Eens besige kruispad
Rofweg tussen Springbok en Upington, daar waar die pad lyk asof hy vir ewig reguit gaan aanhou, lê Pofadder reg langs die N14. ’n Oop en droë stuk aarde.
Waar die dorp vandag lê, was vroeër jare ’n standhoudende fontein, en Klaas Pofadder, die Koranna-kaptein, en sy mense het in die 1870’s hier gebly. Christian Schröder van die Rynse Sendinggenootskap het in 1875 met Klaas ooreengekom dat hy sendingwerk hier kan begin doen en onderneem om die plek Pofadder te noem. Die eerste skool en kerk in die omgewing is egter 26 km suid van die huidige dorp gebou, by ’n ander fontein wat Namies genoem was. Eintlik moes die dorp daar ontwikkel het, maar in 1917 is die huidige Pofadder opgemeet – en toe Theronsville genoem. Maar die gemeenskap het meer van die naam Pofadder gehou en dit is later terugverander.
Die Niemöller-familie is regte Pofadders, want hulle is al sedert 1921 hier. Luise Niemöller vertel haar oupagrootjie Heinrich Niemöller het van Duitsland af gekom en die Pofadder-hotel en nog ’n paar besighede op die dorp gekoop.
“Die Joodse eienaar van die hotel, ’n mnr. Abel, het vir my oupagrootjie 1 000 pond geleen om die hotel te koop. Pofadder was in daardie dae ’n besige kruispad en die hotel het ook brandstof verkoop. My oupa Rudy moes glo baie aande op die huis se stoep slaap sodat hy kon hoor as iemand in die nag stilhou op soek na brandstof. Die diamantsmokkelaars het so in die donker beweeg.”
Luise se pa, Gertjie, het in sy leeftyd ’n groot invloed op die omgewing gehad. “Hy het geboer, maar eintlik was hy ’n klipsoeker,” sê Luise.
Gertjie het ’n groot belangstelling in sy wêreld se grond en klippe gehad en het met sy gerondsoekery ’n hele klomp minerale ontdek, waaronder sillimaniet, wat destyds (die laat jare veertig) in groot aanvraag was omdat dit gebruik word in vuurvaste stene vir hoogoonde. (Japan het op groot skaal hoogoonde gebou vir hulle staalbedryf.) Maar Gertjie se sillimanietmyn was nie die enigste groot bedryf wat hy aange- pak het nie; hy het ook een van die grootste karakoelboerderye gehad en het later met dadels begin boer op sy plaas, Klein-pella, noord van Pofadder. Vandag is dié dadelplantasies die grootste in die Suidelike Halfrond.
In 2011 het Luise ná 30 jaar in Johannesburg teruggekeer Pofadder toe om na haar pa, toe 83, te kyk. “Dit is fantasties om weer hier te bly. As jy in die Boesmanland grootgeword het, dan is die plek in jou bloed en jy verlang altyd daarna. Ek moes ook maar weggaan, soos almal. Skoolgegaan in die Kaap >
en later gestudeer op Stellenbosch. My man was die akteur Kerneels Coertzen ( Swart Kat se pa!), maar toe ek terug is in Pofadder, word ek weer Niemöller. Die mense hier gaan net weer met jou aan waar hulle jou laas gelos het.”
POFADDER WAS AL DIE JARE ’n stil plaasdorpie met ’n gawe hotel. Deesdae is dit steeds klein, maar veel besiger. En ondanks ’n splinternuwe tweede hotel sukkel ’n mens om oornagplek te kry. Dit is as gevolg van die groot sonplase wat in die omgewing opgerig is en die nuwe Gamsbergmyn 40 km wes van die dorp.
“Al die nuwe projekte het maar sy goeie en slegte invloede op die dorp. Maar dit is goed dat Pofadder nie in ’n spookdorpie verander nie. Ons het in elk geval hier nog die soort lewenskwaliteit wat jy op min ander plekke sal vind. Hier is soveel spasie en vryheid. Ons kan op soveel plekke van die pad af gaan en die wonderlike natuur beleef. Die Oranjerivier loop net hier bo ons verby en daar kan jy behoorlik uitspan vir ’n dag of twee. Man, en ons braai maklik drie keer ’n week. Dis mos die lewe!” sê Luise.
Pofadder is nie vol winkels nie. Hier is ’n Saverite, ’n lekker slaghuis en ’n Foodzone. En natuurlik ook ’n koöperasie, die KLK. Buite die plek is twee jong manne vroegoggend besig om ’n vrag van ’n bakkie af te laai. Louw Wilken, ’n verkoopsman, en Roger Kotze, vloerbestuurder, is albei taamlik vars op Pofadder en sê hier is nie eintlik mense van hulle ouderdom nie.
“Ek is nou die dag kroeg toe met my o.20springbokbaadjie, want ek dag dan gaan almal mos met my wil gesels. Maar niks, nie ’n dooie woord nie. Ek gaan naweke maar Upington toe sodat ek tussen vriende kan kom,” sê Louw.
Dit is ’n stil plekkie, beaam Roger. “Maar dit is baie beter as ’n gegunskietery. Daar in die Kaap en Johannesburg gaan dit rof. Dis ’n vinnige lewe daai.”
Louw het op Upington grootgeword en Roger op Keimoes, en daarom sukkel hulle nie om in te pas by Pofadder met sy rustige leefstyl nie. “Ons van hierdie Noordkaaplikse wêreld is mos maar almal eintlik plaasmense. En ons het ook nie k— met mekaar nie,” sê Louw.
Daarom kan die boere oor boerdery, reën en jakkalse gesels wanneer hulle koöperasie toe kom. En as daar afslag gevra word? “Afslag! Watse afslag?” vra Roger. “Nee, nee, ons help waar ons kan. Eerder twee pare vellies vir R600 verkoop as wat een paar van R500 lê en stof vergaar.” >