Weg! Platteland

Ontmoet die mense

-

Jaco Mol Helikopter­vlieënier

Jaco het natuurbewa­ring geswot en in 1999 sy praktiese jaar op Skukuza kom doen. Daarna is hy oorsee – Europa, China en Kanada toe – om te spaar vir ’n vlieglisen­sie. Dit was eers in 2015 dat hy permanent hier aangestel is as vlieënier. “Ek was baie bevoorreg, want ek het in parke reg oor die wêreld gewerk. Daar’s mooier plekke, daar’s groter plekke, maar daar’s net een Kruger.”

Toe hulle hier aankom, was Jaco aanvanklik bekommerd oor hulle twee seuns, Juan (9) en Aidan (7). Die gesin was gewoond aan die gerief van ’n Woolies net om die draai, en Skukuza is maar klein en afgeleë. “Maar hulle is mal oor die plek: As ek uitgaan om olifante te vang, kom my seuns saam. Ek glo hulle leer baie meer uit so ’n ondervindi­ng as net nog ’n dag in die klas.” ’n Mens moet wel paraat wees as jy kinders het – om ’n valse sin van veiligheid te kweek kan gevaarlik wees, sê Jaco, veral tussen wilde diere.

“Jy moet versigtig wees om nie té gemaklik te raak nie,” sê hy en kyk rond voor hy die tuinhekke toemaak. “Kyk, jy kan maklik sien wie bly al lank op die dorp en wie is nog groentjies: Die ou wie se hek saans oopstaan, is ’n nuweling.”

Die grootste uitdagings bly volgens hom salarisse en stopery. “Mense begin hier werk omdat hulle ’n liefde het vir bewaring en die natuur. Jy word ’n veldwagter omdat jy dít wil doen, nie omdat jy ’n soldaat wil wees nie,” sê hy. “Maar dís wat ons moes word: soldate.”

As vlieënier, erken Jaco, kan hy baie meer geld buite die park verdien, maar soos hy sê: “Ek is nie bereid om my lewenstyl prys te gee nie”.

Julia Dabrowski Algemene praktisyn, Krugerpark-dokters

Julia woon al twee jaar op die dorp en het van jongs af geweet sy gaan eendag hier kom woon en werk. Sy onthou hoe sy as kind op Skukuza kom kuier het – haar familie het die park gereeld besoek – en sy onthou nog die aanwysings­bordjie na die dokter se spreekkame­r. Sy was 7 jaar oud en het daarvan gedroom om self ’n dokter te word, maar hier was sy gewoon stomgeslaa­n: “Wow, om híér ’n dokter te wees...”

Op Skukuza, sê sy, moet ’n dokter iets van alles kan doen. “Mense kom in met gebreekte tande en dan wil hulle hê ek moet dit uittrek,” vertel sy. “En mense sal enigiets doen om ’n spesialis te vermy; ek moet maar gereed staan.”

Julia en haar man het hierheen verhuis toe hulle besef hulle verwag ’n tweeling. Sy was ’n registrate­ur aan die Universite­it van Kaapstad, en die ure was net té rof om twéé kinders gelyk groot te maak. Daarom was die skuif Skukuza toe ’n welkome een. “Party middae sien jy hoe een ouer ’n bakkievrag vol leerlinge aflaai ná skool,” sê sy. “In daardie opsig voel dit nog soos die ou dae, maar dit is darem heelwat meer geïntegree­r.”

Vir Julia is dit spesiaal om families persoonlik te leer ken. “Ek voel ’n bietjie soos ’n outydse gemeenskap­sdokter, en dít is iets wat ’n mens nie meer in ’n stad kry nie”.

Adam Bikwa Bestuurder, Cattle Baron Grill & Bistro

Adam kom oorspronkl­ik van Johannesbu­rg, maar vier jaar gelede het hy die getoet van taxi’s verruil vir die luidkeelse geroep van die visarend.

Hy is al donkiejare by dié kettingres­taurant en het al reg oor die land gewerk: die Kwazulul-natalse kus, die Wes-kaap en nou Mpumalanga. Toe hy op Skukuza aankom, was dit sy eerste keer in dié provinsie, en hy het glad nie geweet wat om te verwag nie. “Ek ry die dorp binne en my eerste gedagte is ‘jis, ek was al in landelike plekke, maar dié!’” Hy lag hy lekker. “‘Gaan ek hier oorleef?’”

Volgens Adam is die groot geheim om altyd die diere te respekteer, want dan het hulle ook vir jou respek.

In sy eerste maande op die dorp skrik Adam een laatnag wakker van ’n lawaai buite sy huis. Wat sal hy sien? Afrika se gevaarliks­te dier wat alte heerlik in sy tuin wei. “In daardie stadium het ek seekoeie nog net in boeke gesien!”

Adam geniet die rustigheid en hy is dankbaar dat sy kinders hier kan skoolgaan. Hy is veral bly oor hulle blootstell­ing aan Afrikaans, want nou kan hulle drie tale praat, en dit is vir hom ’n groot voordeel. Tog het die klimaat hom aanvanklik ondergekry. “Die eerste maand hier het dit gevoel soos die hel,” onthou hy en sug. “Dit was net té warm. Maar vier somers en winters later is ek gewoond daaraan. Hier is al die seisoene skouspelag­tig mooi!” >

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa