Ontmoet vir Celeste
Dikwels beland ons in ’n situasie waar ons Platteland se lesers moet beskryf: Wie is hulle? Waar woon hulle? Hoe oud is hulle? In sommige gevalle moet jy hulle selfs voorstel as één mens, en daardie een moet ’n naam kry, ’n ouderdom, ’n beroep, belangstellings, kinders, ’n inkomste. (Ons probeer altyd baie vrygewig wees...) Dit gee gewoonlik ’n kopkrappery en in sommige gevalle ’n gekibbel af, en, ja, ook ’n gelag en geskerts. Maar nog nooit was daar volkome eenstemmigheid oor hoe daardie één leser lyk wat Platteland verpersoonlik nie.
Onlangs was ons gelukkig genoeg om iemand te ontmoet wat dinge effens duideliker maak. Haar naam is Celeste Burger en sy woon net buite Worcester op die plaas Kuruma. Hier maak sy saam met Kobus Kritzinger volgens die beginsels van permakultuur ’n groentetuin wat gewoon die asem wegslaan. (Ons ís effe jaloers oor die vars bergwater wat sy daagliks uit die Brandwachtberg kry.) Sy is getroud en het twee kinders op universiteit. Sy het een weimaraner, Stoffel, en sy en Stoffel treur nog oor sy sussie, Eva, wat onlangs skielik dood is. Celeste het ganse en eende wat die groen gras van die plaas bewei en selfs in die groentetuin toegelaat word, want ja, daar’s genoeg vir almal, selfs nadat sy self geoes en ingemaak en verwerk en weggegee het. (Die ganse is om ’n onverklaarbare rede skielik bang vir die dam, want iets of iemand het van hulle maats kom vang. Dít het Celeste só ontstig dat sy ’n nagsigkamera staangemaak en die rampokker op heterdaad betrap het: ’n reusagtige otter. Sy bedink nog ’n plan om hom vas te vat...)
Dit is ons plesier om Celeste aan julle voor te stel: Sy pryk op die voorblad van hierdie uitgawe saam met die einste Kobus Kritzinger (én Stoffel) in een klein deel van daardie manjifieke groentetuin.
Celeste is iemand wat kan lag en grappies maak en onderhoudend gesels oor wat in die land aangaan (en sy het hoop vir die toekoms). Sy gee nie om dat haar hande vol grond word nie en is ’n gasvrou duisend. En sy is iemand wat jou nooit met leë hande laat weggaan nie. Jy stap weg met ’n brood, ’n flessie konfyt, ’n bakkie knolselderyplantjies, ’n boks vol eiervrug, wat ook al oorvloedig is in die tuin. Jac, ons voorbladfotograaf, is selfs daar weg met ’n emmer vol krioelende komposwurms.
Celeste, het ons besef, is net soos elke mens in hierdie tydskrif met wie ons gesels het. Net soos elke leser wat getrou elke seisoen hulle Platteland koop. Dis hulle – nee, júlle – wat alles die moeite werd maak.
Sien julle in die somer!