Een kant is nie genoeg
Ek is ’n getroue koper van julle tydskrif, maar is erg teleurgestel deur die artikel “Genetiese modifikasie... Boer (en eet) ons vooruit?” in Platteland #6. Dié artikel stel net een kant van die saak en maak verskeie onwaar stellings: • Daar is nog géén navorsing gedoen oor die langtermynveiligheid van GM gewasse op mense nie (slegs korttermynstudies op muise en rotte) en verskeie wetenskaplikes het reeds van die potensiële gevare uitgewys. • GM gewasse is nie noodsaaklik vir volhoubare voedselproduksie nie – ’n veel groter probleem is die logistiek verbonde aan die verspreiding van voedsel. • Dr. Van Eck beweer die “vermenging van gene wat die mensdom al eeue lank toepas, is ’n vorm van genetiese modifisering”. Waarna hy verwys, is eerder plantteling. Genetiese modifisering is wanneer gene van een spesie in ’n ander spesie oorgeplant word. Die bekendste voorbeeld hiervan is die grondbakterie Bacillus thuringiensis waarvan ’n sekere geen in mielies ingeplant is. Daar is ’n groot verskil tussen die manipulasie van die geskape genetiese plantmateriaal en die oordrag van gene van een spesie na ’n ander. • Om te sê GM gewasse verminder die nadelige impak van omgewingsvriendelike produkte is weer eens nie die volle waarheid nie. Die gebruik van GM produkte het wel gelei tot verminderde gebruik van sekere soorte gifstowwe, maar van ander gifstowwe word daar nou méér gebruik (en dit word gewoonlik verkoop deur dieselfde maatskappy agter die GM saad). ’n Voorbeeld is Roundup Readymielies en katoen. Die mielies is geneties gemanipuleer om weerstandig te wees teen Roundup, ’n glifosaat. Dit beteken boere wat dié mielies plant, moet miljoene liter glifosaat spuit om ander onkruid te beheer. Die nadelige uitwerking van glifosaat op die omgewing en die mens is geweldig, maar dit word nie genoem nie. Verder kan onkruid weerstand opbou daarteen sodat ons later met “superonkruide” kan sukkel. • Hoe beïnvloed gene van GM gewasse wat in die natuur agterbly, voordelige insekte en mikrobiologie? Wat van organismes soos watermossels, waterlewende insekte, visse en paddas wat blootgestel word aan afloopwater wat oorblyfsels van GM plante bevat? Die gevolge is nie altyd onmiddellik sigbaar nie en veroorsaak nie altyd onmiddellike vrektes nie, maar niemand is seker nie. Ek het verskeie wetenskaplike artikels wat bewys dat GM produkte ’n nadelige uitwerking op biodiversiteit kan hê. Lesers wat belang stel om dié artikels te lees, kan vir my ’n epos stuur na
nevillb@gmail.com. Die artikel vra “Boer en eet ons vooruit?”. Dit is ’n ope vraag met soveel antwoorde as wat daar mense is. Elke leser moet sy eie afleidings maak, maar hiervoor was julle artikel te eensydig.