Weg! Platteland

Koringberg roep my

-

Die foto van Alec de Kock se stoor op Koringberg het my na my kinderjare teruggenee­m toe ons oor skoolvakan­sies by oupa Koos en ouma Huipie op die dorp gaan kuier het. Oupa was in die gemeenskap bekend as “ou Koosboksak” en hy was ook die dorpie se skoenmaker. Hy was ’n stoere Nasionalis en die mure van sy werkswinke­l, net so ’n entjie laer af in die hoofstraat, was beplak met T.O. Honiball se spotprente – die arme Sappe van daardie tyd het maar kwaai deurgeloop in daardie werkswinke­ltjie wanneer klante en vriende ingeloer het.

By ons was die gebou bekend as die Meulhuis, met oom Stoffel Dippenaar (foto bo) as die meulenaar. In daardie jare het jy ’n sak koring by die koöperasie gekoop en na oom Stoffel geneem. My 85-jarige tannie vertel my ooms het ’n groot speelvragm­otor van hout gemaak, mét vere op die voor- en agteras. Ek het nog iewers ’n foto waarop ’n sak koring gelaai word – daarna is eers die koring en toe die meel al spelenderw­ys “vervoer”. Dit was ’n ernstige storie, want niks mog gemors word nie.

Nadat die meule toegemaak het, het oom Stoffel as koster by die kerk en opsigter by die skool gewerk. In ’n stadium is ’n deel van die gebou deur Vermeulen-mense bewoon met wie se kinders ons groot maats was in vakansiety­e.

Ek was lanklaas op Koringberg, maar beplan om weer ’n draai daar te gaan maak om te kyk hoe die dorp verander het.

Dankie vir al die platteland­se stories – ons waardeer dit. Kobus Smit

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa