Ag­ter ’n ge­slo­te deur

‘Nan­na,’ het haar ma al­tyd ge­kors­wel, ‘as die dag kom waar­op jul­le glo my kop­dra­de het deur­me­kaar­ge­loop, moet jul­le bob­be­jaan­gif in my tee gooi. Ek wil al­ler­mins rond­dwaal son­der om te weet wat my eie naam …’

Vrouekeur - - INHOUD - Deur ANNELIE BO­TES

Die ruit­ve­ërs wat die fyn­re­ën weg­vee, maak haar vaak. Op hier­die Son­dag­mid­dag sou sy eer­der on­der haar dons­du­vet wou slaap. Tot sy van­self wak­ker word.

Dit was ’n straw­we week voor die skool sluit. Die mu­siek­leer­lin­ge moes ge­mo­ti­veer word om ty­dens die Ju­nie­va­kan­sie nie te laat slap­lê nie. Kwa­lik vier we­ke ná die skool be­gin, speel hul­le mu­siek­ek­sa­men.

Maar die ak­koord tus­sen haar en Ma­tro­ne is dat sy Woens­dag- en Son­dag­mid­dae by haar ma sal kom kof­fie drink by Huis F­leur­ja­re.

“Ons het Son­dag ’n ver­ras­sing, Jo­han­na. Die Vlv-da­mes staan ag­ter die pe­tal­je.”

Ter wil­le van Ma­tro­ne en die per­so­neel wat haar ma soos a­rend­wy­fies op­pas, veins sy maar be­lang­stel­ling. On­ge­ag of sy ’n re­nons in die be­soe­ke het.

’n Mens se ma bly jou ma. Al het sy by­kans oor­nag in ’n vreem­de­ling ver­an­der.

“Nan­na,” het haar ma al­tyd ge­kors­wel, “as die dag kom waar­op jul­le glo my kop­dra­de het deur­me­kaar­ge­loop, moet jul­le bob­be­jaan­gif in my tee gooi. Ek wil al­ler­mins rond­dwaal son­der om te weet wat my eie naam …”

“Moe­nie sul­ke voor­spook­sels na Ma toe aan­roep nie. Al­z­hei­mers loop nê­rens in ons familie nie.” Al het haar ma ge­skerts, wou sy haar nie in so ’n si­tu­a­sie in­dink nie. Nie háár ma wat ’n roer­le­pel in el­ke pot in die dorp het nie. Voor­vat­ter op wie se ta­len­te en e­ner­gie ge­re­ken word. “Soos ek Ma ken, sal Ma op hon­derd nog su­do­ku en lyn­dans­klas­se doen.”

“Jo­han­na …” Wan­neer haar ma haar op haar doop­naam noem, weet sy daar is ’n on­der­toon van erns. “Die VLV moet op kon­gres­stan­daard met eet­goed vir my be­graf­nis­tee reg­staan, en bos­se sint Jo­se­f­le­lies vir die kerk en …”

“Ek wil nie wéér hoor waar Ma se ge­bor­duur­de lyk­s­kleed ge­bê­re is en dat ons moet ont­hou om lipstiek en ’n hand­spie­ël in Ma se kis te sit nie.”

“Dis my or­ders, Jo­han­na.” Haar ma lig die sak groen­bo­ne tot op die ta­fel. “Jou broer sit in die ver­re Ka­na­da. Jy’s my na­by­kind. Jý moet om­sien na my or­ders.”

“Maar dan wil ek meer erf as hy. Want om na Má om te sien, sal ’n man op ’n perd kos; nie ’n brom­mer op ’n bol mis nie.”

“Kry jou kerf­mes­sie, Nan­na,” het haar ma iet­wat af­we­sig ge­sê. “Hier­die bot­tels ker­rie­bo­ne moet plak­kers kry voor ek dit mô­re­og­gend kerk­ba­saar toe pie­kel. Tus­sen al die groot­koe­ke se bak het ek vas­ge­val. Op 68 ge­beur din­ge nie meer seep­glad nie. Ek weet nie wat ek op hier­die aand son­der jou twee han­de sou ge­doen het nie, my kind. Toe Pa nog ge­leef het, was die groen­bo­ne al­tyd sy ba­saar­jop­pie.”

“Ek ont­hou, Ma. Dis as­of ek hom met sy Vic­to­ri­nox sien sit …”

Maan­de la­ter sou sy die win­ters­og­gend van die kerk­ba­saar ont­hou as die eer­ste te­kens van die op­draan­des wat voor­lê.

Toe sy, soos oor­een­ge­kom, agt­uur op­daag om die groot­koe­ke en fles­se ker­rie­bo­ne te help aan­kar­wei kerk­saal toe, het haar ma nog ge­slaap. Toe sy ver­vaard op­vlieg, het sy haar nag­rok ag­ter­ste­voor aan­ge­had.

“Ge­na­de­tjie, Nan­na, die wek­ker het nie ge­lui nie. Draai die bad­kra­ne oop, my kind.”

In die twee­slaap­ka­mer­meent­huis was geen bad nie, net ’n stort. Die wek­ker was ge­stel vir tien­uur, die tyd wan­neer Do­mi­nee die ba­saar met Skrif­le­sing o­pen. In die har­war het sy dit aan ’n sleg­te nag­rus toe­ge­dig, om­dat sy die vo­ri­ge aand kon aan­voel haar ma is hart­seer oor haar pa.

“Kan ek vir jou iets van die slag­huis af bring, Nan­na?” het haar ma ’n paar we­ke la­ter ge­vra. “Ek gaan maal­vleis kry vir kerrie en rys. Kom eet van­aand by my, dan speel ons krab­bel.” Haar ma het blik­ke­rig ge­lag. “Dan wys ek jou waar het Da­wid die wor­tels ge­gra­we.”

In­s­tink­tief het sy ge­dink haar ma terg haar. Want juis die vo­ri­ge dag was haar ma slag­huis toe vir maal­vleis. En die vo­ri­ge aand het hul­le kerrie ge­ëet en tot mid­der­nag krab­bel ge­speel.

“Ma het my gis­ter­aand on­der die ta­fel in­ge­speel; moe­nie dit in­vryf nie.”

“Gis­ter­aand? Jy ver­beel jou din­ge, Jo­han­na.”

’n Droë skrik het in haar ag­ter­keel kom kleef. Ie­wers was fout. “Goed, dan bring ek room­ys en suur­le­moen­smeer saam.”

Toe sy die aand die room­ys­bak in die vries­kas sit, ontdek sy vyf glas­bak­ke met ker­rie­maal­vleis; ge­merk met da­tum­plak­kers wat oor we­ke strek. En daar is nie rys saam met die kerrie nie. “Waar’s die rys, Ma?”

“Rys?” Haar ma kyk haar vra­end aan.

“Jy weet voor jou siel ek het rys­poe­ding ge­maak.”

Toe dit tyd is om die poe­ding te eet, staan dit weg­ge­steek ag­ter die nooi­ens­haar­va­ring op die stoep, toe­ge­gooi met haar oor­le­de pa se ou­der­lings­hemp.

Daar­die nag het sy in ’n dryfslaap chro­ma­tie­se toon­le­re ge­speel. Op, af. Op, af. Dag­breek het sy met ’n steek­pyn tus­sen haar skou­er­blaaie op­ge­staan. Soos ’n nat­ge­re­ën­de hoen­der by haar re­ke­naar ge­sit om die ver­skil tus­sen Al­z­hei­mers en de­men­sie te ont­ra­fel. En af­ge­kom op die woor­de van Pat­ti Da­vis, Ro­nald Re­a­gan se skry­wer­dog­ter. Al­z­hei­mers sluit al die deu­re en uit­gan­ge. Daar is geen be­ge­na­di­ging, geen ont­snap­ping.

In die daar­op­vol­gen­de 18 maan­de het sy haar ma sien ver­skim­mel tot ’n bang ou­men­sie wat haar skoe­ne aan die ver­keer­de voe­te dra. Haar mo­tor in die dorp par­keer en dan nie kan ont­hou hoe haar mo­tor lyk nie. Op ’n Woens­dag op­ge­tof by die kerk op­daag. Hui­lend op ’n Son­dag­mid­dag aan die slag­huis­deur klop. In haar nag­kle­re bos­sies in tui­ne uit­trek waar sy nog nooit voor­heen was nie.

Maar die dorps­men­se het haar ge­help, want al­mal ken al­mal.

Len­te­tyd het sy haar ma se mo­tor ver­koop en ’n vol­tyd­se huis­hulp aan­ge­stel. Sý het nie ’n man en kinders wat kon hand gee nie. Die mu­siek­leer­lin­ge is haar kinders, en haar ma het al­tyd ge­sê: “Jy’s met ’n kla­vier ge­troud, Nan­na.”

“Ma, hier­die pil­le­bok­sie wys wat­ter pil­le Ma op wat­ter dae moet drink. Se­li­na sal dit sog­gens vir Ma uit­haal.”

“Jo­han­na, jy weet mos ek drink geen pil­le nie. As jou pa van die werk af kom, sal hý kyk wat­se giftige pil­le jy my wil voer. En jy moet Le­si­na vas­vat, want sy dek nie vir jou pa ’n ta­fel­plek nie. Ek is bang sy gooi bob­be­jaan­gif in my tee.”

Tot die Ou­kers­dag toe haar ma weg­raak. Al die dorps­men­se en mu­siek­leer­lin­ge soek. In se­ment­dam­me. On­der bed­dens. In hang­kas­te en tuin­hui­sies. Son­sak bel die po­li­sie van die buur­dorp om te sê haar ma sit op die bak­ke­ry­stoep. Sy huil en sê sy wag vir haar man. God­dank was haar i­den­ti­teits­boek in haar hand­sak.

Al­z­hei­mers sluit al die deu­re en uit­gan­ge. Daar­die dag was ’n grens­lyn. Voor Nu­we­jaar het Ma­tro­ne ’n ka­mer by Huis F­leur­ja­re in­ge­rig. En Se­li­na het be­dags al­daar haar dwa­len­de ma se ag­ter­lo­per ge­word.

“Ons sal jou help, Jo­han­na,” het die VLV­voor­sit­ster be­lo­we. “Jou ma was vir de­ka­des ’n sterk nek­wer­wel. Een van ons le­de sal el­ke week by haar gaan kui­er.”

“Dis tyd­mors. Sy her­ken nie­mand; nie eens vir my nie.” Haar tra­ne het vlak ge­sit. “As ek in haar ka­mer kom, vloek sy my in ta­le wat ek nog nooit uit haar mond ge­hoor het nie. En sy sê ek steel haar goed.”

“Die VLV het ’n in­lig­tings­aand ge­hou, Jo­han­na. Ons be­gryp die si­tu­a­sie. Ont­hou, ons is dáár vir jou …”

Sy wou haar kraan­tjie oop­draai en sê sy het haar ma nie meer lief nie. Sy kén haar nie meer nie. Sy is sat om by Ma­tro­ne te hoor haar ma klim snags in vreem­de bed­dens. Plak hoen­der­be­ne en skor­sie­dop­pe op an­der men­se se bor­de. Be­set die te­le­foon­hok­kie vir ure met ver­beel­dings­ge­sprek­ke met haar pa en ver­tel strooi oor hoe sy een van die dae uit­ein­de­lik ou­ma gaan word.

Maar eer­bieds­hal­we het sy ge­swyg. Jou ma bly jou ma.

Sy slaan die sam­breel oop en draf­stap oor die nat par­keer­ter­rein. Die twee be­soek­u­re lê soos die berg Ara­rat voor.

“Moe­nie skrik nie,” sê Ma­tro­ne toe sy by die kan­toor aan­meld. “Aan­vaar wat jy sien. Jou ma het ’n e­mo­si­o­ne­le ge­daan­te­ver­wis­se­ling on­der­gaan. Kom, ek stap saam.”

Ter­wyl sy in die gang af­stap, skiet skrik­to­ne­le deur haar kop. Sy ver­lang na haar pa. Her­roep haar ma wat groen­bo­ne kerf. Sy speel chro­ma­tie­se toon­le­re om die beel­de te blok. Haar le­wer voel knop­pe­rig toe sy die deur oop­stoot.

“Ma?”

“S­juut, sy het maag­kram­pe ge­had, maar ek het be­hoed­mid­del aan haar dum­my ge­sit. Sy slaap nou …”

Haar ma sit stra­lend in ’n wieg­stoel met ’n mens­groot­te pop in ’n flen­nie­kom­bers. Die ka­mer is kom­pleet ’n ba­ba­ka­mer. S­toot­kar. Wie­gie met net­gor­dyn­dak­kie. Doe­ke­sak. Bot­tel­ste­ri­li­seer­der. K­le­re­rak met frok­kies, kou­sies, bors­lap­pe.

“Do­mi­nee doop haar Son­dag. Jy kan haar in­dra.” Sy lig die pop tot teen haar skou­er, klop op die rug­gie. “Haar naam is Nan­na. En haar pa is ’n kla­vier.”

Diep­nag droom sy die mu­siek­leer­lin­ge slaag al­mal met lof. Toe sy om­draai, hoor sy die re­ën teen die rui­te. Sy dank die Va­der vir die VLV wat ’n dig­te deur oop­ge­sluit het. Maak nie saak hóé of tot wan­neer nie.

Deur die slaap­ne­wels ver­lang sy droe­wig na haar ma. Om­dát die kam­ma­kind­jie se naam Nan­na is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.