’n Opstel oor droogte
Op skool was dit omtrent die ergste ding wat jou kon tref: As jy daardie opstelvraestel kry en daar, heel boaan die lys van moontlike onderwerpe, staan dit (nogmaals): Droogte. Het énigiemand ooit daardie tema gekies?
Ons ouers en grootouers het dit nóg erger gehad – in hulle dae het hulle geen keuse gehad nie. Dit was droogte... of dop.
Ja, in die ou dae het droogte diep in die volk se psige gaan lê, amper soos ’n Twitter-relletjie vandag die wêreld laat gons.
Ironies genoeg is Suid-afrikaners vandag baie meer gelate oor droogte – selfs al bevind ons ons midde die ergste droogte in jare. Jy hoor selfs ingeligte mense wat ná die eerste reënbui sommer verklaar: “Die droogte is verby.” Of, nog erger: “Die droogte is ou nuus.” Dít terwyl boere nie gesaai het nie en ons mielies moet invoer pleks van uitvoer. Dít terwyl ganse dorpe in ons land sonder ’n druppel water sit en noodvoorrade daagliks per lorrie aangery moet word. Hier in die Kaap verwelkom ons deesdae selfs die berugte suidoostewind, solank dit reën bring in die noorde van die land waar dit so broodnodig is. (Op Platteland se drukdag het ons gehoor ook die Weskusdistrik is tot droogterampgebied verklaar.)
Ons weet nie of dit ons ouderdom verklap nie, maar as jy deur hierdie uitgawe van Platteland blaai, duik droogte ’n hele paar keer op: Daar’s onder meer Elise Tempelhoff se “Laat ’n mens dink” op bl. 15, die artikel oor Winterton (bl. 20) en die een oor die Vredefortkoepel (bl. 36). Dit is glad nie so beplan nie; dis dalk oor ’n mens daagliks hoor Afrika – en ja, ook Suid-afrika – se penarie gaan vorentoe nog veel erger word.
Een ligpunt is die werk wat die wetenskaplike Jill Farrant doen oor plante wat in droogtetye “doodgaan”, maar dan, as dit uiteindelik reën, weer “opstaan” en verder groei. Lees gerus haar fassinerende storie op bl. 62 – en laat weet ons asseblief wat jou mening daaroor is.
By Platteland sal ons nooit enige tuin wil sien kwyn weens droogte nie, en ons sal ook nooit ophou planne soek om water te spaar en, belangrik, verantwoordelik te gebruik nie. Dit is ons almal se plig.
Solank ons nie gou weer ’n opstel oor droogte hoef te skryf nie.