Men­se on­der­weg

Hier kom die man met ’n em­mer wa­ter aan, ’n grow­we was­lap en ’n koek boer­seep. En hy be­gin my was. Bors­kas, rug. Lig op jou arms

Vrouekeur - - INHOUD - Deur F­re­de­rik de Ja­ger

Ek moet jou ver­tel van die man wat my ge­was het. Van kop tot to­ne ge­was soos ’n kind, met ’n was­lap. In so ’n ra­re si­tu­a­sie be­land mens nie som­mer as jy oor die straat ka­fee toe loop nie. Nê­rens in die daag­lik­se gang van die le­we be­leef jy ’n der­ge­li­ke ding nie. Vir so iets moet jy ver an­der­kant gren­se gaan. Jy moet reis.

Waar dit met my ge­beur het, het niks rond­om my be­kend ge­lyk nie. Nie die ver­geel­de ho­tel­ka­mer met sy dik mu­re en sy ten­ger di­van en ra­te­len­de dak­waai­er nie. Nie die nou, ver­sprin­gen­de stra­te met die vuil­wit hui­se nie. Nie die sand­woes­tyn ein­de­loos in el­ke rig­ting nie.

Ek was in die Sa­ha­ra, op ’n plek met die naam Ou­ar­za­za­te, ’n o­a­se­dorp. Jy gee jou le­we in die han­de van ’n an­der om daar uit te kom. Die bus sou van ’n blo­te kyk uit­me­kaar kon val, laat staan nog van die rit op die smal grond­pas oor die At­las­ge­berg­te. As hy om die draaie so na die af­grond oor­hel, kyk ek teen my wang­vlei­se af oor rot­se tot op die groen vloer van die val­lei, hon­der­de me­ter reg on­der my.

Aan die be­gin­punt van daar­die bus­rit was die stad Mar­ra­kesj, wat met goeie re­de fa­bel­ag­tig ge­noem word. Bou­le­vards on­der le­moen­bo­me, hul loof af­ge­skil­der teen die mod­der­pienk van die ge­boue. Die dool­hof van die souk, ’n Aladdins­grot van wa­re. ’n Ta­py­than­de­laar wat jou in­lok en ’n stoel gee en ment­tee en dan sy han­de vryf en jy weet: nou on­der­han­del ons tót jy met ’n mat hier uit­loop. Die be­roem­de stads­plein, Je­maa el-fnaa, waar­heen die men­se saans stroom. Rook van die vu­re, mu­siek, slang­to­we­naars met hul ko­bras bak­kop in hul mand­jies. En el­ke aand met ske­mer die op­roep tot ge­bed wat van die mo­s­kees af oor die stad uit­sif.

Aan die eind­punt van die bus­rit, in ’n ge­hug­gie ge­naamd Za­go­ra, nog die­per die Sa­ha­ra in, staan ’n bord langs die straat an­der­kant die dorp uit: Tom­bouk­tou 52 Jours – 52 dae na Tim­boek­toe. Wan­neer mens so ver die on­be­ken­de in mee­ge­voer is, moet jy jou nie ver­baas dat jy op ’n dag voor ’n bad­huis staan nie. Jy is ge­bring na die poor­te van die gans an­de­re. ’n Ha­mam in die woes­tyn.

Al­les wat ge­sê moet word, ge­skied in ge­ba­re­taal. Ek word na ’n ka­mer ge­wys waar ek my tot op die mins moont­li­ke moet ont­klee. En toe na ’n groot ruim­te in die ske­mer on­der ’n af­ge­wit­te koe­pel. Op die klip­vloer moet ek gaan sit. Daar is nê­rens ’n bad of vy­wer met wa­ter in nie.

Hier kom die man met ’n em­mer wa­ter aan, ’n grow­we was­lap en ’n koek boer­seep. En hy be­gin my was. Bors­kas, rug. Lig op jou arms. Kop, ag­ter die ore, maak toe jou oë, ek was jou ge­sig. Hy was my be­ne en maak se­ker hy kom tus­sen al die to­ne by. Hy lig die rek van die laas­te kle­ding­stuk­kie en laat glip die was­lap in om vin­nig met die jol­lie plek­ke klaar te speel.

En jy word ’n kind. Jy gee jou oor en raak weg in die seep­skuim. So het jou ma jou laas ge­was toe jy vier was. Maar ein­de­loos teer­der was jou ma. Hier­die me­neer met sy grow­we was­lap is nie vir pam­per­lang nie, gee nie om of hy seer­maak nie. Die he­le tyd bly sy ge­sig stroef, ge­kne­pe van die kon­sen­tra­sie.

Toe hy klaar is, giet hy em­mers wa­ter oor my om my af te spoel. Nou moet ek op my maag lê. En die man be­gin op my te loop. Voet­jie vir voet­jie loop hy oor my rug en be­ne.

Word ék nou die pad na Tim­boek­toe? dink ek nog, toe klim hy af en laat my op my rug draai. Streng, die be­ve­le. Hy gaan sit op die vloer en vat ’n arm en ’n been. Hy trap met sy voe­te in my sy ter­wyl hy aan my le­de­ma­te trek. Eers die een kant, dan die an­der.

En toe ek nou heel­te­mal sag soos ’n kalfs­vel ge­brei is, pak hy my aan die arms waar ek nog op die grond lê. En hy máák en hy máák en hy laat los, en toe spin ek weg oor die seep­glad­de vloer. En ek kan my nie ver­help nie, ek raak on­be­van­ge aan die lag.

Toe ek in die aand­lug te­rug­loop na my ka­mer toe, in hier­die ou­er as ou wê­reld, was dit as­of ek so pas ge­maak is. ’n Splin­ter­nu­we mens.

Toe ek in die aand­lug te­rug­loop na my ka­mer toe, in hier­die ou­er as ou wê­reld, was dit as­of ek so pas ge­maak is. ’n Splin­ter­nu­we mens

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.