Men­se on­der­weg

Ek het ge­treur. Ek het die mis­bak­sel, die uit­vaag­sel, die pes, ver­foei wat my kosb’re van my ver­vreem het

Vrouekeur - - INHOUD - Deur FREDERIK DE JA­GER

Daar word by mens ge­steel, en so is dit uit en ge­daan. Nie­mand kan dit ver­an­der nie. Die een of ander tyd is jy aan die ont­vang­kant – of se­ker die ver­loor­kant – van dief­stal. In Suid-a­fri­ka kan jy jou ge­luk­kig ag as dit niks er­gers is nie.

Vra my. In­ge­breek – hoe­veel keer. Be­sit­tings ge­gryp – suf­fel maal. Ver­neuk – ag, te veel. En dis nie net van­dag nie.

Ek is al ’n leef­tyd ge­le­de be­steel. Van die pos­or­der­be­stel­ling van die ka­me­ra met die ta­maai flits wat nooit by my as jong knaap uit­ge­kom het nie, tot die keer toe ek op ’n lug­ha­we ge­strand ge­sit het ná my bank­re­ke­ning leeg ge­trek was.

Noem my ’n ve­te­raan. Daar­die op­roep ter­wyl jy uit­ste­dig is. Die ge­moeds­ver­lam­ming wan­neer jy van die werk af kom en jou voor­deur staan oop. Maar my erg­ste skok was toe ek een og­gend wak­ker word en ek wil ry en my “skoe­ter” is skoon­veld. Daar waar hy ge­staan het, is net die skou­er­op­ha­len­de muur. Die straat wat maak of hy van niks weet nie. Die pap stil­te waar ek die en­jin aan die brand sou ge­skop het.

My ry­perd. My trots en my klei­nood. My e­nig­ste ver­voer. Ek was pas te­rug ná drie maan­de in die bui­te­land. Ek het gaan reis met die tyd en geld wat hul­le my ge­gee het toe my werk on­der my uit her­struk­tu­reer is. Voor ek weg is, het ek my tjor­re­tjie ver­kwan­sel, en toe ek te­rug­kom, het ek vir my die Hon­da ge­koop.

Daai skoe­ter was my vry­heid. My vaar­tuig waar­mee ek ple­sie­rig oor die aar­de tier, serp in die wind, doods­ver­ag­tend met die bult af, dapper die op­draand uit. Ek het die snel­weg­ver­keer aan­ge­vat, ek het en­te van hon­der­de ki­lo­me­ter aan­ge­pak. Die kus­pad met die berg bo my en die see on­der my, lê na links, lê na regs om die kron­kels. Nie eens die keer toe ’n u­ni­ver­si­teits­maat my die stuur­stang van sy vlieg­tui­gie in die lug bo die Swart­land gee, het ek die­self­de ek­sta­se van vaart be­leef as met daar­die ge­swin­de skoe­ter nie.

En toe is hy weg.

Ek het ge­treur. Ek het die mis­bak­sel, die uit­vaag­sel, die pes, ver­foei wat my kosb’re van my ver­vreem het. Ek het hom … Na­tuur­lik was dit ’n hom, ek sou my nie ’n vrou kon in­dink wat so ge­meen op­tree nie. ’n Lank vas­ge­leg­de nei­ging van my om so teen vroue te dis­kri­mi­neer, as­of daar in mis­daad nie ook ge­ly­ke ge­leent­he­de moet wees nie …

Ek het hom, dus, voor my geestesoog pro­beer op­roep: ’n sluwe lunsriem met kraai­ogies wat nie mooi reg­op loop nie. Voel­voel aan deurhandvatsels van geparkeerde karre. ’n Los hand­jie in die druk­gang van die stad se voet­ver­keer.

Tot ek hom in le­wen­de ly­we ge­sien het. Dit moes ’n een­in­tien­dui­send kans ge­wees het, maar so­wa­rie vet, hul­le bel my en sê my skoe­ter is ge­vind. Hy staan op ’n staats­werf vir ver­lo­re sie­le ie­wers op die god­ver­la­te Kaap­se Vlak­te. Die man be­ge­lei my tus­sen hon­der­de ont­voer­de mo­tors deur tot waar my voer­tuig staan. Sy eens glan­sen­de sye is deur­ge­skraap soos hy ge­val het. Die tru­spie­ël­tjies hang weers­kan­te ver­lep aan die stuur­stang. Dra­de en py­pe bon­del on­der uit. Die lig is stuk­kend, die ba­ga­sie­bak weg, die staan­der skeef. Hier­die skoe­ter het in my af­we­sig­heid hard ge­leef.

En my wre­wel teen­oor die dief bou op. Toe hul­le weer bel en my die hof­da­tum gee, is ek reg. Ek sal hom so diep in die tronk in gaan ge­tuig dat hy maar kan ver­geet van ooit weer met e­nig­iets an­ders as die po­li­sie­wa ry, laat staan maar an­der­mans­goed.

Die Kaap­se ma­gi­straats­hof is He­art­b­re­ak Ho­tel. Daar in die gan­ge sit die mens­dom in sy ver­slae hoop op ge­reg­tig­heid. Wap­per die pries­ters­klas van die reg­spraak in hul swart to­gas ver­by. En in die be­skul­dig­de­ban­ke koes die jam­mer­li­ke sie­le aan die spies­punt van die staat se toorn.

Ek weet daar sit ook bo­se en ge­vaar­li­ke men­se. Wat jou vir ’n sel­foon sal lem, wat bloed­dors­ti­ge ben­des aan­voer. Maar toe ek “my” dief daar sien sit, ’n An­go­lees in sak en as, was al wat ek ge­voel het me­de­lye. Dit het my laat dink aan die ka­rak­ter Lu­kas van Nie­kerk in Moer­land van Chris Bar­nard. ’n Swart A­fri­kaans­spre­ken­de An­go­lees, af­stam­me­ling van die Dors­land­trek­kers, op sy on­ver­geet­li­ke vlug­tog suid.

Ek het ge­dink aan die be­skul­dig­de se lang vlug uit ’n oor­log­ge­teis­ter­de land, hoe die ont­be­ring en die vrees, die hoop téén hoop, die gryp na ’n laas­te kans, al­les in ’n dood­loop­straat ge­ëin­dig het. Ten min­ste kon ek nog op ’n krup­pel skoe­ter weg­hink.

EK HET HOM, DUS, VOOR MY GEESTESOOG PRO­BEER OP­ROEP: ’N SLUWE LUNSRIEM MET KRAAI-OGIES WAT NIE MOOI REG­OP LOOP NIE. VOEL-VOEL AAN DEURHANDVATSELS VAN GEPARKEERDE KARRE

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.