Ontmoet die mense
Kally Ubisi Veldwagter
Kally leef en werk al 23 jaar – die helfte van sy lewe – in en om die Krugerwildtuin. Sy pa het ook hier gewerk en Kally het op die nabygeleë dorpies grootgeword. As ’n veldgids en veldwagter in die teenstropingseenheid het Kally al oral in die park rondbeweeg. In 2014 het hy hom op Skukuza kom vestig.
“Om hier te bly moet jy ’n liefde en roeping vir bewaring hê; as jy hier is om big bucks te maak, gaan jy nie eens ’n maand uithou nie,” sê hy. Stroping is natuurlik ’n teer saak; wat dit nóg moeiliker maak, is as vriende en kennisse betrokke raak. “Ja, ons veg ’n vyand in ons midde,” verduidelik Kally vasberade.
Hy het baie dierestories: In 2015 het ’n kreatiewe trop bobbejane byvoorbeeld geleer om aan inwoners se voordeur te klop. “Die bobbejane het die mense dopgehou, gesien hoe hulle klop en geleer dít is hoe jy ’n deur oopkry!”
Kally se gunstelingtyd is die begin van die lente en die somer wat daarop volg. “Alles raak lewendig: Die bome bot, die trekvoëls kom terug, die kleure is helder en daar is ’n geweldige diversiteit in die bos,” spog hy met sy blyplek. “’n Mens sien die rooivink, die goudgeelvink en die bosveldvisvanger, en jy hoor die piet-my-vrou roep... dan voel dit sommer soos somer.”
Banele Ngcobo Hoofmeisie by die Laerskool Skukuza
Banele is in gr. 7 en woon al 11 jaar op die dorp – albei haar ouers werk in die park. “Ons bly net hier, in huis nr. 15,” beduie sy in die straat af, “en ek stap soggens skool toe.”
Banele se gunstelingvak is tegnologie en sy wil eendag ’n siviele ingenieur word. Haar onderwysers kan nie uitgepraat raak oor dié jong meisie se vermoëns nie. “Ek hoop rêrig sy word eendag ons president,” sê juf. Hanrie Coetzee.
Maar in 2019 skuif sy na die Hoërskool Rob Ferreira op Witrivier. “Ek is skrikkerig vir hoërskool – ek wil nie eens daaraan dink nie,” sê sy, “maar gelukkig is my broer en suster al daar. Ek gaan die wild side van Skukuza mis!”
Wat maak Skukuza vir haar spesiaal? “Ons word omring deur diere. Die muishonde baljaar op die skoolterrein en leerlinge word gereeld in pouses deur ’n aap of bobbejaan gejaag. Vir my is dit opwindend!”
Sy sien wel daarna uit om naby ’n mall te wees, te gaan fliek en om ’n groot dorp se sosiale lewe te beleef. Op Skukuza hou sy haar besig met die Provita-klub (die kinderkerk op Woensdagmiddae), kooroefening en kuiers saam met vriende. “Ek verkies die somer, want dit raak laat donker,” verduidelik sy. “Ek en my maats kan heeldag speel.”
Frank Mathebula Busbestuurder
Frank werk al meer as 40 jaar in die wildtuin. Hy het in 1974 in die wasgoedafdeling begin – hy wys met trots sy aanstellingsbrief en ’n ou Id-boek – en ná ’n jaar in die stad het hy in 1977 as voertuigbestuurder ingeval. “Nou ry ek busse van hier na Nelspruit en terug. Ek vervoer gereeld kinders en gaan haal broodnodige onderdele en groceries vir die mense op Skukuza.”
Frank het ’n werkshuis op die dorp, maar sy familie woon net buite die wildtuin. “Ek het self my huis gebou en my tamatietuin staan al en wag vir my aftrede,” sê hy en glimlag breed. “My familie kom kuier gereeld oor naweke vir my, dan ry ons Berg-en-dal of Onder-sabie toe om leeus te kyk.”
Hier op Skukuza is dit veilig, sê Frank. “Hier is nie tsotsi’s nie en ons baklei nie met mekaar nie. As ons ’n probleem het, dan praat ons die saak uit en ons gaan aan. Ons werk goed saam.”