Só is die lewe Danie Marais blaf binnetoe op Hondeklipbaai...
Hondeklipbaai lyk na die naakte waarheid der Weskuswaarhede, maar dis hier waar Danie Marais en twee ou skoolvriende weer voel soos die snaakse, gelukkige en sorgelose ouens wat hulle eens op ’n tyd was.
‘Waar is Hondeklipbaai?” wou ek en Dries min of meer gelyk weet toe Wynand sê hy het vir ons daar plek bespreek in, wel, die Honne-pondokkies.
“In die Weskus,” het hy geantwoord. Ek het ’n plek soos Paternoster of Jacobsbaai geraai – een van daai Weskusplekke wat voel soos ’n Griekse Karoodorp met rye kalkwit huisies by die see.
Maar toe ek “Hondeklipbaai” op Google gaan soek, sien ek dit lê doer aan Namakwaland se Weskus, grondpad langs 90 km noordwes van Garies. Volgens Wikipedia het die 2001-sensusopname 468 bruin, 36 swart en 36 wit mense in Hondeklipbaai getel van wie 504 Afrikaans as hulle moedertaal aangegee het. Net drie het hulleself as Engels beskou.
“Hoekom dan Hondeklipbaai?” wou ek weet.
Die gedagte was immers ’n minireünie. Ek en Dries en Wynand is van skooldae af al groot vriende, maar nou is ons in die veertig met kinders en eksvroue en allerhande alledaagse komplikasies. Dries woon deesdae in Ysland en ek en Wynand kom selde tot verhaal – wat nog te sê by kuier uit. Die plan was dus om intensief te kuier en uit te vind hoe goed ons mekaar nog ken.
Hondeklipbaai het vir my egter begin klink na veldskool by die see. Boonop is
Wynand ’n volslae stadsjapie wat paniekerig raak op ’n klein dorpie. En nou wil hy Hondeklipbaai toe?
“Wel, ek het eers vir ons ’n plek naby Hermanus bespreek,” het Wynand gesê. “Maar toe ek dit vir my vrou vertel, was haar reaksie: ‘Ek dag julle wil ’n road
trip doen, iets anders. Nou wil jy gaan Woolieskos eet en wyn drink op Hermanus? Hoe vervelig.’ ”
Wynand het hom eers vererg, maar toe dink hy sy het dalk ’n punt beet: ’n Klein ekspedisie buite ons gemaksone is dalk net wat ons nodig het. En toe klink Hondeklipbaai vir hom na baie ver buite enige gemaksone. WYNAND WAS REG. Toe ons ná 90 km se absoluut verlate, plekplek sinkplaatstofpad Hondeklipbaai binnedwarrel, was ek bedug.
Hondeklipbaai is ’n bietjie soos daai woestynplaasplek waar Luke Skywalker grootgeword het, maar met donkiekarre pleks van vinnig vlieënde vaartuie en hoëmasbeligting oor Hophuise wat nie minder verlate lyk as al die ander huise wat daar laat staan is nie. Dis die skaalmodel van ’n kolonie op Mars – langs die koue Atlantiese Oseaan en die spergebied van twee myne. Waar ’n mens die hoofstrand verwag, staan ’n verlate kreeffabriek van sink. Op Hondeklipbaai is Pam Golding en gentrification gerugte uit ’n ander sonnestelsel.
Die plek herinner my aan een van Dries se gunstelingstories: Een Sondagoggend ná ’n lekker partytjie van ’n naweek stap hy by ’n kafee op Paternoster in en vra die Sundaytimes. Maar die oom by die till stoot die Rap
port oor die toonbank na hom toe en sê: “Nee, Meneer, hier verkoop ons net die waarheid.”
Wel, Hondeklipbaai lyk met die eerste en laaste oogopslag na die naakte, onverdraaibare waarheid der Weskuswaarhede.
Op Hondeklipbaai is wat jy sien, ooglopend wat jy kry, maar presies wát jy kry uit ’n dorpie wat hier op ’n klipperige kus uitgespoel het soos die fragmente van herinneringe aan ’n onherbergsame droom wat jy nooit gehad het nie, is onduidelik.
Hondeklipbaai is die laaste asem van ’n naam wat uitgeblaas is oor ’n koue oseaan. Hondeklipbaai is ’n ode aan niks en niemand nie. Hondeklipbaai gaan nie sommer Kwêla se Dorp van die Jaar word nie.
Op Hondeklipbaai is daar uiteraard ’n klip naby die polisiestasie wat met heelwat verbeelding lyk na ’n soort mopshondleeu wat op sy voorpote lê. Op Hondeklipbaai is alles naby aan die polisiestasie.
“You shall love your crooked neigh bour / With your crooked heart” het William H. Auden gedig. Op Hondeklipbaai is dit al genade, want hier is jou buurman waaragtig jou naaste.
Op Hondeklipbaai verskyn ’n gemoedelike oom van Garies wat in die hut langs joune bly, skielik met ’n magtige boep langs jou braaivleisvuur en gesels of hy familie is. Op Hondeklipbaai kon ons eers kreef in die hande kry toe ons op die punt was om te vertrek – die einste oom van Garies het dit gereël.
MAAR OP HONDEKLIPBAAI het ek en Wynand en Dries agtergekom hoe baie ons nog vir mekaar te sê het. In die Honnepondokkies – volslae selfsorghouthutte met ’n dapper rooi Weber wat soos ’n bliksoldaat voor elke pondokkie oor die see en aangrensende spergebied waghou – wys elkeen noodgedwonge weer sy ware kleure nes destyds op veldskool, by die Kjakamp of in die koshuis. Dis in sulke bevreemdende ruimtes waar die lewe saam met die regte mense in ’n sitkom kan verander.
In die Honnepondokkies kon ek en Wynand en Dries weer in ons ou rolle glip. En dis wanneer jy daardie ou rol speel dat jy ’n slag weer voel soos die snaakse, gelukkige en sorgelose ou wat jy eens tog dikwels was. Dan besef jy ook dat jy een van jou gunstelingselwe net kan wees in die geselskap van sekere onvervangbare ou vriende.
Vandag dink ek met die soort onbeskaamde nostalgie wat gewoonlik net jeugherinneringe beskore is, terug aan ’n laaste koppie troos in die Gallerykoffiewinkel, waar ’n verroeste ou BMX by die ingang bo ’n oop toilet hang wat in die sand as ’n blombak staangemaak is. Uit die toiletbak groei vetplante.
Op die stoep van die Gallery, langs ’n geïnspireerde rooi klavier, het ’n oom sommer by ons kom sit en gesels. Sy twee toy poms het stroopsoet langs hom op die bankie gaan lê.
Die oom met die sagmoedige grys snor het vertel hy het op Hondeklipbaai kom aftree, want hy het genoeg gehad – van skarrel en skelms en worry.
Is Hondeklipbaai dus so veilig soos wat dit afgeleë is? “Ja!” sê die oom met ’n glimlag. “Twee jaar gelede was daar net een inbraak op Hondeklipbaai. Toe neem ’n nuwe polisiekaptein oor, ’n gawe ou, en soos die duiwel dit wil hê, is daar toe verlede jaar twéé inbrake. Nou moes die nuwe kaptein in Kimberley gaan verduidelik hoekom daar ’n 100% styging in misdaad was.”
TOE ONS NÁ DIE GELAG uitkyk aan die Gallery se seerowervlag verby tot anderkant die stil ou kreeffabriek, kon ons Hondeklipbaai deur die oom se oë sien.
En net daar loop drie mak alpakkas nader, want in die agterplaas van hierdie Gallery maak ’n paar absurde diere onder stille begeleiding van ’n rooi klavier absoluut sin. “’n Alpakka loop in by ’n koffiekroeg...” is nie die begin van ’n grappie op Hondeklipbaai nie.
“Kyk, Lama – lamas!” het Dries vir my gesê. (Dries is die ou wat my een laataand nadat ek pêrels van groot wysheid gedeel het, die “Danie Lama” gedoop het: “Jy weet, ná ’n paar drankies verander jy in die Danie Lama. En dan kan ek niks wat jy sê, meer ernstig opneem nie.”)
“Dis alpakkas,” het ek hom reggehelp. “Tomatoes, tomatoes,” het Dries gesê. “Ons moet ’n foto neem.”
Wanneer ek nou na daai foto kyk, oorval kosbare stukke Hondeklipbaaizen my. Wynand se vrou was reg: Hermanus is nié Hondeklipbaai nie. Soms is ’n kuier op ’n plek so ver en woes geleë die enigste manier om te onthou wie jy was en wie jy nog soms mag wees.
Die drie Engelse inwoners het ons nooit ontmoet nie. ’n Mens kan nie alles glo wat Wikipedia sê nie.
‘ ’n Klein ekspedisie buite ons gemaksone is dalk net wat ons nodig het. En toe klink Hondeklipbaai vir hom na baie ver buite enige gemaksone.’