Soutige brood-enbotterpoeding
Hierdie gereg is bekend as strata, en dis ’n lekker manier om dag oue brood te gebruik en iets vullends vir ontbyt voor te sit. Jy kan dit verder opkikker deur gebraaide sampioene en spek by die krulkoolmengsel te voeg. Boonop kan jy die gereg in die aand maak en dit in die yskas hou sodat jy dit die volgende dag kan bak net voor die gaste aansit.
Genoeg vir 4 Bereidingstyd 20 minute Baktyd 45 minute
JY BENODIG
• botter om te smeer • 4-5 koppies dag oue witbroodblokkies • 5 eiers • 1-2 eetlepels (15-30 ml) dijonmosterd • 1 koppie (250 ml) melk • 1 eetlepel (15 ml) olyfolie • ½ rooiui, gekap • 1 knoffelhuisie, fyngedruk • 2 koppies (500 ml) gekapte krulkool
( kale) of spinasie • ’n knippie droë brandrissievlokkies • 2 koppies (500 ml) gerasperde
beleë cheddar • ½ koppie (125 ml) fyngerasperde parmesaan
SÓ MAAK JY
Verhit die oond tot 180 ºc. Smeer ’n oondbak wat 2 ℓ kan hou met botter. Gooi die broodblokkies in ’n mengbak. Klits die eiers, mosterd en melk saam en giet dit stadig oor die blokkies brood. Meng dit met jou hande deur en laat dit eenkant staan om te week.
Verhit die olyfolie in ’n pan en soteer die ui tot sag. Voeg die knoffel, krulkool of spinasie en sout, varsgemaalde swartpeper en droë brandrissievlokkies na smaak by. Roerbraai dit tot die krulkool begin verwelk.
Skep ’n derde van die broodmengsel in die gesmeerde bak, gevolg deur ’n derde van die krulkoolmengsel. Meng die twee kase en sprinkel ’n derde daarvan bo-oor. Herhaal die proses en eindig met ’n laag kaas. Gooi enige vloeistof wat in die broodbak oorbly bo-oor. Bak die strata vir omtrent 45 minute of tot dit uitgepof en goudbruin is. Laat dit vir 10 minute rus en sit dit warm voor. >