180º Die Baviaanskloof is my plek, sê Ernst van Jaarsveld
Die meesterbotanis, tuinboukundige en skrywer Ernst van Jaarsveld is gaande oor die Baviaanskloof, en vernaam die slim aanpassings wat die plante moes maak om hier te oorleef.
Gert Smitskloof, Baviaanskloof
As ondersoeker en bewonderaar van die natuur is ek bevoorreg om taamlik gereeld in die Baviaanskloof, een van my gunstelingplekke op aarde, te kom.
Hier is die een uitsig so manjifiek soos die ander, maar terselfdertyd is dit een van daardie bestemmings waar ’n mens jou nooit aste nimmer teen die “groot” prentjie moet blindstaar nie. Nee, om die Baviaanskloof in sy volheid te ervaar moet jy fókus en veel fyner kyk.
Die plantdiversiteit is verstommend, veral omdat sewe van Suidafrika se nege biome – subtropiese ruigte, savanneen grasveld (teen die voetheuwels), fynbos (teen die berghange), woude (in die diep kransomsoomde klowe) en Namaen Sukkulentekaroo tussendeur – hier voorkom.
Dié uiteenlopende topografie en geo logie, tesame met die weer en ’n histories digte bevolking herbivore, het plante genoodsaak om sekere aanpassings te maak om te oorleef.
Anders as mense is plante uitgelewer aan die plek waar hulle ontkiem het. Hulle kan nie gou skaduwee of water toe draf of hulle vuiste gebruik om hulle te verdedig nie. Die bitteraalwyn ( Aloe
ferox) gebruik sy bitter sap (chemiese afwering) of dorings (meganiese afwering), terwyl ander soos die kanniedood ( Gonialoe variegata) staatmaak op kamoeflering. Die eetbare, voedsame kerkei ( Crassulaovata) en spekboom ( Portulacaria afra), aan die ander kant, is weerloos sonder enige dorings of giftigheid. Wat is hulle geheim? Hulle gebruik die beweiding en vertrapping om hulle voort te plant en skakel dus dié “misbruik” om in iets positiefs (passiewe weerstand).
Vir my is die beste uitsig van die Baviaanskloof sy smal klowe en steil kranse, veral dié in Gert Smitskloof. Hier kom plante voor wat net op die beskutte kranse groei en gevolglik hulle verdedigingsmeganismes verslap het.
Om in of op hierdie “evolusionêre culdesac” te oorleef klou die weerlose kransbeestong ( Gasteria rawlinsonii) en verskeie ander plantsoorte sterker vas; ander hang of skuil in koel, donker gleuwe. Die kranshanger se beskutting en beskerming is die rots waarsonder hy nie kan oorleef nie.
Dit is ’n plek van verbysterende kontraste. Invloede. Uiterstes. Aanpassings. My soort plek. Waar die kranse antwoord – én slimmer plante – gee.