Hulp vir Ma
Die sitkom Mean Mums fokus op ’n werklike probleem met ’n komiese nuwe siening: boelie op skool.
Afknouery is wêreldwyd ’n groot probleem. Amper-tieners en tieners word deur hul portuur geteister vir die belaglikste goed, soos om konfyt op hul toebroodjies te geniet. Waaraan jy ookal dink, boelies sal dit gebruik teen hul slagoffers wat nie hul man kan staan nie. Maar in Mean Mums is die boelies volwasse ouers – skoolma’s om presies te wees.
“Wanneer jy van afknouery op skool hoor, dink jy nooit dit is dalk die ouers nie,” sê die hoofster Morgana O’Reilly (Naomi in die Australiese sepie Neighbours). Sy speel Jess, die nuwe ma wat haar seun, Ryan (Eddie Waspe in sy enigste rol), na ’n spoggerige nuwe skool geskuif het. En dis ’n ontnugtering vir Jess wanneer sy besef sy word geoordeel deur haar medeskoolma’s die oomblik wat sy haar voet op die skoolterrein sit. “Sy kan eintlik niks reg doen nie. Van haar hare, tot haar klere, alles is onder die vergrootglas,” verduidelik Morgana.
MA’S MET ’N MISSIE
Gelukkig vir Jess is sy nie alleen in haar stryd teen die gemene ma’s en haar soeke om aanvaar te word soos sy is nie: As bloot ’n ma wat probeer om haar kind die beste kans in die lewe te bied. “Die ding vir Jess is dat sy alleen voel wanneer sy by die skool kom. Sy voel sy word aangeval en is op haar eie. Maar sy maak gou vriende met twee van die ander niegemene ma’s,” verduidelik Morgana.
Heather (Anna Jullienne, Beverly in Netflix se sci-fi-reeks Sweet Tooth) is senuweeagtig en sukkel om te aanvaar sy’s altyd angstig. “Heather is die lieflikste mens, maar sy word senuweeagtig en spring op wanneer ’n mot verby haar vlieg. Sy is altyd gespanne en dit maak alles snaakser, want sy is sosiaal onbeholpe,” sê Morgana.
Hine (Aroha Rawson, Denise in die rilreeks The Brokenwood Mysteries) is geheel en al die teenoorgestelde. Sy is ’n ma van vyf en wêreldwys. Maar dis nie ’n waarborg dat sy veilig teen boelies is nie. “Die gemene ma’s kyk na haar as die moeë ma, sy’t haar deel gedoen en moet vervang word, daarom zoem hulle in op Hine en probeer haar onopgewasse laat voel terwyl die teenoorgestelde waar is. Hine gebruik daardie negatiewe energie om saam met haar twee nuwe vriende op die aanval te wees,” sê Morgana.
NIE NET OOR DIE KINDERS NIE
Een van die program se pilare fokus daarop dat dit ’n gemeenskap is maak nie saak waar of wie jy is nie. Ma’s het ondersteuning nodig soos alle ander mense, verduidelik die hoofspeler. “Jy kry groepe; die mense by wie jy aansluiting vind. Julle vorm ’n kliek en om vriende te hê laat jou veiliger voel. Almal ervaar iets, daarom moet jy gaaf wees met mense. En dít is wat Jess, Hine en Heather doen – hulle is gaaf teenoor mekaar en pak hul afknouers op die beste manier wat hulle kan: Hulle laat nie toe dat die gemene ma’s hulle onderkry nie. Ek hoop die kykers kry daardie boodskap.”