5 giggel-gebeure in G.I.L
Gedink klein lughawens is ververlig? Knip daai gordel vas, want G.I.L vat jou op ’n pretrit.
Grobbies Internasionale Lughawe (Grobbies soos in ’n sinspeling op die eienaar se van: Grobler), afgekort as G.I.L, sal jou laat giggel van die openingstonele in die eerste episode wanneer jy die lughawe se nuwe bestuurder, Barry (Bennie Fourie) sien. Op pad na sy nuwe werk, hou Barry by die lughawe se naambord stil, klim uit en neem ’n selfie, want dis sy droompos om nou by G.I.L te werk. Voor sy bevordering tot lughawebestuurder, was hy maar net die bestuurder van Wollie Se Woelige Glywaterpark. Die feit dat die naambord sommer byna dadelik afval, moes reeds ’n teken gewees het sy loopbaan is besig om te sink eerder as om op te styg, maar net mooi niks kry Barry onder nie. Soos Kreef (Frank Opperman), G.I.L se lugtoringbestuurder in een episode op hom skree: “Moet jy altyd so d******* optimisties wees?”
Indien jy hou van komediereekse, behoort jy The Office te ken en ook die Afrikaanse reeks Hotel. Dit het komediestorielyne, maar die karakters praat ook direk met die kamera en deel van hul innige (en werklik skreeusnaakse) gevoelens. G.I.L is soos ’n kruising tussen The Office en Hotel, met ’n klein bietjie van die ou reeks Faulty Towers ingemeng. Daardie lagreeks oor die hotel waar alles wat moontlik kan skeefloop, gebeur. En dis nie net ons wat dink die reeks is goed nie – dis vir 9 SAFTA’s (South African Film & Television Awards) benoem. Die nominasies strek van die komediereeks met die beste hare-en-grimering, beste ondersteunende karakters vir Frank Opperman en Ashly de Lange (Rietjie, the inligtingsagent), en Bennie as beste komiese hoofakteur.
Elke episode sal jou laat wonder hoe op aarde die lughawe ’n bestaan maak. En Barry is ’n man met ’n missie: Om as die beste klein internasionale lughawe in die Wes-wes-Kaap gekroon te word. Niks kom tussen Barry en ’n gil-jante dag nie (sy kombinasie van G.I.L en briljant.)
Hier is vyf van die snaaksste oomblikke in die reeks. En bederfbrokkie: Die reeks eindig op so ’n manier dat jy nie kan wag vir die voglende seisoen om te begin nie.
Barry glo nie daar bestaan iets soos probleme nie. Hy sien alles as geleenthede en oplossings – tot ander se ergernis.