Nuus en dagboek
Trek ’n rooi sirkel om 15 Oktober en begin beplan hoe jy en jou mense vanjaar Nasionale Tuindag gaan vier.
Nasionale Tuindag, kaasnuus en koel kursusse
Wetenskaplikes het lankal bewys tuinmaak hou wonderbaarlike voordele in vir jou verstandelike en fisieke gesondheid, maar het jy geweet tuiniers en bloemiste is boonop die beroepe waarin mense die gelukkigste is?
Volgens prof. Paul Dolan, ’n Britse ekononoom en gedragswetenskaplike, put mense wat dié loopbane volg, amper dubbel soveel genot uit hulle werk as diegene in veel gesogter poste met ’n aansienlik vetter salaris.
Tuinmaak bring jou verder in voeling met Moeder Natuur, dit hou jou sintuie (en lyf) soepel én dit vervul jou met ’n gevoel van vrede en welbehae wat woorde te bowe gaan.
Maar natuurlik maak dit jou ook moeg – en dit is waar Nasionale Tuindag in die prentjie kom. Dié dag is verlede jaar tot stand gebring om tuiniers aan te moedig om die tuinvurk en -graaf vir ’n dag met rus te laat en ’n slag die vrug van hulle arbeid te geniet. Wat moet jy doen? In kort: Soos wat Gloria Denyssen van Pniel verlede jaar gemaak het (inlasfoto), moet jy jou tuin geniet saam met vriende en familie – daardie mense wat altyd vir jou sê hulle wens hulle het net sulke groen vingers soos jy gehad!
’n Paar voorstelle
1
Hou piekniek in jou tuin Aletta Lintvelt het ’n vegetariese piekniekspyskaart saamgestel wat jy dalk met die oes uit jou groentetuin kan maak. Die resepte is op bl. 104. (En as jou “tuin” drie potte kruie in jou kombuis-
vensterbank of op die balkon is, kan jy altyd gaan piekniek hou in die veld of in ’n botaniese tuin in jou omgewing.)
2 Stig ’n plantklub Dis ’n gawe alternatief vir ’n boekklub – bak ’n koek, brou ’n pot tee en vra die lede om elkeen ’n interessante plant of pakkie saad te bring wat julle dan onder mekaar uitruil. Ná 15 Oktober kan julle elke maand in ’n ander tuin ontmoet.
3 Deel dit met ander Deel foto’s van jou tuin, die dinge wat jou tuinprojekte inspireer en wat jy alles op Nasionale Tuindag doen met ander op Facebook, Instagram, Twitter of Youtube. Gebruik die hutsmerk #Gardendaysa.