Elke seisoen is avo-seisoen
Danksy eksperimente met variëteite en hoogte bo seespieël (650-1 600 m) is ZZ2 flink op pad om te sorg dat avokado’s 12 maande van die jaar in seisoen is.
Braam van den Heever is ’n tipiese plantman. Op die oog af nie besonder spraaksaam nie, en by sy “kantoor” – dis nou as ’n mens ’n tegnologies gevorderde kwekery ’n kantoor kan noem – is hy duidelik gewoond daaraan dat avokadobome nie snaakse vrae vra nie, maar eerder stil-stil vir jou sal wys as hulle ’n bietjie omgeëllie voel.
“Braam is die kwekerybestuurder,” sê Clive Garret ( foto bo), ZZ2 se bemarkingshoof wat al nege jaar by die maatskappy werk.
“Ek sê altyd vir mense my werk is verliesbestuur,” vertel Braam, wat eers een van ZZ2 se avokadoboere was voordat hy in 2012 die maatskappy se kwekery begin het omdat ander kwekerye nie meer in die vraag kon voorsien nie.
Eers as Braam oor die saailing- en die gevorderde klonale kweekproses begin gesels, besef jy hoe fassinerend en streng wetenskaplik dit is – van die oomblik dat die edranol-pitte – die sogenaamde pleegsaad – uitgesny, in swamdoder gedoop en vir 3-5 weke in klam saagsels gesit word om te ontkiem, tot die boompie drie maande later groot genoeg is om geënt te word. Die jong plant word dan vir 3-4 weke in ’n donkerkamer toegesluit om chlorofilvry te groei. Wanneer dit uitgehaal word, word dit “liggies beskadig” en ’n klein potjie word om die letsel vasgemaak om wortels te vorm. Hierdie nuwe plant word uiteindelik van die pleegsaad afgesny, en wanneer dit sterk genoeg is, word die kultivar daarop geënt.
“Die konvensionele saailingproses duur 18 maande en die suksessyfer is sowat 85%, terwyl die klonale proses 18-24 maande duur met ’n suksessyfer van iewers tussen 30% en 50%,” sê Braam. “Maar ’n klonale boom moet 100% perfek wees, anders gooi jy hom weg. Dis swaar, maar in dié stadium is dit nog goedkoop om al jou moeite weg te gooi; as daai 98% perfekte boom eers geplant is en later vir jou moeilikheid gee, dán vreet hy lelik aan jou sak.” >
Al ZZ2 se gewasse, ook die avokado’s, word volgens die maatskappy se beleid van Natuurboerdery (’n geregistreerde handelsmerk) verbou. Hulle het in 2002 begin met die omskakeling van konvensionele chemiese boerdery na ’n meer ekologies gebalanseerde beleid.
“Natuurboerdery is ’n natuurvriendelike benadering tot kommersiële boerdery wat die wette en kragte van natuurlike ekostelsels maar ook die voordele van tegnologie en die jongste wetenskaplike ontdekkings gebruik om gewasse volhoubaar te verbou,” sê Clive.
Dit word op ’n magdom maniere prakties toegepas. Hulle kweek byvoorbeeld gewasse op plekke waar dit op ’n spesifieke tyd van die jaar die heel beste sal vaar: Só plant hulle hulle tamaties in die winter noord van die Soutpansberg; in die somer is Polokwane die beste plek; en in die lente en herfs vaar dit die beste in die Mooketsivallei.
“Natuurboerdery gaan ook oor waterbestuur, om die grond gesond te hou, om biodiversiteit te bewaar en bevorder, om ligte af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie, om meer brandstofdoeltreffende vragmotors te gebruik, om sonpanele en omsetters in te span en Eskom as die laaste uitweg te beskou, om indringerplante uit te roei en dit saam met houtsplinters en beesmis in fantastiese kompos te verander, om gefermenteerde plantekstrakte en biologiese beheeragente soos die swamme Trichoderma harzianum, Beau bassiana en Bacillus subtilis in te span om peste en plae te beheer.”
In die pakhuis wat deur hulle eie ingenieurs ontwerp en gebou is, staan jy verstom oor elke avokado se blitsige reis uit die boord, deur ’n was-en-ontsmetbad, dan op ’n vervoerband met skaalbakkies wat iedereen weeg en volgens sy grootte uitspoeg by iemand wat ’n plakkertjie opplak en dit in ’n boks pak wat dadelik na ’n koelkamer geneem word om die temperatuur tot 5,5 ºc af te bring. Voor jy jou oë kan uitvee, is die oes op ’n skip wat dit 17 dae later in Rotterdam of 15 dae later in Singapoer aflaai, en dan is daar net mooi twee weke oor waarin die avokado kan ryp word en ’n Hollander of Duitser of Fransman sonryp botter uit ’n boom in Afrika kan proe.