Koop minder, plant meer
In die jare sestig, sewentig en tagtig het dinge heelwat anders gewerk as vandag. Toe het kinders nog vry op fietse rondgery en kleilat gespeel en vrugte gesteel en toktokkie gespeel en vroeg gaan slaap – gaan lees maar Albertus van Wyk se rubriek op bl. 16. Vroue se rol was, wel, effens anders, en die verbruikerskultuur was so ver verwyder van vandag s’n soos ’n Slowaakse sportspan van enige Wêreldbeker.
Wie sou daardie jare op ’n Saterdagmiddag of Sondag selfs dink aan inkopies? Window-shopping was die naaste wat jy ooit op die Sabbat aan ’n winkel sou kom. Selfs vulstasies het saans gesluit, en van geriefswinkels wat regdeur die nag oop is, was daar nie sprake nie. Jou groente het jy vars by die groentewinkel gaan koop (met nog hier en daar ’n grondjie aan, én dalk ’n insekbytmerk). Jy het net genoeg gekoop vir ’n dag of twee, want môre, oormôre het hulle begin verlep. (Wie het daardie jare van ’n vervaldatum geweet?) Van grenadellas in die winter kon jy maar vergeet en mielies het jy net gekry as dit mielietyd was. Boerbone of vars ertjies in die somer kon jy op jou maag skryf.
En vandag? Vandag kry jy in supermarkte en geriefswinkels rye en rye “vars” produkte wat onder neonligte lê en glim. Veilig vasgeklem tussen polistireen en kleefplastiek. Jy kan omtrent enige vrug of groentesoort omtrent enige tyd van die jaar kry mits jy met ’n vet beursie rondloop. As jy vieruur op ’n Maandagoggend in die winter oorval word deur ’n lus vir aspersies, dan kan jy gou ’n trui oor jou kop gooi en deurnagwinkel toe ry en dit koop. Jy sien die vervaldatum is oor ’n week en las dan nog vier dae by omdat vars produkte deesdae so goed hou. En dan koop jy sommer vir volgende Sondag ook.
’n Mens wil amper aan die jubel gaan oor hoe modern ons geword het...
Tog het ’n paar stories in hierdie uitgawe ons weer laat dink: Dit begin by die brokkie op die nuusblaaie (bl. 12) oor die miljoene ton slaaiblare wat elke jaar onder die einste kleefplastiek lê en slymerig word en uiteindelik in vullisdromme beland; daar’s die storie oor Colleen Black (bl. 62) en haar man wat verpakkingsmateriaal soos die pes vermy en meesters is van ’n geenafvalleefstyl; en daar’s Sean Hormann (bl. 98) wat weier om deur kunsmatige en gevaarlike middels sy gerookte produkte ’n raklewe te gee.
Dan is ons opnuut dankbaar vir die voorreg om ons eie kos te plant en dinge self te maak en vir ou goed ’n nut te vind. Sodat ons stadiger en lekkerder kan leef. Soos in die ou dae.
Geniet die blaaskans. Sien julle in die herfs weer!