Reuse-gemmermuffins
Met dié blitsmetode is dit kinderspeletjies om soggens “muffins” te bak wat jy ná die tyd net in blokke sny.
Genoeg vir 8 Bereidingstyd 20 minute Baktyd 15 minute
JY BENODIG
• 1 appel • fyngerasperde skil en sap van 2 suurlemoene (hou dit apart) • ¼ koppie (60 ml of 60 g) fyngerasperde vars gemmer • ¾ koppie (180 ml) ligte bruinsuiker plus 45 ml ekstra om oor te sprinkel • ½ koppie (125 ml of 115 g) botter • 2 eiers • 1 koppie (250 ml) karringmelk • 2 koppies (500 ml) meel • ¾ teelepel (3,75 ml) koeksoda • ½ teelepel (2,5 ml) sout
SÓ MAAK JY
Verhit die oond tot 180 ºc. Voer ’n bakplaat van 20 x 30 cm met bakpapier uit. Sny die appel in papierdun skyfies en dompel dit in die suurlemoensap waarby ’n bietjie water gevoeg is. Gooi die gemmer, ’n kwartkoppie (60 ml) van die suiker en die suurlemoenskil in ’n versapper en pols dit in saam. Room die botter, gemmermengsel en oorblywende halwe koppie (125 ml) suiker in ’n menger tot dit glad is. Klits die eiers een-een by. Voeg dan die karringmelk, meel, koeksoda en sout by en klits dit tot net-net gemeng. Skraap die beslag in die middel van die bakplaat uit en sprei dit liggies met ’n spatel uit om ’n reghoek van 2-3 cm dik in die middel van die bakplaat te vorm. Moenie dit te dun smeer of die hele boom van die pan probeer bedek nie. Pak die appelskyfies versigtig bo-op die deeg en sprinkel 3 eetlepels (45 ml) suiker eweredig bo-oor. Bak dit vir 15 minute tot goudbruin, bros en deurgaar. Sny dit in blokke en sit dit dadelik (nog warm) voor met ’n bietjie gesmelte botter.