Weg! Platteland

Só is die lewe

Ryno Eksteen onthou die dag toe hy sy gunsteling­hoender vir die basaar moes skenk

- ILLUSTRASI­E DIEK GROBLER

Ma hang soos ’n vink aan die Ford Fairlane se stuurwiel. Dis Pa met sy lang bene wat die sitplek so agtertoe skuif. Ma los dit net so. ’n Sitplek skuif mos makliker agtertoe as vorentoe. Die gaping tussen haar en die rugleuning is groot genoeg sodat ek daar kan staan, maar ek mag nie. Ons moet mooi ry vandag, want ek het ’n baie spesiale passasier op my skoot.

Wanneer Ma vir mense waai, is dit soos konsert hou. Sy roep die naam van elkeen langs die pad hardop uit, al kan hulle haar nie hoor nie. Vir die mense regs van ons waai sy met haar linkerhand; vir dié aan die linkerkant waai sy met die regterhand. Sy werk haar waaiery oorkruis. Nes sy soms wys ons gaan links draai, dan gaan sy regs.

Pa waai anders. Hy lig net sy wysvinger van die stuurwiel af en laat dit weer sak. Hy ry eintlik net Sondae met die kar: kerk toe en as ons gaan kuier.

Sondae ry ons so twintig voor tien in dorp toe. Dan sit ek in die middel op die agtersitpl­ek, met ’n groot dasknoop en ’n frons. In die kerk staan “God is Liefde” op die kanselklee­d geborduur. Op die lap se rande is patrone in goue draad gevleg. Ek wonder altyd hoeveel ure se werk in daardie tapisserie ingegaan het. Stekie vir stekie. Was dit ’n liefdestaa­k van ’n gemeenteli­d? Kry haar gesin vrypas om vir die res van hulle lewe, Sondag ná Sondag, sonder kollekte kerk toe te kom? Of is dit miskien die handewerk van daai vriendelik­e oom wat in die huis naby die silo’s bly? Ma sê hy brei sy eie truie.

Terwyl die diens aan die gang is, verkyk ek my altyd aan die orrelpype. Hulle is in ’n patroon gepak tot byna teenaan die dak. Soms tel ek hulle tot by ses-en-twintig. Ander kere kom ek by nege-en-sestig. Wanneer my oë begin swem tussen die regop lyne en die openinge naby die skerp punte waar hulle asemhaal, begin ek weer van vooraf tel. Pa sê die vorige dominee se kinders was soos orrelpype, maar ek ken niemand met soveel kinders nie.

Pa sit altyd toe-oë en luister na die preek en suig en kou aan Xxx-pepermente. Ek het eenkeer geneul om ook ’n lekkertjie te kry. Pa het in sy baadjie se binnesak gegrawe en sonder om sy oë oop te maak vir my so ’n klein ronde enetjie gegee. Ek het begin hoes en buite het Ma my laat opgooi. Op pad huis toe het my susters gegiggel. By die tweede motorhek het Ma gesê Pa moet versigtige­r wees met my: “En maak oop jou oë as jy met die kind praat.”

Motbolle lyk baie soos pepermente.

VANDAG IS ONS OP PAD DORP TOE vir die basaar in die kerksaal. Die twee meisiekind­ers sit agter met eenderse rokke. Ma sê die kerk het vele behoeftige­s wat gehelp moet word, maar sy dink 1978 se basaar gaan baie maak. Toeks, my rooibruin australorp-hen, sit stil op my skoot. Sy is vir die basaar. Sy is broeis en daarom op haar mooiste. Toe ek haar in die hok gaan haal en my hand onder haar warm vere indruk, het sy haar opgepof en liggies aan my hand gepik. Ma sê ’n mens gee net jou mooiste vir die Here.

As jy ’n hoender se kop onder haar vlerk indruk, bly sy net so lê. Ek het al dertig hoenders só op die werf laat lê. Wit en bruin en swart hoenders deurmekaar, en ’n koekoek of twee. Eendag roep ek vir Ma om te kom kyk.

Sy speel altyd so lekker saam: “Nou wat kan dit wees wat hulle so laat lê? Dink jy hulle slaap net ’n bietjie?”

“Ek weet nie, Mamma. Toe ek weer sien, toe land hier ’n lugskip wat groter is as een van Pa se melklorrie­s en mense wat soos konyne lyk het met die hoenders gepraat en toe gaan lê hulle.”

“O,” het Ma gesê. Sy het by ’n hen gekniel en haar vere gestryk. Die hennetjie het opgespring, verward rondgekyk en onsigbare saadjies op die grond begin pik. Toe vroetel ek en Ma al die hoenders se kop weer onder hulle vlerk uit. Ons het gelag en niks daarvan vir Pa gesê toe hy van die lande af terugkom nie.

Ma kla baiekeer ek pla haar hoenders wat moet lê, maar ek en die henne verstaan mekaar. Ek gaan graag hoen- derhok toe. Ek bodder nie veel met die leghorns nie. Al lê hulle die meeste eiers, broei die ander soorte beter. As ek mooi vra, sal my staatmaker­s vir my enige eier uitbroei. Laasjaar het die einste Toeks ’n tarentaalk­uiken uitgebroei van ’n eier wat ek by die rivier opgetel het. Ma het gesê ek mors my tyd, die eier is waarskynli­k vrot, maar een-en-twintig dae later het die tarentaal tussen elf hoenderkui­kens onder Toeks se vlerk gesit. Hy was ’n voorbarige en astrante voël. Ek was bang vir hom. Maar tog ook lief vir hom. Al die kolletjies. Toe ek masels kry, kon ek vir ’n lang tyd nie buitentoe gaan nie. Ek moes net in my kamer lê met die gordyne dig toegetrek. Ek het my verluister aan al die werfgeluid­e. Op ’n dag kon ek nie meer die tarentaal hoor nie. Daardie aand het ek gehoor hoe Pa sê wildsvleis smaak nou maar net anders in ’n pastei.

DIE KERKSAAL IS VOLGEPAK met mense. Ek hoop ek wen die lootjie om vir Toeks terug te kry. Ek het geld vir vyf kaartjies as ek niks anders koop nie. Ma sê die kans is skraal; ’n mens moenie jou hoop op dobbel sit nie. Ek kyk nie eens in die rigting van die kindertafe­l nie. Gelukkig sal Ma genoeg poeding koop om saam te neem huis toe. Sy’t ’n hele paar leë Tupperware­bakke saamgebrin­g.

“En hoekom hou jy die klong se hand so vas?” vra ’n tannie vir Ma nadat sy alles vertel het wat die dokter sê haar makeer. “Hy’s oud genoeg om self te loop.” Ek gaan staan agter Ma. “Nes ’n hanslam,” sê die tannie en loop weg. Ma hurk en troos dat Haas Das se

Nuuskas vanaand weer op televisie wys. Aan die begin het ons by mense op die dorp gaan televisie kyk – beeldradio, soos hulle dit genoem het. Pa het gesê ons kan ’n televisie kry as daar eendag ontvangs op die plaas is vir die antenna. ’n Paar dae lank het mense op die werf rondgeloop met lang stokke en toetsboksi­es, knoppies en batterykof­fertjies, en drade en pype – soos ’n klein blaasorkes op soek na ’n wysie. In die middel van die hoenderhok was wel ’n sterk sein, maar Pa het gesê hulle moet verder soek. Ek het al gesien hoe sit die hoenders en kyk

Redding Internasio­naal. Vir my is Swellendam so internasio­naal as kan kom. Ons plaas is my hele Suid-afrika.

Die enigste ander plek waar ons ’n sein kon kry, was in ons voortuin, tussen die kappertjie­s en die slakke. Op ’n lang paal het hulle ’n ding vasgemaak wat soos ’n vlieër lyk, maar sonder papier en ’n stert, net die geraamte. Pa het gesê hy doen dit vir ons; nou kyk hý tot die vlag waai, die inry op Riversdal skielik vergete.

BY DIE BASAAR loop plaas- en dorpsmense nou deurmekaar en praat oor en weer. Pa is uiteindeli­k ook hier. Hy het een van sy skape met die bakkie ingebring. Ek sien hy praat saggies met die dominee. My oog bly op Toeks in haar hok. Ek wil niks anders as vir haar terugwen nie. Pa kom sê Toeks lyk mooi. Ek kyk weg. Ek is kwaad vir Pa. Hy weet ek weet my tarentaal is nie hemel toe nie. Hý het hom opgeëet.

Die dominee klim op die verhoog, maak keel skoon. Die looitjietr­ekkery gaan begin. Die mense raak stil. Oom Fourie, die hoofouderl­ing, gaan staan langs Dominee om hand by te sit. Hulle begin by Toeks. Die dominee steek sy hand in die boks en trek ’n looitjie, maar nog voor oom Fourie kon vra wie se nommer dit is, het Dominee Pa se naam uitgeroep.

‘ Toeks is vir die basaar. Sy is broeis en daarom op haar mooiste. Toe ek haar in die hok gaan haal en my hand onder haar warm vere indruk, het sy haar opgepof en liggies aan my hand gepik. Ma sê ’n mens gee net jou mooiste vir die Here.’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa