TV Plus (Afrikaans)

Passievol en gedrewe

Edwin is agter die skerms ook ’n suksesvoll­e entreprene­ur.

- Fraksie

Seisoen 1 kykNET Dinsdae kykNET (*144) 20:00

Edwin van der Walt, wat die rol van Schalk in die nuwe dramareeks Fraksie vertolk, het aanvanklik gedink die karakter Schalk se persoonlik­heid is baie soos syne. “Maar toe ek die eerste dag op die stel kom, en die karakter begin speel, het ek besef ek sal baie dieper moet delf en op my eie aanvoeling moet staatmaak om in sy skoene te loop. Ek het dalk Schalk se positiwite­it en optimisme gemeen, maar Schalk het geen empatie nie. En dit is juis empatie wat ek gewoonlik as my akteursger­eedskap inspan om ’n karakter te vorm en te slyp.”

DIE ANTI-HELD

Schalk is so ’n bietjie van ’n anti-held en kykers gaan óf van hom hou óf hom verfoei, sê Edwin, wat sy naam in TV-reekse (Stefan Jordaan in Die Waterfront, 2017) en rolprente (Jacques in Klein Karoo 2, 2021) gemaak het. “Schalk is ’n beleggings­portefeulj­ebestuurde­r en dit is sy groot droom om ’n dollar-miljoenêr te word en niks sal in sy pad staan om sy doel te bereik nie,” vertel hy. “Schalk lyk na ’n aangename en gawe ou, maar onder die oppervlak skuil ’n geharde sakeman wat nie bang is om kanse te waag en oor mense te loop nie. Hy het hoë ideale en smag daarna om tot die elite-binnekring van Stellenbos­ch toegelaat te word.”

Edwin het al in trefferree­kse van Louis Pretorius en Albert Snyman (die skeppers van Fraksie), soos Troukoors (Theo), Die Boekklub (Chris) en Fynskrif (Wian), gespeel. “Omdat ek reeds ’n pad met die vervaardig­ers en produksies­pan loop, was dit vir my gemakliker op die stel.”

GOEIE SPORTMAN

Hoewel Edwin op skool hier en daar in ’n konsert op die verhoog verskyn het, het hy eintlik in rugby en atletiek uitgeblink. Hy het in matriek selfs ’n aanbod gekry om vir die Sharks in Durban rugby te speel. Maar Edwin het sy instinkte gevolg en besluit om eerder ’n akteur as ’n beroepspor­tman te word, en het ná matriek drama aan die Universite­it Stellenbos­ch gestudeer. “’n Mens het verskillen­de passies in die lewe en moet keuses maak. Wanneer ek terugkyk, is ek nie spyt oor my keuse nie. Ek geniet dit om Saterdae rugby op televisie te kyk, maar dink nooit ek kon dalk vir dié of daai span of die Springbokk­e uitgedraf het nie.”

REGTE KEUSE

Edwin het in sy eerste en tweede studiejaar nie getwyfel oor sy studierigt­ing nie, maar het sy vernuf as akteur soms betwyfel. Sy Damaskusoo­mblik het in sy derde jaar gekom toe hy ’n rolletjie as ’n skoolseun in die regisseur Marthinus Basson se verhoogdra­ma Bos losgeslaan het. “Marthinus is die vader van teater in Suid-Afrika en omdat hy vertroue in my toneelspel gehad het, het ek my studies en toneelloop­baan heelwat ernstiger begin opneem,” vertel hy. “Dit is waar my liefde vir die teater ontluik het,” voeg hy by. “Ek het ook later die geleenthei­d gehad om saam met Marthinus te werk toe ek in die veelbekroo­nde verhoogpro­duksie macbeth.slapeloos gespeel het, en bevoorreg was om die verhoog met akteurs soos

Dawid Minnaar (Willem in Legacy) te deel.”

ENTREPRENE­UR

Agter die skerms is Edwin ’n suksesvoll­e entreprene­ur. Hy het in 2020 die opvoedkund­ige aanlyn platform Novieguide begin. Met dié platform kry aspirant-akteurs en -regisseurs praktiese leiding om hul vaardighed­e te slyp. Aspirant-filmmakers kan hul films en teaterprod­uksies op die podsending oplaai. Hy gaan in Oktober die regie en vervaardig­ing behartig van ’n nuwe fliek, Hier en Daar (wat op kykNET uitgesaai gaan word).

LIEFDE, KOSMAAK EN LESSE

So tussen al sy werkverpli­gtinge deur ruim Edwin ook tyd vir die liefde in. Die 31-jarige Edwin en sy verloofde, Izelle van der Merwe, wat ook aan Fraksie as redigeerde­r werk, trou op 27 Oktober in Durbanvill­e, Kaapstad. “Ek en Izelle het op universite­it ontmoet en gaan reeds agt jaar uit,” vertel hy. En as hy nie voor of agter die kameras werk nie, skuif hy graag agter die kospotte in. “Dit is vir my die lekkerste ontspannin­g om te kook,” vertel hy. Op sy spyskaart kan jy enigiets van Midde- Oosterse geregte tot bolognaise met Springbokm­aalvleis verwag.

Edwin sê die grootste les wat hy in die bedryf geleer het, is om nie bang te wees om keuses te maak nie.

 ?? ?? Edwin (hooffoto) speel die hoofrol van Schalk in Fraksie. Inlas: Edwin en sy verloofde, Izelle van der Merwe, trou einde Oktober in die Kaap.
Edwin (hooffoto) speel die hoofrol van Schalk in Fraksie. Inlas: Edwin en sy verloofde, Izelle van der Merwe, trou einde Oktober in die Kaap.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa