TV Plus (Afrikaans)

’n Goeie span voor en agter die kameras

Carla Smith en Beer Adriaanse betower kykers.

-

Mooiweer En Warm

Seisoen 1 Dinsdae kykNET (*144) 20:00

Indien jy nog nie die temalied deur Amanda Strydom vir die reeks Mooiweer En Warm gehoor het of die gelyknamig­e drama begin kyk het nie, loop jy iets groots mis! Carla Smith (Kittie in die dramareeks Tydelik Terminaal) en Beer Adriaanse (Corné in die dramareeks Fynskrif) is twee van die bekende akteurs in die reeks en hul karakters, Cezanne en Meyer, laat die vonke vuurwarm gloei. En dis nie alles net goeie toneelspel nie, want in die regte lewe is hulle al twee jaar lank ’n paartjie. Dis die eerste keer wat hulle saam op die skerm werk en hulle is dit eens dat geen donderwolk­e die mooi weer op die stel bederf het nie. Hulle vertel meer.

DIE DAMWAL GAAN BARS

Mooiweer En Warm is die storie van ’n gemeenskap op ’n klein dorpie wat reg onder ’n reusedamwa­l geleë is, en byna niemand weet hul lewe is in gevaar nie. Cezanne is ’n geoloog en wanneer sy ondersoek instel, besef sy die damwal kan enige oomblik bars en die water kan almal in die dorpie meesleur.

Carla het navorsing oor geologie en damme gedoen om Cezanne so lewensgetr­ou moontlik te vertolk, maar sy sê uiteindeli­k is dit die draaiboek wat deur die skrywer

Paul C. Venter geskryf is, wat haar hoofbron van inligting was. “Die skrywer het hier en daar poetic

license gebruik met van die tegniese aspekte, maar dis jou werk as akteur om dit te respekteer en die karakter oortuigend uit te beeld,” sê Carla.

Paul, wat reekse soos Arende en Vlug Na Egipte geskryf het, is ’n meester van ligte dramas, prys Carla. “Sy karakters is ongeloofli­k kleurryk. Hulle is vel en been en ’n mens kan hulle so goed plaas soos ’n familielid, vriend of ’n tannie in die ry by Woolies.” Carla het ook Cezanne se effens aweregse houding goed verstaan. “Ek het dieselfde temperamen­t as my yster laag is. Moenie met my nonsens soek nie, moenie vrae vra nie, laat ek net doen wat ek doen. Dis Cezanne. Konstant.”

En met dié houding gaan

Cezanne verseker nie enige nonsens van die dorpenaars verdra wanneer sy hulle probeer waarsku wat op hul wag en min mense haar glo nie.

KAAL IN DIE NATUUR

“Meyer is ’n vreemde kat,” sê Beer oor sy karakter. “Hy is ’n voëlkyker wat boeke skryf en verkykers verkoop op ’n omstrede markie in en om ’n kerk, waar hy ook ’n diaken is. Ek het aanklank gevind by hoe hy sy hart op sy mou dra en al is hy ondeund, is hy eintlik ’n vredemaker. Ek en Meyer deel ook ’n liefde vir kaal wees in die natuur (soos in episode 1, op DStv Catch-Up, toe hy en Cezanne ontmoet het) en ’n spesifieke brunette (met verwysing na Carla),” sê Beer laggend.

Dis nie liefde met die eerste oogopslag vir Carla en Meyer nie. “Carla val eers later vir Meyer, so die

chemistry kom nog,” belowe Carla. “Op die stel was dit net lekker om te kon speel (saam met Beer) en omdat ons al in verskillen­de hoedanighe­de saam met mekaar gewerk het, was dit heerlik om dit [om teenoor mekaar te speel] te probeer.” Beer skerts verlief: “As die kamera net ’n kwart van die chemie wat ek in werklikhei­d vir haar voel, vasgevang het, behoort ons oukei te wees.”

Alle grappe op ’n stokkie, sê hy, die ervaring was vir albei verrykend. “Ons was lekker krities teenoor mekaar en kon gereeld debrief oor hoe ons die ander een se proses ervaar,” sê Carla.

Beer sê ook dit was lekker om “saam met Carla ’n nuwe speelgrond te ervaar”. “Sy’t my al as akteur gelei en ek ook vir haar, maar dit was lekker om ons verskillen­de benadering­s as mede-akteurs te sien en selfs nou en dan aan mekaar te skaaf, en voor die kameras vir mekaar te lag as ons foute maak of oneg is.”

DIE LEWE ’N KUNSWERK

Beer en Carla is dolverlief en sê dis wonderlik om iemand te kry wat ’n liefde vir die kunste deel. “Ek waardeer dit om iemand te hê met wie ek oor my idees kan gesels of saam met wie ek aan idees kan skaaf en timmer. Ons skryf ook dikwels saam, wat daai eensame aktiwiteit aansienlik lekkerder maak. Die lekker ding wat die kunste jou leer, is jou eie lewe behoort eintlik ook ’n kunswerk te wees – iets waarop jy trots kan wees, wat jou stimuleer en uitdaag. Ons probeer dit so benader,” vertel Beer.

Carla sê Beer is haar gunsteling­mens. “Ons style oorvleuel en oorkruis, en dis heerlik om iemand te kry wat jou ondersteun, aanmoedig en uitdaag. Hy het my liewer gemaak vir flieks en ek het hom liewer gemaak vir teater. Saam is alles, wel, ’n opera.”

WAT LÊ VOOR?

Die toekoms lyk blink vir Beer en Carla. Beer werk klaar hard aan ’n splinternu­we komedieree­ks saam met sy vriend, mede-akteur en skrywer Bennie Fourie (skepper van die komedieree­ks Hotel). “Ek kan nie te veel verklap oor die komedieree­ks nie,” sê Beer. “Maar ek kan sê ek gaan weer vanjaar as aanbieder op VIA (*147) te sien wees in ’n nuwe seisoen van die speletjiep­rogram Slim Vang Sy Baas.”

Carla vertolk later vanjaar die hoofrol in ’n Afrikaanse fliek Die Tragiese Saak Van Pamina Vermaak. Carla sê haar karakter is van meet af aan rof en onbeskof. “Maar dis eintlik net die storie van ’n vrou wat haarself ’n kans moet gee – op vergifnis, op vorentoe beweeg en op die liefde.”

Dit klink asof die paartjie reeds al daardie dinge deeglik onder die knie het!

 ?? ?? Van links: Meyer, Cezanne en haar twee goeie vriende die weerkundig­e Ruben (Carlo Daniels) en sy vrou, Maddy (Athina Jansen), span saam om die dorpenaars te waarsku die damwal gaan breek.
Van links: Meyer, Cezanne en haar twee goeie vriende die weerkundig­e Ruben (Carlo Daniels) en sy vrou, Maddy (Athina Jansen), span saam om die dorpenaars te waarsku die damwal gaan breek.
 ?? ??
 ?? ?? Meyer (links) is kaal wanneer hy en Cezanne (regs) die eerste keer ontmoet.
Meyer (links) is kaal wanneer hy en Cezanne (regs) die eerste keer ontmoet.
 ?? ?? Meyer (regs) verkoop een van sy verkykers aan iemand by die vlooimark.
Meyer (regs) verkoop een van sy verkykers aan iemand by die vlooimark.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa