Waar’s die dae...
Onthou jy nog toe ’n koei op die werf gesorg het vir melk in die huis?
Smôrens vroeg en smiddae laat het my oorle’ ouma en oupa beurte gemaak om die frieskoei in die graskamp langs hulle huis te melk. (Dit was voor hulle afgetree en dorp toe getrek het. Op die dorp was melk ’n totaal ander storie: Hulle het koepons gekoop, dit in die bek van boepensbottels op die voorstoep gelos, en die volgende oggend was die einste glasbottels vol melk. As kind het ek gedog dis die grootmense se weergawe van die tandemuis.)
Die koei op die plaas – kom ons hou by die cliché en noem haar Blommetjie, al was sy eintlik ’n dikbefoeterde derduiwel wat graag die melkemmer omgeskop het – het my ouma of oupa klokslag by die hoek van die kampie ingewag waar een van hulle sou aantree met die melkbankie, ’n silwerskoon melkemmer en melkdoek, ’n pot speensalf, en nog ’n emmertjie met lekker warm water en ’n lap om Blommetjie se uier skoon te vee en haar te paai om haar melk te “laat sak”.
Vakansies of naweke het ons glase vol van Blommetjie se yskoue melk weggeslaan, veral saam met kaasbroodjies, maar ek het my doodgegril vir die wilde warm skuimmelk vars uit haar spene waarvoor my oumahulle so lief was. Ek onthou hoe ek oor en oor in my agterkop gesê het: Eendag as ek groot is, gaan ek my eie koei hê. My eie melk. My eie room. My eie botter en karringmelk. My eie jogurt. My eie kaas.
Maar amper vier dekades later gaan ek steeds koeiloos deur die lewe omdat…
• ’n mens lankal nie meer ’n koei op ’n dorpserf mag aanhou nie.
• jy nie meer rou, ongepasteuriseerde melk mag koop of verkoop nie.
• dit vir die o-so-besige moderne mens nou eenmaal te veel tyd en moeite is om ’n koei te melk en dan boonop self die botter te karring en die jogurt en kaas te maak.
• winkelmelk veel goedkoper is as wat jy dit ooit self op klein skaal sal kan produseer.
Sonder dat ek dit agtergekom het, het die byna kitsch nostalgiese, landelike prentjie in my agterkop verander in ’n wetenskapsfiksiefliek waar genetika en voeding vir ou Blommetjie omtower het tot ’n supermelkfabriek…
Toeka se dae
Kassie Kasselman ( foto regs bo) van Kasselshoop-kaas buite Stilbaai (oor wie ons verlede jaar in die lenteuitgawe van Platteland geskryf het), sê met heimwee hy is waarskynlik “van die laaste geslagte wat met handmelk en melkkanne grootgeword het”.
“Mense in afgesonderde gebiede is nog altyd gedwing om hulle eie melk te produseer, en dit is vandag steeds die geval, byvoorbeeld in afgeleë dele van Namibië. Destyds was die vervoer- en verspreidingsnetwerk soveel swakker as vandag en op selfs die kleinste dorpie kon iemand ’n bestaan maak met ’n melkery wat net daardie gemeenskap van melk voorsien het.
“Maar die koms van langlewemelk het baie dinge verander, ook in afgeleë plekke. Soos in die meeste ander bedrywe word die landbou-knyptang ál kleiner: Melk moet gevolglik geproduseer word waar dit die goedkoopste is en na die verbruiker versprei word. Groot melkverwerkers gee my as suiwelboer die kans om méér melk te produseer wat dus meer wins in my sak beteken – iets wat buite die kwessie sou wees as ek net melk aan Riversdal verskaf het.”
Kassie verwys jou ook dadelik na oom M.C. Truter ( foto onder), “’n legende in die melkbedryf wat ’n groot rol gespeel het in die jare toe kommersiële fabrieke begin opgang maak het”.
Oom M.C., wat deesdae afgetree is en op Stilbaai woon, is op 1 Julie 1957 deur Nestlé aangestel as hulle eerste suiwellandboukundige, en sy posbeskrywing is mondeling aan hom oorgedra: “We need as much milk as possible of a good keeping quality.” “Om die gehalte van die melk te bevorder was die grootste probleem,” onthou hy. “Sonder die nodige verkoelingsgeriewe het die melk veral in die warm somermaande oornag suur geword. Melk was ook eenvoudig te goedkoop vir die belegging: Die prys is bepaal deur die persentasie bottervet en proteïen, en destyds was dit maar 2 pennies per liter teenoor die R4,50-R4,85 per liter vandag. Party produsente het so min as 5 pond melk per dag gelewer, wat nie eens die administrasiekoste gedek het nie.” >