Borrieblomkool en babaspinasie
Genoeg vir 4 Bereidingstyd 10 minute Gaarmaaktyd 30 minute
Hierdie is een my gunsteling- vegetariese geregte wanneer ek lus is vir iets wat lekker maar gesond is. Die geheim is om jou tyd te gebruik en die aartappel behoorlik bros te braai sodat dit ’n kontras kan vorm met die sagte gesmelte feta.
JY BENODIG
• 1 pak (400 g) babaspinasie • ½ blomkool • 2 middelslag-aartappels • 1 eetlepel (15 ml) olyfolie • 5-6 eetlepels (75-90 ml) botter plus ekstra • 1 ui • 1 eetlepel (15 ml) borrie • ½ teelepel (2,5 ml) gemaalde swartpeper • 1 eetlepel (15 ml) garam masala • 2 knoffelhuisies, fyngedruk • 1 groen brandrissie, fyngekap • 2 wiele fetakaas • 2 naanbrode • 1 suurlemoen, in wiggies gesny
SÓ MAAK JY
Was en droog die spinasie en hou dit eenkant. Breek die blomkool in blommetjies en sny die aartappel in blokkies.
Verhit die olyfolie en 4 eetlepels (60 ml) van die botter in ’n groot pan en braai die aartappelblokkies vir 5 minute oor ’n taamlike hoë hitte tot dit ’n bros bruin randjie begin vorm. Roer die blomkool by en braai dit vir nog 5 minute. Die blomkool én aartappel moet behoorlik braai sodat dit ’n effense bros randjie kry.
Voeg die ui, borrie, swartpeper, garam masala, knoffel en rissie daarby, verlaag die hitte en braai dit stadig vir nog 5-10 minute of totdat die blomkool én aartappel gaar is.
Roer die spinasie deur die pan, breek die feta in groot blokke en sit die deksel op die pan. Haal die pan van die plaat af sodra die spinasie verwelk. Proe en geur die mengsel na smaak met nog varsgemaalde swartpeper, sout en nog 1-2 eetlepels (15-30 ml) botter. Sit ook gerus nog rissie of selfs borrie by, indien verkies.
Sit dit warm voor met naanbrode en wiggies suurlemoen om daaroor uit te druk. >