STEPHEN & BETSIE SLIPPERS
Entrepreneur en markorganiseerder (met Frikkie, die gemmerkat)
“Johannesburg is liefs ’n plek om vandaan te kom,” sê die egpaar Slippers, wat al in Germiston, Pretoria, Bronkhorstspruit, Kwazulu-natal en van 2005 af weer in die Goudstad gewoon het. Stephen het vrede gemaak met die gruwelverkeer, maar Betsie het daagliks met die taxi’s baklei. Tussendeur het hulle bly droom oor “eendag” wanneer hulle “rustiger en groener kan leef en uitreik na ander”.
Dié wens is middel 2011 bewaarheid net ’n hanetree buite B’bos. Stephen, ’n dierevoedingskonsultant, het sy eie onderneming begin wat lekblokke vir vee maak, terwyl Betsie, ’n maatskaplike werker wat in die noorde ’n konferensiesentrum vir ’n kerk bestuur het, ’n organiese groentetuin en later saam met twee buurvroue ook ’n maandelikse mark begin het (sien bl. 34).
Weens ’n sameloop van omstandighede moes Stephen en Betsie, ouers van die Afrikaanse digter Bibi Slippers, afsien van hulle plan om ’n strooibaalhuis te bou. Binne ’n maand het hulle “’n rommelhoop vol molslange en pofadders, waar beeste en varke gevoer is” in ’n huis verander met droë toilette en darem een spoeltoilet vir gaste wat bang is vir die saagselstrooiery.
“Aan die een kant is dié plek presies wat ons nié wou hê nie,” sê Stephen, en Betsie maak die sin klaar: “Maar nou sal ons dit vir niks verruil nie. Ons lewe is béter en rustiger, omring deur sout-van-die-aarde mense wat ons daagliks laat lag. Trouens, ek dink nie ons het al ooit so baie gelag soos hier op B’bos nie.”