KATE EN CHIKONDI CHANTHUNYA RONDAVEL Kzn-middelland
Kate en Chikondi het hulle eerstejaar-chemiekennis gebruik om self seep te maak toe hulle 8 jaar gelede in Malawi gewoon het maar nêrens natuurlike seep kon kry nie. Boonop was daar fantastiese rou materiale soos kremetart- en moringaolie in die omgewing te kry.
Hulle het hulle seep af en toe by skoolkermisse en geskenkwinkels verkoop, maar eers 6 jaar later genoeg selfvertroue gehad om groter hoeveelhede te maak en ’n onderneming te begin wat hulle Rondavel gedoop het.
“Ons was nog altyd mal oor die eenvoudige dog baie funksionele ontwerp van dié huisies, en wou hê ons seep moet ewe getrou bly aan sy wortels,” sê Kate.
Twee jaar gelede het hulle met hulle seeppotte, toerusting en drie seuns op ’n bus geklim en Suid-afrika toe gekom omdat hulle oortuig was die besigheid sou hier meer suksesvol wees.
Is seepmaak ’n lonende besigheid? Ja en nee. Seepmaak is harde werk, en jy moet by elke stap van die proses betrokke bly. Ons het dit anderdag weer besef toe die krag af was en ons steeds seep kon maak, sny en toedraai. Met enige vorm van handwerk moet jy nooit probeer uitwerk hoeveel jy per uur verdien nie – jy hoef net een oggend in spitsverkeer te sit om te besef hoe geseënd jy is om jou eie besigheid en werksure te hê. Wins is nie alles nie. Wat maak julle produkte uniek? Ons produkte staan uit omdat ons rou materiale – veral die inheemse vlugtige olies – van volhoubare gemeenskapsprojekte kom. Ons ontwerp self ons verpakking – ons landskapreeks is gegrond op sewe Suid-afrikaanse landskappe en word gedruk op papier wat van suikerrietafval gemaak word. Grootste wanopvattings? Goeie seep gaan nie net oor ’n resep wat jy moet volg nie. Dis belangrik om die chemiese proses te verstaan sodat jy kan uitwerk hoekom iets verkeerd geloop het. Vir ons is dit ’n kruising tussen ’n mal wetenskaplike en ’n kreatiewe bakker.
Topwenke
• Sorg dat jy weet hoe die seepmaakproses werk en dink mooi oor wat jy wil bereik. • Moenie duur olies gebruik voordat jy nie die proses onder die knie het nie. Party flops kan gered word, maar ander sal jy moet weggooi. • Gebruik lang handskoene, ’n veiligheidsbril, voorskoot, toe skoene en ’n masker om die bytsoda by die water in te meng (nooit andersom nie).
facebook.com/rondavel soaps rondavelsoaps@ gmail.com