons tydskrif al op die rak wanneer die kanale ons laat weet van ’n program wat begin. Dit lyk dalk asof ons twee weke het om aan ’n tydskrif te werk, maar dit werk ongelukkig nie so nie. Selfs van die inhoud wat ons vroeg probeer inkry, soos die fliekgids, het weer veranderinge teen die tyd wat ons drukkery toe gaan. Ons span is klein en werk bitter hard en ons grawe onsself in TV en programme in om kenners te wees en werklik gehalte-artikels te kan aanbied. Indien dit nie so in die tydskrif uitkom nie, doen ek my werk verkeerd! Dis ook nie asof ons salarisverhogings kry wanneer die prys opgaan nie. Ek vra om verskoning indien hierdie soos ’n tirade klink want ja, ons gaan lesers verloor weens die hoë prys, maar die enigste ander oplossing was om die tydskrif te sluit. Ek hoop werklik genoeg mense vind ons inhoud sinvol, vermaaklik en insiggewend genoeg om steeds die prys daarvoor te betaal.