Diamant van die Weskus
Hierdie Weskusdorpie sowat 150 km noordwes van Springbok het in 1855 ontstaan om as hawe te dien vir die kopermyne by Nababeep en Okiep, net noord van Springbok. Maar omdat water skaars is in dié geweste, is muile gebruik om die erts te vervoer pleks van stoomtreine. Die muile het waens op ’n smal spoorlyn gesleep – elke klompie kilometer is vars muile ingespan. Ander goedere en selfs passasiers is met dié muiltreine vervoer en die reis het twee dae geneem.
Toe die kopermyne in 1919 sluit, was Port Nolloth se toekoms in die gedrang. Maar vandat Jack Carstens die eerste spoeldiamant naby Port Nolloth gevind het, is duisende en duisende karaat al uit die see gehaal tussen Alexanderbaai en Kleinsee. En die dorp oorleef.
“Hierdie is die enigste plek ter wêreld waar duikers diamante uit die see suig,” vertel George Moyses, wat self 40 jaar ’n diamantduiker hier teen die kus was. George het op Senekal in die Vrystaat grootgeword en as kind al daarvan gedroom om in die see te duik. “Nogal verregaande vir ’n Vrystaatlaaitie wat skaars water ken!” lag hy.
Hy het in 1976 Port Nolloth toe gekom – “gevlug vir die weermag” – en gehoor van ouens wat in die see duik en diamante soek.
“Ek het gedink: ‘Jislaaik, dís wat ek wil doen’ en dadelik die nodige kursusse gaan doen. Dit is ’n ongelooflike werk, weet jy, al is dit hard en gevaarlik.”
Deesdae werk George in Port Nolloth se museum waar hy vragte vol stories en interessante feite met besoekers deel.
Verhale oor die smokkel van diamante is daar baie. “Vroeër het die ouens wedvlugduiwe in hulle kosblikke die myn ingesmokkel. Dan maak hulle sakkies met diamante aan die duiwe vas wat dan daarmee terug huis toe vlieg. So het die een ou die dag sy duif effens oorlaai. Daai duif raak moeg en soek plek om te land, en hier tussen Alexanderbaai [waar die myn is] en Port Nolloth is ’n boer op sy plaas besig om swaar te kry. Hy bid: ‘Ag, Here, red my tog uit my verknorsing.’ En daar kom daai oorlaaide duif uit die hemel en land langs die boer.”
Om dié rede mag niemand enige vliegduiwe in die gebied aanhou nie, vertel George. Maar dit keer mense nie om te smokkel nie. In die museum hang selfs ’n koerantuitknipsel wat vertel van die dorp se vorige burgemeester, Nick Kotze, wat gevang is weens smokkelary. “Broer, soos ons hier staan, vind daar waarskynlik iewers hier rond ’n vloeksteentransaksie plaas,” sê George. >
‘Ouens het wedvlugduiwe in hulle kosblikke die myn ingesmokkel. Dan maak hulle sakkies met diamante aan die duiwe vas...'
HUGO FOOT IS EEN van die jonger duikers in dié geweste. Hy sê dit is moeilik om net van die duikwerk te lewe. “Die duikseisoen is tussen Oktober en April, en ons het net so 30 tot 50 dae wat die see en weer reg is vir duik. Die ander dae sit jy en wag.”
Daarom probeer Hugo in die ander tye snoek vang én hy en ’n vriend, Sean Nass, het selfs met seereddings en nooddienste begin. “Jy sal dit nie glo nie, maar daar was niks van die aard hier op Port Nolloth nie. Ons het nou al ’n hele paar rescues ter see gedoen. Die ergste was ’n visvangskuit met vyf mans wat omgeslaan het. Ons kon vier ouens red, maar glad nie die vyfde een kry nie. Hy het ’n paar dae later op die strand uitgespoel. Die mense hier sê die lyk loop huis toe, want die dooie liggaam dryf regop onder die water en dit lyk regtig asof hy loop.” >
Hy het self al met ’n skeurtandhaai te doen gekry wat hom rondgestamp het terwyl hy duik.“eers het hy net oor my geskuur, maar later gestamp. In ’n stadium het ek gedink ek gaan hom met die pyp vassuig, maar reken toe dit gaan hom net die hel in maak.”
Maak dit hom opgewonde om te duik? “Kyk, daar is baie mooier klippe onder die see as diamante. Maar ’n diamant het nou maar eenmaal daai vreemde aantrekkingskrag.” Hy lag. “Dit is mos hoe jy weet jy het ’n regte diamant in jou hand: Jy kyk dadelik rond om te sien wie sien jou.”