Wat beteken ‘craft’ regtig?
Eers was dit boetiekbier, toe kom boetiekjenewer en nou wink boetiekrum en -whisky – in Engels bekend as ‘craft’ – glo op die horison. Maar beteken dié etiket hoegenaamd iets in Suid-afrika?
Suid-afrika, het ’n siniese kollega op ’n keer gesê, moet sekerlik een van net ’n handjie vol lande ter wêreld wees waar goeie, unieke, handgemaakte produkte binne ’n ommesientjie massageproduseer (maar steeds as “boetiekprodukte” bemark) word en die hele spul – die regtes én die slegtes – uiteindelik aan die kortste ent trek.
Die drie Du Plooy-broers knik en grinnik effe ongemaklik. Hulle is immers deel van hierdie “boetiek”-revolusie, maar was ook al aan die ontvangkant van kritiek met kieskeurige jenewerdrinkers wat byvoorbeeld wonder of jy De Vry se Die Droë Rooinek-jenewer enigsins jenewer kan noem. Is jenewer nie veronderstel om ondanks al die geheime botaniese byvoegings steeds met die oorheersende geur van jenewerbessies te spog nie?
“Dis ’n moeilike saak,” sê Gerrit, “want SuidAfrika met sy magdom geurige inheemse en medisinale plante het inderdaad die potensiaal om die hoofstad van die wêreld te word. Ongelukkig spring ’n helse klomp mense net op die lawaaiwa met die hoop om vinnig ’n paar sent te maak. Hulle koop byvoorbeeld groot hoeveelhede skoon alkohol in wat baie goedkoper is, voeg goedkoop geurmiddels by, vra iemand om dit vir hulle te bottel en kry dan ’n groot maatskappy om ’n hele paar duisend bottels van hulle sogenaamde ‘boetiekproduk’ te versprei. Wat is in só ’n geval craft of uniek omtrent die proses of eindproduk?
“Ek vra dit bloot as jy dit vergelyk met ons, wat die graan – of dit nou mielies, sorghum of rog is – óf self kweek en oes óf dit by bure in die distrik koop, self fyner maak, self laat gis en distilleer, self verpak en grootliks self versprei. Daar behoort ’n onderskeid getref te word tussen boetiekdistilleerders, boetiekvermengers en boetiekverspreiders.”
Die plaaslike mark vir boetiekprodukte groei wel met rasse skrede én die mark se smaak het ontwikkel, sê Pasch, maar hy meen talle van hierdie produkte is gewoon té kompleks en té kleinskaal – en dus te duur – vir talle van die kopers, wat “net genoeg weet om gevaarlik te wees”.
“By die restaurant op Franschhoek, byvoorbeeld, het ouens al die chorizo, wat ten duurste uit Spanje ingevoer word, terug- gestuur omdat dit ‘nie reg smaak nie’ – dis nou omdat hulle net die goedkoop namaaksels van chorizo ken wat dikwels hier verkoop word. Of hulle sê die karoolam smaak ‘snaaks’ omdat dit, anders as die ‘karoolam’ wat hulle waarskynlik op special by hulle supermark koop, régtig uit die Karoo kom waar die skape régte bossies vreet.
“So... uiteindelik wil net sowat 1% van die mark regtig álles weet omtrent jou produk en kan hulle die eiesoortigheid daarvan waardeer omdat hulle reeds genoeg kennis of ervaring het om dit met soortgelyke produkte in dieselfde prysklas te vergelyk. Ek sou sê minstens 90% van die kopers in die boetiekmark koop die produkte omdat dit cool is of omdat hulle gehoor het dis
cool. As jy ’n wilde Vrydagaandpaartie gooi en julle gewoonlik drie bottels goedkoop kommersiële rum op só ’n aand uitdrink, gaan jy waarskynlik nie ons handgemaakte kleinskaalrum, wat drie keer duurder is, kan bekostig nie. Daar is niks hiermee fout nie – dis twee verskillende markte en ons moes self leer vrede maak met die feit dat jou produkte nie tot almal kan spreek nie.”