Eer­ste liefde

K­link ek li­ries? Gee jy om dat ek so reguit praat? Is dit nie laak­baar dat ek jou so skaam­te­loos in hier­die strik her­in­ne­rin­ge wil vas­pen nie? Maar ek weet nie wat an­ders om te doen nie. Om die waar­heid te sê, op die oom­blik voel ek nog­al in die steek gel

Vrouekeur - - KORTVERHAAL - Deur JACO FOUCHÉ

Lie­we De­on, ek het nog nie weer van jou ge­hoor nie, maar niks keer my tog om hier­die e-pos te stuur nie. Ek kan nie help om te won­der of jy reg­tig iets met my te doen wil hê nie. Is ek te aards vir jou? Ek met my be­lang­stel­ling in die stro­min­ge van die le­we, die raai­sels van die na­tuur, die din­ge­tjies wat ek net glo en waar­van ek jou ver­tel het.

Ek hoop jou reis te­rug was son­der voor­val. Tog vreemd dat mens hoop dat ’n reis “son­der voor­val” moet wees ter­wyl dit juis die voor­val­le is wat die her­in­ne­rin­ge vorm. Ek won­der hoe lank jy my gaan ont­hou. Jy het so in­te­res­sant, maar ook on­in­ge­lig, van jou le­we daar ge­praat. Ek het ge­voel na ’n teen­gif vir jou le­we tot dus­ver. Dis on­ge­twy­feld goed­be­doe­len­de men­se wat jou daar van die le­we ge­leer het. Jy is so jonk. Daar is so­veel vir jou om te leer. Jy kneus my hart.

’n V­reem­de ding het ge­beur. Jy ont­hou die ka­mer waar­in jy ge­slaap het, die bed van hout? Die ma­tras lê ver­sink in die kas wat die bed vorm; jy het ge­spot dat ons be­slis nie gaan uit­val nie? Die plan­ke van die bed­kas is van ei­ke­hout, waar­op jy kom­men­taar ge­le­wer het, iets oor die boom­soort wat noe­mens­waar­dig in die Bo­land­streek van Suid-a­fri­ka voor­kom. Na­tuur­lik sal jy die bed ont­hou. Wel, ek hoop so

– dis nie raar dat ver­lief­des te­rug­gaan na waar hul­le van­daan kom en ge­riefs­hal­we ont­ken waar hul­le was en wat hul­le ge­doen het nie. Jy is se­ker nie een van daar­die mans nie?

Ná jy weg is, het ek dae lank ge­dwaal. Ek het oor jou bly dink. Ons het so on­ver­wags ontmoet, die aand in die pub toe jy die vas­vra ver­loor het. Ek het jou rug­sak op­ge­merk en be­sef jy het nie bly­plek nie. Mis­kien was dit roe­ke­loos om só te ontmoet. Tog was dit ’n ga­we paar dae wat ek nie som­mer net wil ver­geet nie. Ek het van­og­gend in die kom­buis by die groot ta­fel ge­sit en ont­hou hoe jy sui­ker in jou be­ker roer en praat oor die reuk en smaak van die kof­fie wat an­ders is as wat jy ken. En ek sien jou ont­byt eet, so self­be­wus. Ek het ook bui­te gaan rond­dwaal, na die be­graaf­plaas ge­kyk as­of ek dit deur jou oë sien; ek het jou ver­baas­de stem weer ge­hoor oor die ver­weer­de in­skry­wings op die graf­ste­ne. Ek het by die ou ab­dy in­ge­stap en deur die mu­ra­sie op­ge­kyk na die grou lug waar­oor jy my ge­vra het, as­of ek self ’n we­se van daar­die lug en he­mel was.

K­link ek li­ries? Gee jy om dat ek so reguit praat? Is dit nie laak­baar dat ek jou so skaam­te­loos in hier­die strik her­in­ne­rin­ge wil vas­pen nie? Maar ek weet nie wat an­ders om te doen nie. Om die waar­heid te sê, op die oom­blik voel ek nog­al in die steek ge­laat.

Dus gaan slaap ek toe in die bed waar jy (en nie net jy nie) ge­slaap het. Ek het be­ter ge­voel, aan­ge­sien die bed­de­goed nog nie met sko­nes ver­vang is nie en ek jou in die la­kens en kop­kus­sing kan ruik. Jy ruik, as jy nie om­gee dat ek dit sê nie, soos dier­vel­le wat reeds half­droog is en op die sta­pels neer­ge­sit is vir weg­ry met my oom se bak­kie. Nie ’n sleg­te reuk nie, net ken­mer­kend. As aard­se mens het ek waar­de­ring daar­voor; dit dui op jou e­le­men­tê­re aard.

Ter­wyl ek ge­slaap het, het ek ge­droom. Iets oor die dorp en die straat­plan, niks op­win­dends nie; dit gaan oor die or­ga­ni­sa­sie van ge­dag­tes. Dit was in elk ge­val nie wat jy ge­droom het toe jy daar­die nag in

jou slaap uit­ge­roep en ek jou tot be­da­ring moes bring nie. Jy het ge­praat van die Groen Vrou, jy sal dit se­ker ont­hou, en ek het jou kom­buis toe ge­neem en jou die uit­ge­bei­tel­de ge­sig teen die dak­balk ge­wys en ge­sê dit is ’n ou land met ou spo­ke wat nie nood­wen­dig vy­an­dig is nie, net vreemd vir ie­mand uit die pro­vin­sies. Ek wou saam met jou bid, jou met die gees­te­li­ke ver­bind, maar ek kon sien jy was ver­skrik. Daar­na kon jy nie slaap nie en ons het ge­lê en ge­sels. Jy het van bran­der­plank­ry en rots­klim ge­praat, sul­ke son­ni­ge a­von­tu­re uit jou heel jong ja­re. Die een of an­der tyd het ek weer weg­ge­raak, maar ná ’n ruk reg­op ge­sit. Jy het vas ge­slaap en vir die res van die nag nie weer wak­ker ge­word nie. Dit moes weens my sus­sen­de teen­woor­dig­heid ge­wees het.

Nou ja, dis daar­die bed waar­van ek praat. Iets het met die hout ge­beur, die ei­ke­hout. Dit sien ek van­og­gend toe ek op­staan. Mis­tel het daar­uit ge­spruit, in klos­se weers­kan­te van die kas. Ek het my oom daar­oor uit­ge­vra. Hy was ver­baas en sê dis be­han­del­de hout en mis­tel be­hoort nie weer vat­plek daar­op te kry nie, al groei dit in die na­tuur aan bo­me. Jy sal mis­tel se­ker­lik ken as die plant wat mens Kersfees ie­wers op­hang, dan soen jy ie­mand daar­on­der.

Is dit nie ’n op­win­den­de ge­beur­te­nis nie? So on­ver­wags en spe­si­aal, so be­dui­dend. Dit kan tog nie op e­nig­iets an­ders as ons ver­bin­te­nis be­trek­king hê nie? Nog nooit voor­heen het ek so iets aan die bed, of e­ni­ge meu­bel­stuk, ge­merk nie. Dit kan net die ge­volg van ons ver­bin­te­nis wees, ons liefde.

Ek lees oor mis­tel. Dit is ’n vorm van ’n pa­ra­siet wat sy le­wens­mid­de­le uit die boom trek, maar tog ook in ’n ma­te self­on­der­hou­dend kan wees om­dat dit soms fo­to­sin­teer. ’n Mooi groei­sel so met die wit bes­sies wat se­ke­re tye daar­op voor­kom.

Dit het mi­to­lo­gie­se im­pli­ka­sies. Die

Noor­se god Lo­ki het ie­mand wat an­der­sins on­ver­nie­tig­baar was, met ’n mis­tel­pyl laat dood­maak. Daar­na is die plant met ver­soe­ning en v­riend­skap ge­as­so­si­eer, ook met le­wens­krag en vrug­baar­heid. Dit werk glo as teen­gif. Hoe in­te­res­sant dat ver­lief­des me­kaar daar­on­der soen. En hoe on­heil­spel­lend dat die een wat die soen wei­er, iets kan oor­kom. Is dit nie spe­si­aal nie? Die le­we is ver­skrik­lik en won­der­lik te­ge­lyk: hoe­veel groot ver­ha­le hou die groot­ste ver­skrik­king in, maar ein­dig op ’n noot van so­veel be­lof­te en wel­wil­lend­heid, so­lank jy net die spel reg speel. Ek ver­tel jou hier­van met so­veel hoop en liefde in my hart.

Dit is nou al twee we­ke van­dat jy weg is en nog hoor ek nie van jou nie. Ek stel my voor jy be­leef die een of an­der kri­sis. Nie dat ek jou so iets toe­wens nie. Ek is net op soek na ’n goeie re­de vir jou stil­te. Kan jy as­se­blief van jou laat hoor?

Met baie liefde en ge­duld, jou ge­diens­ti­ge Em­ma.

Ge­ag­te Em­ma Ons het jou e-pos met groot ver­ba­sing ge­lees en hoop om jou hier­mee op die hart te druk dat jy ons nooit weer moet na­der nie. Met sy te­rug­keer het De­on ons van jou ver­tel en die plaas ge­noem en die be­graaf­plaas en die ab­dy. Hy het met heel­wat e­mo­sie daar­oor ge­praat.

Wat eg­ter ge­beur het, is dat hy op die vlieg­tuig al be­gin siek word het. Nie net fi­siek nie. Hy het ge­hal­lu­si­neer oor ’n vrou en an­tie­ke tye en ou vloe­ke. Ná die lan­ding is hy met ’n rolstoel van die vlieg­tuig ge­haal. Teen die tyd dat hy by ons aan huis ge­kom het, was hy y­lend. Hy het ge­praat van mis­tels gaan oes met ’n goue se­kel in die tak­ke van ’n ei­ke­boom. ’n Dok­ter het hom heel­wat slaap en rus voor­ge­skryf, ge­volg deur ’n streng pro­gram wat uit werk en nog­maals werk be­staan, so­dat hy van jou en sy tog En­ge­land toe moes ver­geet. Ons is be­vrees die eks­kur­sie het ’n ge­wel­dig on­aan­ge­na­me in­druk op hom gemaak.

Ons het jou bood­skap met sty­gen­de ont­stel­te­nis ge­lees. Wat jy skryf oor die bed waar­in jul­le ge­slaap het, die ei­ke­hout­plan­ke, die mis­tel wat daar­op be­gin groei het, jou ver­lan­ge na hom, daar­die ver­foei­de Groen Vrou wie se ge­sig in die dak­balk sit – dit al­les is só si­nis­ter dat ons liefs nie ver­der on­der­soek wil in­stel nie.

Laat ons net sê dat De­on meer en meer be­gin pre­wel het oor ’n vrou wat hom in ve­ge­ta­sie ver­stren­gel en dat hy weet hy kom nooit weer uit ’n si­tu­a­sie wat aan ons on­be­kend is, of was, tot ons jou brief ge­kry het nie. Dit is nou ons bit­ter plig om jou te ver­se­ker dat De­on jou nie weer sal kon­tak nie. Drie dae te­rug het ons hom dood aan­ge­tref, vol­gens die dok­ter die slag­of­fer van kar­di­o­mi­o­pa­tie, ge­ëi­en aan ’n ver­swak­te ven­tri­kel en in­ge­gee deur he­wi­ge stres. Dit staan ook as ’n ge­bro­ke hart be­kend.

Hier­mee sluit ons die kor­re­spon­den­sie af.

Die Rey­nec­kes

So­mer, ’n jeug­ver­haal, het van­jaar uit Jaco Fouché se pen ver­skyn. Sy vol­gen­de boek, Die aan­spreek­lik­heid, het die twee­de prys in die Groot A­fri­kaan­se Ro­man­wed­stryd 2018 be­haal en word in 2019 uit­ge­gee

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.