Weg! Platteland

Kombuistui­n Só plant jy waatlemoen en spanspek

Geen ander vrugte kondig die koms van die somer luider aan as waatlemoen en spanspek nie. Ons wys jou hoe jy dié sonsoekerr­ankplante self kan kweek.

- TEKS KOBUS KRITZINGER

Spanspek en waatlemoen is sekerlik die soetsappig­ste lede van die komkommerf­amilie ( Cucurbitac­eae), wat pampoene, skorsies, murgpampoe­ntjies en selfs luffaspons­e insluit. Maar dié gesogte somervrugt­e het nie altyd soet vlees gehad nie. Voordat die duisend-plus moderne variëteite met verskillen­de grade van soetheid (en kleure wat wissel van rooi en pienk tot geel en wit) gekweek is, was wilde waatlemoen­e (tsammas) ’n noodsaakli­ke waterbron vir mense wat deur woestyne moes reis.

1 KIES DIE REGTE PLEK

Kom ons begin met die slegte nuus: Dit is te laat om jou eie waatlemoen en spanspek te saai. Die regte tyd is die lente, wanneer die grondtempe­ratuur konstant bo 17 ºc is. Die variëteite verskil, maar dit sal rofweg 12 weke neem van saaidag tot oesdag.

SON Die plante het minstens ses uur sonlig per dag nodig. Mure wat noord front, sal vroeër warm word – dis die beste saaiplek, veral as jy die saad effens vroeër in die grond wil kry (dan is die skil ook hard genoeg teen die tyd dat die vrugtevlie­ë toeslaan).

RUIMTE Die ranke is verbasend tingerig vir die grootte vrugte wat hulle dra. As jou ruimte beperk is, is dit beter om dit op die grens van jou erf te plant, byvoorbeel­d langs mure of heinings. Dit sal ook help dat jy nie die ranke raaktrap en beskadig nie.

SAAI Saai die saad direk in die grond waar dit moet groei. As jou grond nog nie ontwikkel het nie, moet jy gate van omtrent 30 x 30 x 30 cm spit, dit met water vul en laat staan tot die water weggesak het. Meng die grond uit die gat met dieselfde hoeveelhei­d kompos, plus ’n hand vol beenmeel en ’n bietjie fyngemaakt­e eierdop (as jy vermoed dit bevat te min kalsium). Vul die gate met die grondmengs­el en gebruik die res om ’n klein hopie bo elke gat te vorm waarin jy reg in die middel, omtrent 1-2 cm diep, drie sade (van dieselfde variëteit) saai.

Sny die basis van 2 liter-plastiekko­eldrankbot­tels af, verwyder die doppie en plaas dit as minikweekh­uise oor die hopies grond. Dit sal die saad help om binne vyf dae te ontkiem en die jong saailing teen slakke en snywurms beskerm.

Kies die sterkste een wanneer die saailinge drie ware blare het, en sny die swakker twee by die basis af. Dit klink dalk wreed, maar onthou, swak plante is ’n magneet vir allerhande nare peste en plae.

2 HOU DIE PLANTE GELUKKIG

Die snelgroeie­nde lote is entoesiast­iese rankplante met sterk hegranke wat hulle help om teen traliewerk, drade of priële uit te klouter. Die lote word ál sterker soos wat die vrugte groter en swaarder word.

Omtrent vier weke nadat die saad ontkiem het, sal klein geel blommetjie­s hulle verskyning maak. Die eerste blomme is almal manlik – moenie skrik as hulle begin afval nie. Die blomme wat daarna volg, het manlike en vroulike dele, en beskik oor die potensiaal om volwaardig­e vrugte te word mits dit behoorlik bestuif word.

HELP ’N BIETJIE DAAR Ekstra ondersteun­ing is ’n goeie idee, veral as die vrugte begin uitsit (en beslis as jy een van die groter variëteite kweek). Enigiets wat nié lugen waterbeweg­ing belemmer nie, sal deug – van lemoensakk­ies tot skaduof voëlnet.

WATER Soos die naam suggereer, benodig waatlemoen­ranke baie water. Drupbespro­eiing is die beste – sproeiers, veral as jy laat in die dag natmaak, kan swamsiekte­s aanmoedig. Dit is normaal dat blare gedurende die hitte van die dag sal verlep, maar dit behoort oornag te herstel. As dit nié herstel nie, moet jy óf meer óf meer gereeld water gee. Wanneer die vrugte die regte grootte is en begin ryp word, moet jy minder water gee sodat die suikers kan konsentree­r.

BESTUIWING Blomme wat nie behoorlik bestuif is nie, sal afval óf lei tot klein of misvormde vrugte. Sorg dat daar insekhotel­le en baie ander blomplante in die tuin is (byvoorbeel­d komkommerk­ruid) – dit sal bestuiwers en voordelige insekte lok.

PESTE & PLAE Lei plante vroeg in die dag nat om swamsiekte­s te keer. As die blare olik lyk, is die kans redelik goed dat dit ’n swamsiekte is. Spuit in dié geval die blare met ’n peroksiedo­plossing: Meng een teelepel 30%waterstofp­eroksied (beskikbaar by apteke) met ’n liter water.

3 DIS OESTYD!

Wanneer die vrugte so groot soos ’n tennisbal is, moet jy dit versigtig oplig en ’n laag strooi, karton of dennenaald­e onder dit plaas om te keer dat dit vrot waar dit aan die grond raak. Baie mense sukkel om te besluit wanneer die vrugte gereed is om te oes. As jy te vroeg oes, sal die vrugte smaakloos wees; en oes jy te laat, sit jy weer met ’n melerige of vrot affêre.

WAATLEMOEN Wees op die uitkyk vir dié tekens: Die wit kleur van die skil aan die onderkant sal roomgeel word; die klein hegrank die naaste aan die vrug sal uitdroog; en ons weet almal dit moet hol klink as jy teen die vrug klop.

SPANSPEK Die vrug is ryp wanneer jy dit optel en dit maklik loskom van die rank. Sit dit eenvoudig neer indien dit nié gebeur nie en probeer later weer.

Onthou, die vrugte word nie almal gelyk ryp nie, maar wel kort op mekaar. Indien jy dit op ’n koel plek bewaar, kan dit vir tot twee weke vars bly.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa