GROEI, BABES!
Soos genoem het baie dinge verander in Tali se Johannesburg. “Ons skerts en sê sy het haar
Joburg street cred verloor,” sê
Julia. “Alles waaraan sy gewoond was is anders. En Johannesburg het soveel ontwikkel – wat bydra tot die mans se eiendomsontwikkeling-storielyn – want waar daar een ding was, is daar nou skielik ’n prokureursfirma.” Tali se hond wat sy as kind gehad het is dood, haar ou kamer is nou haar ma, Michelle (Kate Normington), se ateljee waar sy toneel speel, en die kind wat Tali in hul hoërskooljare die wrede bynaam Monique The Beak (Sharon Spiegel Wagner) gegee het weens haar prominente neus, is nou die nuwe leier van
Tali se sosiale groep – en mos die klas-ma. Om Tali terug te bring na haar ouerhuis en haar vriende (en vriende wat eintlik vyande is) van haar skooldae, wys hoeveel die karakter gegroei het – nie net van die bruidzilla nie, maar ook van hoe sy tydens haar kinderjare moes wees.
“Ek is regtig mal daaroor dat hierdie seisoen presies dit doen: Ons vat Tali terug en ons sit haar in haar tienerjare en -situasie. Sy is deur al hierdie groot lewensveranderinge soos om te trou, ’n baba te kry, ’n huis te koop, en ’n lewe in die Kaap te bou. En nou sien ons haar eintlik in baie opsigte as ’n hoërskoolkind. Dis waar ons Tali se ontwikkeling sien,” sê Julia. “Al die verskillende avonture wat sy aanpak, veral nou in haar seun se skool, is die dryfveer agter haar emosionele storielyn. Ons as skrywers het baie gaan dink oor wat ons van ons eie skooldae onthou: Die boelies waarteen ons soms moes opstaan, die byname wat ons genoem is . . . Baie daavan kom uit my eie hoërskooljare wat baie intens was. Ek was in ’n meisieskool (St Mary’s in Johannesburg), en ek dink dis eintlik erger [om net tussen meisies te wees]. Ons het gaan dink oor die maniere waarop ons onseker en lomp gevoel het toe ons tieners was. Maar natuurlik het ons dit alles ’n bietjie oordryf om die komedie uit te lig.”