Pampoenpiekel
Maak 3 flesse van 500 g elk Bereidingstyd 10 minute Gaarmaaktyd 40 minute
Vir koue pampoen hoef jy regtig nie te skrik nie. Hierdie sous is iets tussen ’n atjar en ’n piekel – dis nie heeltemal so suur soos ’n piekel nie, maar ook nie so branderig soos atjar nie. Saam met ’n sterk kaas soos gruyère is dit heerlik as ’n vulsel vir ’n broodjie. Of sit dit voor saam met geroosterde vleis, veral hoender, óf in ’n slaai saam met roketblare, neute en fetakaas.
Jy benodig
• 750 g pampoen • 1 groot ui • 25 g vars gemmer, gerasper • 2 rooi brandrissies, pitjies uitgeskraap • 6 knoffelhuisies • ½ koppie (125 ml) olyfolie plus ekstra vir
die flesse • 1 eetlepel (15 ml) komynsaad • 1 eetlepel (15 ml) borrie • 1 eetlepel (15 ml) masalapoeier • 1 eetlepel (15 ml) mosterdpoeier • 1 eetlepel (15 ml) mosterdsaadjies • 2 teelepels (30 ml) swartpeperkorrels,
fyngestamp • gerasperde skil van 2 suurlemoene • 100 ml suurlemoensap • 2 suurlemoenblare, gesnipper • 300 g ligte bruinsuiker • 225 ml asyn • 1 eetlepel (15 ml) sout
Só maak jy
Sny die pampoen in blokkies van 1,5 cm. Dompel hulle in ’n pot met kokende water, dreineer dit ná 2 minute en spoel dit dadelik onder koue lopende water af. Laat dit eenkant staan om heeltemal te dreineer.
Pols die ui, gemmer, rissie, knoffel en olie in ’n voedselverwerker. Krap die mengsel uit in ’n kastrol en roerbraai dit oor matige hitte vir 5 minute. Voeg die komyn, borrie, masala, mosterdpoeier en -saadjies en peper by en roer dit vir nog 5 minute. Voeg die suurlemoenskil, -sap en -blare, suiker, asyn en sout by en roer dit tot die suiker opgelos het. Roer die pampoenblokkies by en laat die mengsel kookpunt bereik. Die pampoen moet ferm wees, maar nie rou nie.
Skep die mengsel in flesse en maak seker daar is geen lugborrels nie. Skep ’n paar lepels olyfolie bo-oor om die bek van die fles te seël, en draai die deksels dan styf toe. Die atjar sal vir ’n maand in die yskas hou. >