TV Plus (Afrikaans)

’n Ongeloofli­ke reis

Spring in die Karavaan en sluit aan by die groep uiteenlope­nde sukkelaars op ’n reis na “die einde van die pad”.

- Karavaan

Seisoen 1 Dinsdae SABC2 (*192) 19:30 (begin 8 November)

Wanneer die eksentriek­e weduwee Renske Minnaar (Elsabé Daneel, Brenda in die dramareeks Alles Malan) uitvind haar aggressiew­e kanker het teruggekee­r, weier sy enige verdere behandelin­g en besluit om die einde op haar eie voorwaarde­s te pak. Pleks van wegkwyn in ’n hospies, vat sy die pad vir ’n laaste reis langs die Weskus – vanaf Kaapstad tot Vredendal – met ’n paar spesiale vriende, in dié oorspronkl­ike ligte dramareeks met 13 episodes genaamd Karavaan.

’N PERSOONLIK­E REIS

“Dis vreemd hoe die werklikhei­d en toneelspel saamkom,” mymer Elsabé. Haar rol in Karavaan was inderdaad vreemd genoeg die perfekte keuse vir haar, want sy het haar eie ma tot haar dood vasgehou. “Ek ken dit (die einde van die lewe) baie goed. Sy het in my arms gesterf. En haar suster het ook tydens ’n telefoonge­sprek met my gesterf. Ek het gewerk en hulle het my gebel, ek het met haar oor die foon gepraat tot die laaste biep van die monitor. Toe kom hierdie rol op my pad en dit het my ’n begrip gegee van hoe die lewe eindig en hoe dit mooi kan wees.”

Karavaan het Elsabé ’n geleenthei­d gegee om op ’n dieper vlak met haar ma se ervaring te konnekteer, en alles in haar kop op te klaar. “Ek was saam met twee mense wat gesterf het, maar om dit werklik te voel . . . dit was die eerste keer wat ek werklik oor die dood gedink het as die uiteinde vir ons almal.

Ek dink op ’n manier het dit my ook voorberei om te dink ons moet die meeste van die lewe maak, en ons moet ander help, uitreik en minder selfsugtig wees. “Daar is ’n toneel waartydens Renske in die see hardloop, en sy is vry, en sy swem en skreeu. Dis asof sy al die laste afgooi wat ons dra. Sy begryp die tyd wat aan ons gegee is . . . ons sal nooit weet hoe en wanneer dit gaan eindig nie, en dit het met my brein gepraat. Dis nie soos om te preek nie.” “Renske lewe net daardie lewe, sy leef haar krag uit tot sy dit verloor.”

GOEIE GESELSKAP

Renske is ’n weduwee, maar sy sterf nie alleen nie. Sy gryp eerder die geleenthei­d aan om ’n paar perfekte metgeselle te kies vir haar laaste reis. “Sy’s ’n bietjie van ’n alleenlope­r. Sy het net dié baie goeie vriend Hennie (Kurt Egelhof, Pravesh in die fliek

The Last Victims) en sy kuier saam met hom. Maar ek dink sy het verder gekyk as wat die meeste mense kyk.

“Renske kan sê: ‘Ek wil hê iets goeds moet hieruit kom. Ek wil hê dié laaste dae moet betekenisv­ol wees’. Ek dink dis omdat sy weet die kanker is altyd op haar hakke en die tyd loop uit. Dis hoekom sy besluit het: ‘Wel, die horlosie moet nou stop. Ek moet ’n ander wedloop hardloop’. Sy laai die mense op en sê: ‘Sluit by my aan, en ek sal jou wys hoe om te lewe en hoe om te sterwe.” “Denver Vraagom (Riaan in die dramareeks Swartwater, sien kassie) speel ’n bendelid. Maar sy sê vir hom: ‘Kom saam met my’. Sy sê: ‘Jy klim seker in sodat jy my kan flous, maar jy gaan na Gert (Albert Maritz, Derek in die dramareeks

Alles Malan) kyk wat in ’n rolstoel is ná ’n beroerte. Hy kan nie ordentlik praat of beweeg nie. Jy kom nou saam met my, maar jy gaan vir hulle werk. Jy gaan hom leer om sterker te word.’ Sy besluit om uit te reik na mense wat werklik hulp nodig het, soos die veearts (Marshal, sien kassie). Hy is eintlik baie meer as dit, hy’s ’n dokter en hy’s ’n wyse man. Sy haal die beste uit al dié gebroke mense, dié gekweste mense, en sy sê: ‘Ja, jy kom saam met my, maar die ooreenkoms is: Julle gaan mekaar help’.” Dit wys hoe innerlike krag ook een van Renske se dryfvere is, sê Elsabé. “Sy hou net daaraan vas – om al dié karakters te verstaan wat sy opgelaai het – en hulle reis deur die hele Weskus, van plek tot plek met Hennie se karavaan en haar Mercedes, sodat sy vreedsaam kan sterf, wetende sy doen iets vir ander mense,” sê Elsabé.

TUSSEN DIE SAND EN LUG

Karavaan is buite verfilm tydens die ysige winter. “Daar is nie ’n plek langs die weskus wat ons nie besoek het nie,” sê Elsabe. “Die hele weskus het vir my ’n karakter geword. Dit was koud toe ons daar was. Ek het teen die elemente baklei. Die landelike, ongetemde natuur van die Weskus was wild; die lewe is wild. Dis nie maklik nie. Dis ’n mag. Dit was ’n fenomenale mag, hoe die mense oorleef. “In die toneel waartydens ek in die water moes hardloop, het ek gevoel ek word een met die heelal. Dit was soos ’n opening na die dood. Maar ek is gereed. Ek het nou ’n diepsinnig­e kennis. As aktrise kan jy dinge verken waaroor jy nooit gedroom het nie. Dit maak jou sterker vir wat voorlê. Jy word wyser en sagter teenoor ander mense.

“Dis die groot ding wat ek Karavaan neem. Dit was ’n wonderlike reis.”

 ?? ?? Van links: Marshal, Gert, Renske en Hennie is op ’n reis na die onbekende.
Van links: Marshal, Gert, Renske en Hennie is op ’n reis na die onbekende.
 ?? ?? Renske en Hennie vorm ’n diepgaande konneksie.
Renske en Hennie vorm ’n diepgaande konneksie.
 ?? ?? Daar is eintlik nie ’n vervelige oomblik vir Renske nie.
Daar is eintlik nie ’n vervelige oomblik vir Renske nie.
 ?? ?? Renske (regs) is vasbeslote om haar lewe op ’n vreugdevol­le noot te eindig.
Renske (regs) is vasbeslote om haar lewe op ’n vreugdevol­le noot te eindig.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa