180 º
Jacques Pauw vind Die Hemel
Gamkaskloof
Kyk, dáár loop die kronkelpad na my siel, die afdraande na Die Hel, ’n ontvlugtingstog na waar Jacob Zuma en sy trawante nie gehoor of gesien kan word nie. Vir my is dit Die Hemel. In só ’n plek wil ek doodgaan: in die skadu van Vaal Johannes of Koot Cordier se kothuisie met die son wat nes ’n brandende lemoen in die Swartberg plons en die vroegaandstilte wat soos ’n sagte wolkombers oor die vallei daal.
Die 40 km na Die Hel – ’n plek waar die verlede léwe – is vir baie ’n ikoniese pelgrimstog. Hier het ek my tuisgemaak in Vaal Johannes se ou kothuisie in die verste uithoek van die vallei. (Johannes is vaal genoem omdat hy skaam en teruggetrokke was. As ek reg onthou, het hy ook nie vrou gevat nie – dis hoekom sy huisie net twee vertrekke het.)
Dit was net ek, Vaal Johannes se gees, iemand se foxterriër wat geweier het om van die leunstoel af te klim, en my manuskrip. Daar is nie selfoonseine, wifi of elektrisiteit nie.
Laatnag het ’n geel maan oor die berge gekruip en skimme van die bome gemaak.
Ek het tot vroegoggend in lampen kerslig gelees en veranderinge gemaak en my finale stempel op The President’s Keepers gesit.
Dit is hier waar ek besef het: Dié land is te mooi en te ryk en te sterk dat iemand soos Jacob Zuma dit kan opneuk.