Jill se eie ‘uitdroog’-storie
Jill Farrant kan jou voorwaar ’n ding of twee vertel van uitdroog. En om dan weer as ’t ware uit die dood te ontwaak. Sy maak geen geheim daarvan dat sy jare reeds ’n alkoholis op die herstelpad is nie. “Ek het op universiteit begin drink. Met my heel eerste glas rooiwyn het ek al gedink: ‘Waar was jy al die jare?’ ”
Ses jaar later het sy ’n laagtepunt bereik. “Ek is aangewys as ’n ontvanger van die Presidentstoekenning [’n prys vir navorsers met die potensiaal om leiers in hulle vel te word] en is gevra om ’n toespraak te lewer. Ek het ’n drankie in die hotelkamer geniet en natuurlik sjampanje by die seremonie,” vertel sy, “en kon die volgende oggend nie ’n woord onthou van wat ek gesê het nie.” Sy is onmiddellik na ’n rehabilitasiekliniek toe.
“Ek was vir 10 jaar sober, maar het van die oggend tot die aand gewerk en ’n totale werkslaaf geword... ’n ongeluk wat wag om te gebeur. In Januarie 2008 het ek gegly, my kop het die bad se rand getref en 39 uur later het hulle met my hospitaal toe gejaag met subdurale breinbloeding. Die dokters by die hospitaal het my tussen een en vier uur gegee, maar ek het relatief skotvry daarvan afgekom. ’n Wonderwerk. Maar in die proses het ek my reuk- en smaaksintuig permanent verloor. In terme van sintuie is dit sekerlik nie die moeilikstes om te verloor nie, maar dit het minstens een ernstige gevolg gehad...
“My eerste drankie daarna was ’n ongeluk. Ek het gedog ek drink lemoensap, maar dit moes alkohol bevat het, want binne 20 minute daarna het ek geweet ek sal nie by een kan stop nie. Dis een van die kenmerke van ’n alkoholis: een drankie is een te veel, ’n duisend drankies nooit genoeg nie. Ons is ook vasberade en geheimsinnig om drank in die hande te kry, en ondanks waarskuwings van my geliefde vriende en familie het ek op my jaarlikse besoek na die Sorbonne-universiteit in Parys vertrek. Daar maak die koffiewinkels al om 07:00 oop en jy kan drink net wat jy wil. Drie weke later het ek op die vloer wakker geword en gedog ek het ’n beroerte gehad omdat ek nie kon loop nie. In werklikheid was dit alkoholvergiftiging wat my dié slag in die hospitaal laat beland het. Ek is ontslaan en het met die hulp van prof. Francoise Corbineau – destyds ’n kollega, vandag ook ’n geliefde vriend – huis toe gevlieg en onmiddellik na ’n rehabilitasiekliniek gegaan sodat ek kon terugkeer na my normale lewe en weer begin. Sy glimlag: “Op ’n manier moes ek my sinne verloor om dit weer te vind.”
Dit maak nie saak wat in haar persoonlike lewe gebeur het nie, Jill het nooit ophou navorsing doen oor hoe opstandingsplante dit regkry om uit te droog sonder om dood te gaan nie.
Sy het reeds verskeie toekennings vir haar navorsing ontvang. “Ek voel al effens skaam daaroor,” erken sy. Hier is enkele van die pryse wat teen haar muur hang: • Die departement van wetenskap en tegnologie se Women in Sciencetoekenning in 2010, in die kategorie vir uitsonderlike vroulike wetenskaplikes. • ’n L’oréal-unesco Women in Science-prys (2012) vir vroulike wetenskaplikes wie se werk menslike welstand bevorder. • Die 2015 EPFL WISH Foundation se Erma Hamburger-prys omdat sy ’n rolmodel vir bioloë wêreldwyd is.