Amateursterrekyk Die platteland is net die plek as jy wil begin rondsnuffel in die naghemel, maar onthou: Dis verslawend!
Hoekom wil ’n mens op die platteland bly? Natuurlik is daar ’n hele paar redes, maar een van die belangrikstes is ’n helder sterrehemel. Alan Duggan kyk deur die teleskoop en begin ’n reis wat hom miljoene jare wegvat.
Kyk ’n slag boontoe. As jy gelukkig genoeg is om op ’n klein dorpie of ’n plaas te bly, sit op ’n helder aand al die ligte af... Wat jy sal sien, is ’n skouspelagtige blik op die Melkweg, ’n spiraalsterrestelsel 100 000 ligjare weg – in gewone taal is dit ongeveer 946 073 047 258 080 000 km ( Dis baie ver anderkant miljoen, miljard, biljoen en triljoen; net duskant duiseling
wekkend. – Reds.) – en die tuiste van ons eie taamlik beskeie sonnestelsel.
As jy ’n welaangepaste volwassene is – dus sonder enige grootheidswaan of ’n anti-copernicaanse ingesteldheid – behoort dit jou nederig te laat voel. Deur toe te gee ons blou en effens beteuterde planeetjie is nie die middelpunt van die heelal nie – laat staan nog ’n voorwerp van kosmiese belang – is die eerste stap tot jou debuut as ’n regte, egte plattelandse sterrekyker.
Is jy al opgewonde? Onthou: Jy het nie ’n fortuin nodig om die geheimenisse en wonders van die kosmos te verken nie. Trouens, jy kan wegspring met jou amateursterrekunde-aktiwiteite deur uit te stap en op te kyk. Wat ons bring net mooi by die punt waar ons begin het... >
Wie reik na die sterre?
Watter soort mens kyk sterre? Dis moeilik om ’n tipiese sterrekyker te definieer, hoofsaaklik omdat so ’n soort dier nie bestaan nie. Entoesiaste wissel van astrante nuwelinge (“Hei, is jy op soek na aliens?”) tot ouens wat hulle eie teleskope bou en begrippe soos “zero albedo” en “kwasisteragtige voorwerp” sonder ’n sweem van selfbewustheid rondslinger.
Eienskappe wat nodig is, sluit in geduld, leergierigheid en ’n eindelose nuuskierigheid. Edward Foster, ’n sterretoergids van Brackenfell in die Kaap, beskik oor al dié eienskappe, én dan het hy boonop ’n humorsin wat skrik vir niks nie. Soos baie ander entoesiaste deel hy graag sy kennis – en dít nogal sonder om beterweterig te klink.
Sy belangstelling in die naghemel kom al ’n lang pad. “Ek was 10 of 11 jaar oud toe ek twee jaar lank op my oupa se plaas by Calitzdorp gewoon het. In skoolvakansies was een van my take om bokke op te pas,” onthou Edward, “en dít het beteken jy moes ’n week lank op ’n slag in die veld bly. Snags het ek dan baie tyd gehad om na die sterre te kyk en te wonder wat op aarde daar bo aangaan. Ek het gefrustreerd begin raak omdat nie een van die grootmense my vrae kon beantwoord nie. Ek dink dit was die begin van my liefde vir die sterrekunde. Ek móés net meer weet.”
Begin by die begin...
Die eerste stap is om die regte plek te kry, verkieslik ver weg van die stadsliggies. ’n Plek waar jy sterre kan sien en die naghemel leer ken. As die gogga dan byt en jy voel jy wil meer weet, is dit tyd om jou stokperdjie as sypaadjiesterrekyker van stapel te stuur.
Die beste sterrekyktoestande sluit uiteraard in skoon lug en so min as moontlik ligbesoedeling, maar faktore
soos temperatuur, lugdigtheid, maanfase én tyd van die dag kan ’n rol speel.
In dié vroeë stadium is dit nog nie nodig om duisende te gaan blaas op ’n teleskoop of verkyker nie – snuffel eerder ’n bietjie op die internet en soek ’n klub naby jou (sien “Klop hier aan” op bl. 63). Oorweeg dit ook om aan te sluit by die Sterrekundevereniging van Suider-afrika (ASSA). Jy’t geen kwalifikasies nodig nie en die ledegeld is baie bekostigbaar: Dit kos R50 om aan te sluit en die jaarlikse tarief is R65. Ingesluit by die prys is ’n gratis eksemplaar van
Sky Guideafrica South, ’n handboek wat gesamentlik deur Struik en ASSA uitge- gee word en waarin jy alles kan lees wat ’n nuweling behoort te weet.
Gebruik jou oë
Gestel jy woon op ’n klein dorpie met skoon lug en daar’s nie ry op ry van daardie nare oranje straatligte nie. Jy gaan ’n hele paar planete sien – Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus – asook die groter sterre wat in konstellasies voorkom én dalk ’n paar oop sterswerms. (Vir sterrestelsels of gas- of stofwolke gaan jy waarskynlik ’n verkyker of teleskoop nodig hê.) Afhangend van waar jy is, behoort jy tot 5 000 sterre met die blote oog te kan sien – en met ’n verkyker of teleskoop etlike duisende meer.
As jy in helder lig was, gaan jou oë 20 minute of langer neem om sensitief genoeg te raak vir die dowwe lig (dit word donkeraanpassing genoem). As jy op ’n sterrekaart wil kyk, gebruik ’n flitslig met ’n rooi sellofaanfilter oor óf, soos Edward voorstel, goedkoop en doeltreffende rooi Led-liggies. Volgens die Sky Guideafrica South is dit belangrik om jou oë effens te beweeg terwyl jy kyk, omdat ’n beeld wat te lank op dieselfde plek op die retina vertoef, later deur jou brein geïgnoreer word. >
Jy sal ook leer wat skramskyk ( averted
vision) is – ’n tegniek wat gebruik word om ’n swakligblindekol in die middel van elke oog te bowe te kom. Dit beteken jy kyk effens na die een kant van ’n voorwerp wat jy wil bestudeer.
Sterrekunde is iets wat almal kan doen, sê Edward, omdat die naghemel ’n oeroue erfenis is wat tot ons almal se beskikking is. Aan die ander kant is dit nie almal se idee van ’n stokperdjie nie. “Party mense se belangstelling sal by die verkykervlak eindig, en dis goed so. Jy kan altyd die verkyker gebruik om na iets anders te kyk.” Maar, waarsku hy, oorentoesiastiese sterrekykers kan deur sosiale gevare bedreig word. “As jy die heeltyd jou vriende by ’n braai deur jou teleskoop laat kyk en jou repertoire is aan die yl kant, gaan hulle ophou om te kom as jy hulle nooi!”
Hy waarsku ook die oomblik as jy ’n teleskoop aanskaf, kan dit lei tot “verslawingsgedrag” wat jou dwing om die heeltyd groter en meer gesofistikeerde toerusing te koop, en dít kan jou bankbalans ’n ernstige knou gee.
Wag tot ounag
Die amateursterrekundige Chris Forder van Durbanville in die Kaap is ’n afgetrede rekenmeester wat nie genoeg kan kry van elektronika nie. Hy is van dieselfde stoffasie as Edward, maar, beklemtoon hy, sý belangstelling in die sterre is bloot ’n neweproduk van sy eintlike liefde, naamlik om teleskope
te bou. Jare gelede, in 1957, het hy en ’n skoolmaat ’n klein teleskoop geleen, dit langs ’n krematorium in Harare, Zimbabwe, staangemaak (moet eerder nie vra nie...) en heelnag na Saturnus gekyk.
Dít was die saadjie vir ’n lewenslange hartstog wat in 60 jaar nog nie verflou het nie. “Ons kon baie beslis nie ’n teleskoop bekostig nie, en daarom het ons wyle Patrick Moore se boek gebruik om een te bou. Ons het die lense uit ’n ou patryspoort geslyp, ’n baie basiese driepoot geprakseer en uiteindelik gesit met ’n heel skaflike 8 duim-weerkaatser.
“’n Paar jaar later het ek ’n groter patryspoort in die hande gekry en ’n 12 duimteleskoop gebou. Sedertdien het ek al 50 teleskope van verskillende groottes gebou. Dis arbeidsintensief; dit kan tot ses maande neem om ’n lens te slyp en poleer. Ek het altyd teleskope op bestelling gemaak, maar daai druk is te erg!”
Chris is dikwels by die Sederbergse Sterrewag waar hy en ’n paar vennote die hemele met ’n verskeidenheid teleskope bestudeer. Hulle hou gereeld skyfievertonings vir skoolgroepe én lede van die publiek. Die sterrewag is in die vroeë jare tagtig begin met skaars meer as ’n plaasskuur, maar dit het gegroei tot ’n indrukwekkende plek met onder meer ’n 16 duim-meade-newtonteleskoop in ’n koepel en ’n 12 duimMeade-schmidt-cassegrain-teleskoop in ’n observatorium met ’n oopskuifdak.
Die publiek se belangstelling in die sterrekunde het ongetwyfeld toegeneem met die koms van die Suider-afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) naby Sutherland and the Square Kilometre Array (SKA) met sy voorloperprojekte, die KAT-7 en MEERKAT by Carnarvon in die Karoo, >
‘Ek het al 50 teleskope van verskillende groottes gebou. Dis arbeidsintensief; dit kan tot ses maande neem om ’n lens te slyp en poleer.’
wat uiteindelik die wêreld se grootste radioteleskoop sal wees.
Dit verklaar deels die toename in sterretoerisme, sê Edward, hoewel daar tog iets is wat krap: “Gewone toergidse moet studeer en ’n eksamen deurkom, maar mense wat sterretoere aanbied, het geen kwalifikasie nodig nie. Maar jy kán nie net improviseer en laat waai nie, want oorsese besoekers weet baie meer as wat ’n mens dink. Ek het eenkeer gesien hoe ’n gids beduie na ’n donker kol in die lug en luidkeels verklaar dis ’n swart gat!” Hy sug, rol sy oë.
Die evangelie volgens Ed
Edward het met die blote oog sterre gekyk (later het hy darem ’n verkyker gebruik) voordat hy in die laat jare negentig ’n 4,5 duim-tasco-spieël- teleskoop aangeskaf het. Ná ’n “ernstige opknapping” is dié piepklein teleskoop sommer goed aan die werk gesteek. Baie jare later, nadat Edward as biochemiedosent aan die Universiteit van Stellenbosch afgetree het, het sy jong liefdesverhouding met die sterre behoorlik geblom.
Saam met sy vrou, Lynnette, ’n gerekende pianis en orrelis, was hy al deel van meer as 150 sterretoerismeen -uitreikprogramme, meestal saam met sy vriend en kollega Auke Slotegraaf, redakteur van Sky Guideafrica
South en hoogs gerespekteerde hoof van die diepruimafdeling by ASSA.
‘Deur te weet wat die 88 konstellasies daarbuite is en wanneer hulle sigbaar is, gee vir jou ’n raamwerk wat sorg vir ’n groot voordeel.’
WARE FILMSTERRE!
Sterfotografie – of astrophotography – is ’n mynveld. Ja, jy kán met die minimum moeite en beskeie toerusting foto’s neem van die sterre en planete, maar as jy eers begin, gaan jy vinnig in jou neseier begin delf om iets groters aan te skaf. Ervare sterrekykers sê ’n mens moenie oorhaastig optree nie. Sterfotografie is iets wat jy baie versigtig moet benader, met toerusting wat jy reeds het – dinge soos ’n goeie lenskamera (DSLR) en gratis sagteware. Jy kan altyd later passtukke aanskaf en vorder “soos jou belangstelling en ervaring toeneem”.
Kort voor lank sal jy ’n paar basiese dinge leer: Verken jou kamera se “Manual”verstelling (die outofokus gaan nié werk vir ’n ster nie), en gebruik ’n afstandsluiterknop om seker te maak daar’s géén vibrasie en gepaardgaande blur nie. As jy ’n kamera wil aanskaf, kies een waarop jy kan sien wat jy doen (die sogenaamde “Live view”-funksie).
As jy gekonfyt raak en langer beligtingstye probeer, gaan jy dalk agterkom jou foto’s lyk nie op hulle beste nie omdat die kamera se sensor warmer is as die buitetemperatuur. Jy gaan ook baie moet eksperimenteer. Die beste, meen die kenners, is om uit ander mense se ervarings te leer.
Hulle grootste geleentheid is die tweejaarlikse Sterpartytjie, wat 50-70 deelnemers met verskillende vaardighede lok – van rou nuwelinge tot ernstige amateurs en hoogs bekwame sterfotograwe. Vir ’n paar dae gesels hulle dan en ruil kennis uit – en natuurlik bestudeer hulle ook die naghemel.
En hoe klink dié verrassende plan: As deel van hulle Stermense-inisiatief bekyk Edward, Lynette en Auke die moontlikhede om die sterrekunde deur middel van sterrekaarte in Braille vir siggestremdes toeganklik te maak. Edward sê hulle is geïnspireer deur blinde mense wat leerlinge van die Athlone Skool vir Blindes in die Kaap bekend gestel het aan die sterre. “Vir dié mense is die lugruim duister, maar dit het tog die potensiaal om hulle lewe te verryk, en daarvan wil ons deel wees.”
Landelike gebiede is om verskeie redes ’n uitstekende plek om ’n belangstelling in die sterreruim aan te wakker, waarvan die gebrek aan ligbesoedeling die belangrikste is.
“Daar is mense in stede wat nog nooit in hulle lewe die Melkweg gesien het nie. Selfs nóg tragieser is die feit dat al hoe méér mense van sterre ontneem word. Mense het slawe geword van die lig.” (Vir meer oor die uitwerking van ligbesoedeling gaan na die Internasionale Donkerruimvereniging se webwerf by
darksky.org – jy sal verbaas wees.)
’n Nuwe wêreld
Wat is Edward se raad? Maak seker jy leer die konstellasies ken. Jy hoef hulle nie almal dadelik te eien nie en jy het selfs nie ’n verkyker nodig nie – laat staan nog ’n teleskoop. Deur te weet wat die 88 konstellasies daarbuite is en wanneer hulle sigbaar is, gee vir jou ’n raamwerk wat sorg vir ’n groot voordeel. “As jy jy eers hierdie fondament het, gaan ’n verkyker jou help om ’n hele nuwe wêreld van wonderlike voorwerpe te verken. Hoewel die verskeidenheid ietwat intimiderend kan wees, sal jy hulle maklik by jou konstellasieraamwerk kan indeel.”
Wanneer jy die nodige huiswerk gedoen en ’n stewige sterrekunderaamwerk opgebou het, is jy reg om ’n teleskoop te kry. Leer ken die instrument en waartoe hy in staat is, sê Edward. “Jou geduld en volharding gaan dan regtig begin vrugte afwerp!”