Maar dit is mos ’n kapokvoël se nes!
Lesers gesels oor die ou dae, gee voorstelle, skel hier en daar...
Baie dankie, Platteland – ek geniet elke seisoen se boek vol raad en daad.
In julle artikel “Karoobossie, ek wil jou hê” ( Platteland #20, Lente 2018) verwys Antoinette Pienaar op bl. 67 na ’n tintinkienes, maar volgens al my voëlboeke is dit die nes van ’n Kaapse kapokvoël ( Cape pendulinepit).
Elke jaar hou ons op Hopefield die Fynbosskou. Hier wys ons al 30 jaar die nessie vir gaste en vertel hulle die kapokvoël se storie soos prof. Kristo Pienaar dit destyds op sy radioprogram vertel het.
Hier by ons is baie kapokbosse. Oor die jare het ons die wonderlikste inligting gekry – ook by gewone mense – maar ek gebruik prof. Pienaar se storie om vir mense, veral kinders, te wys hoe verskillende spesies hulleself beskerm.
In Sappi Voëls vansuidAfrika is daar pragtige foto’s van die kapokvoël en sy nes. Hierin word beweer die voël gebruik die vals ingang om die werklike opening oop te maak, en ons het ook gehoor die mannetjie sit daar terwyl die wyfie binne sit, veral as daar eiers en kleintjies is. Omdat die nes wit en baie sigbaar is, vlieg die mannetjie weg as ’n vyand die nes nader. Dan verander die ware ingang in ’n pap lel wat net die voëltjie met die gekrulde veertjies bo sy bek kan oopmaak.
Dis die wollerige, kapokagtige saad van Eriocephalus
africanus wat die voëltjie gebruik om die pragtige nessie te maak. Ouer mense het vir ons vertel hulle het as kinders die nessie probeer oopbreek, maar dis ongelooflik sterk – wat my laat wonder of die voëltjie nie dalk die een of ander sap saam met die kapokbossade gebruik nie.
Iemand het ook vir ons vertel die getalle van dié spesifieke voëltjie het baie afgeneem in die Karoo omdat hulle skaapwol gebruik wat aan drade vassit, en dít bevat lanolien, wat dan glo die eiers se porieë verstop.